Die wonder en magic van stories skep vir TV en die grootskerm berus op ’n groot en diverse span, elkeen met ’n unieke en noodsaaklike rol en bydra vir die suksesvolle verfilming van ’n produksie.
Terloops het al dikwels agter die skerms gaan loer om te sien hoe produksies verfilm en geskep word. Daarom het ons besluit om lig te werp op nege interessante rolle waarvan kykers min (of dalk niks!) van weet nie.
Kontinuïteitsdepartement
Om kontinuïteit in ’n film of reeks te handhaaf, is noodsaaklik om te verseker dat die storie naatloos van een toneel na die volgende vloei. Hierdie departement hou noukeurige aantekeninge van elke detail in elke skoot.
Op ’n stel soos dié van White Lies is elke boek en blink afgemerk en afgeneem om seker te maak dat alles in dié mansion weer op die regte plek ná verfilming teruggesit is.
Van die posisie van props en die akteurs se bewegings, tot kleredrag en weersomstandighede – die kontinuïteitspan verseker dat daar geen inconsistencies is wat die kyker se onderdompeling in die storie versteur nie.
Dit is gewoonlik ook weens kontinuïteit dat akteurs nie in hul persoonlike tyd hul hare of naels drasties kan verander nie, veral as dit nie by hul karakter – en die kontinuïteit van daardie karakter – gaan pas nie. Toe akteur Marco Spaumer onlangs by Suidooster klaargemaak het, was hy opgewonde om vir die eerste keer in jare van sy snor ontslae te (kan) raak.
Verouderingsdepartement
Om realistiese verouderingseffekte vir karakters of props te gee, vereis meer as net ’n grimeerkwas. Die verouderingsdepartement spesialiseer daarin om akteurs ouer of jonger te laat lyk, afhangende van die behoeftes van die storie.
Hierdie span gebruik ’n kombinasie van prostetika, grimeer- en digitale effekte om plooie, grys hare, of selfs verjonging by te voeg. Sodoende word die karakters oortuigend oor verskillende tydperke getransformeer. Soms werk hierdie departement met akteurs, en ander tye is dit hul werk om klere en selfs meubels ouer te laat lyk.
As jy in ’n reeks soos Survivor ’n prop sien wat oud lyk en asof dit al jare gebruik word, dan is dit meeste van die tyd te danke aan hierdie afdeling binne die art department.
Greensman
Terwyl die stelversierders die meeste binnenshuis ontwerpelemente hanteer, is die greensman verantwoordelik vir al die plante en groenigheid op ’n stel. Of dit nou ‘n lush oerwoudtoneel is of ’n eenvoudige huisplant in die agtergrond, die greensman op groot produksies verseker dat elke stuk flora outentiek lyk en by die omgewing pas. Hulle is ook verantwoordelik vir die instandhouding van die plante en maak seker dat dit vars gedurende die verfilming bly.
Foley-kunstenaar
Klank is ’n kritieke element in film en televisie, en foley-kunstenaars het ’n baie belangrike rol. Hierdie kunstenaars gebruik ’n verskeidenheid props en oppervlaktes om alledaagse geluide te skep. Dit sluit byvoorbeeld voetstappe en deure wat kraak tot die geritsel van klere in. Hulle werk dikwels in post-produksie en voeg ’n ekstra laag by om die geluide so eg as moontlik te laat klink.
Hierdie vaardigheid word ook deesdae baie vir podcasts gebruik. Hulle kan die aanbieder byvoorbeeld laat klink asof hulle by die lughawe of binne ’n trein is, sonder dat hulle daar is.
Dierehanteerder
Dierehanteerders is verantwoordelik vir die bestuur van diere op stel, van perde en honde tot meer eksotiese diere. Op die stel van die gewilde Recipes for Love and Murder is daar natuurlik ’n dierehanteerder vir die beroemde hoenders!
Hulle lei en hanteer hierdie diere en verseker dat hulle die vereiste aksies veilig en menslik uitvoer. Dierehanteerders werk ook saam met die produksiespan om tonele wat diere insluit te beplan en te verseker dat alles glad verloop.
Spyseniering
Al is dit nie so glamorous soos sommige van die ander afdelings nie, is die spysenieringspan onontbeerlik op ’n filmstel. Hulle verskaf snacks, maaltye en drankies om die rolverdeling en span deur die lang ure van verfilming gelukkig en aan die gang te hou. Benewens net kosverskaffing, help hulle om die moraal hoog te hou… (#hangry)
Nog agter die skerms-stories
Dialekafrigter
Akteurs moet dikwels in aksente of tale praat wat nie hul eie is nie. Dít is waar die dialekafrigter inkom. Hierdie kundiges werk met akteurs om aksente te doen en maak seker dat hul spraak eg vir die kykers klink. Of dit nou ’n internasionale aksent of ’n meer plaaslike aksent soos die Kaapse taal op die stel van ’n telenovela soos Arendsvlei is, dialekafrigters is noodsaaklik vir oortuigende vertolkings.
Kosstilis
Wanneer kos op die skerm verskyn, moet dit lekker en visueel aantreklik lyk, en dit is die werk van die kosstilis. Hulle berei, rangskik en verbeter dikwels kos om dit kamera-gereed te maak. Deur tegnieke soos die gebruik van stoom om kos vars te hou of die vervanging van regte bestanddele met meer fotogeniese alternatiewe, verseker dié stiliste dat elke gereg perfek op die skerm lyk. Hulle is byvoorbeeld baie belangrik op die stel van ’n reeks soos Recipes for Love and Murder of Masterchef South Africa.
Godsdienstige raadgewers
In films en reekse wat spesifieke kulturele of godsdienstige kontekste het, is akkuraatheid en sensitiwiteit baie belangrik. Dit is waar godsdienstige en kulturele raadgewers inkom. Hierdie kundiges gee noodsaaklike leiding oor rituele, taal, kleredrag en sosiale norme om te verseker dat uitbeeldings respekvol en outentiek is.
Hulle werk saam met die skrywers, regisseurs en akteurs om stereotipes en onakkuraathede te vermy, en help om ’n meer waarheidsgetroue narratief te skep. Hul insette kan wissel van advies oor die korrekte manier om ’n godsdienstige seremonie uit te voer tot die versekering dat dialoog kulturele nuanses weerspieël. Hierdie rol sal jy veral op stelle soos Suidooster vind, waar diverse storielyne vertel word en meer as een gemeenskap uitgebeeld word.