Menu terloops
In Features [1 Mar 2024]

‘White Lies’: Kom saam agter die skerms van nuwe plaaslike misdaadreeks


Lank voordat die kameras begin rol of die akteurs ’n voet op stel sit, is daar verskeie ander spanne wat die grondslag vir ’n TV-reeks lê. Só ook dan vir ‘White Lies’, M-Net se nuwe misdaaddramareeks, waarin die gesoute en bekroonde plaaslike akteur Brendon Daniels, asook die ‘Game of Thrones’-aktrise Natalie Dormer hoofrolle vertolk. Ons neem jou agter die skerms.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
‘White Lies’: Kom saam agter die skerms van nuwe plaaslike misdaadreeks
Kyk lokprent

Is jy reg vir die waarheid? Dít is die groot vraag wat M-Net aan kykers stel in die aanloop tot hul nuwe sterbelaaide misdaaddramareeks, White Lies. Dié reeks, met groot name in die indrukwekkende rolverdeling, word vanaf 7 Maart 2024 uitgesaai. 

Die boeiende Games of Thrones– en The Hunger Games-ster, Natalie Dormer, is daarin as Edie Hansen te sien. Edie is ’n ondersoekende joernalis wat vanaf die duur woonbuurte in Constantia tot die armste woonbuurte op die Kaapse Vlaktes ondersoek instel nadat haar vervreemde broer en sy vrou in ’n huisaanval vermoor is. Die verdagtes? Hul dogter en seun.

Edie ontmoet ook speurder Forty Bell, vertolk deur Brendon Daniels van Four Corners en Trackers, wat sy álles inploeg om hierdie raaisel op te los. 

Hulle kan nie meer van mekaar verskil nie. Een woon immers in ’n mansion by die see, terwyl die ander in ’n nederige huis op die Kaapse Vlaktes woon. Maar tog is hulle in wese meer dieselfde as wat hulle dink.  

terloops het agter die skerms op stel gaan loer om te sien hoe die wêreld van White Lies, ’n ko-produksie tussen M-Net en HBO, geskep is.

Ons gesels met die reeks se produksie-ontwerper, Rocco Pool, asook Natasha Rees-Davies, die hoof van die hare- en grimering-afdeling, om vir kykers ’n idee te gee van wat alles op stel gebeur voordat hulle aan ’n reeks soos White Lies begin skiet. 

Rocco het al op talle projekte as produksieontwerper of hoof van die kunsafdeling gewerk, waaronder Gaia, Recipes for Love and Murder, Kanarie, Waterfront en Spinners. Natasha het ook meer as twee dekades se ondervinding in die advertensie- en filmbedryf.  

White Lies, Natasha
Natasha Rees-Davies op die stel van White Lies. Foto: Verskaf
Rocco Pool, White Lies
Rocco Pool is White Lies se produksie-ontwerper. Foto: Verskaf

Waar begin die reis van so ’n projek vir jul afdelings? 

Rocco: “Vir ’n projek van hierdie skaal is daar ’n aansienlike hoeveelheid voorbereidingswerk. My voorbereiding het begin ongeveer drie en ’n half maande voordat ons begin verfilm het. Ek het in Desember (2022) by die span aangesluit vir my aanvanklike ontwerpvergadering met die wonderlike John Trengove (reeksregisseur), vir wie ek baie respek en bewondering het. (Verfilming het in Maart 2023 begin.)

“Sodra ons ons idees het en op ’n visie besluit het, begin ons om potensiële locations te soek. Dit was nogal ’n unieke uitdaging omdat die huise en woonbuurte so ’n deurslaggewende rol speel, nie net in die plot en die polisiesaak nie, maar ook omdat dit betekenis en metafore vir mense en gemeenskappe geword het. Ons moes daarom in werklike huise en voorstede verfilm, eerder as om stelle te bou of ateljees te gebruik. Dit gee ’n meer egte gevoel aan die hele produksie.”

Natasha: “Oor die algemeen kry ons ongeveer drie weke se voorbereiding vir ’n kontemporêre TV-reeks. Heel eerste lees ek die draaiboek en ontmoet ek die regisseur en vervaardigers om meer uit te vind oor hul visie vir die look en feel van die produksie. Met kontemporêre shows wys die kostuum die toon aan, en is dit die grimering- en hare-departemente se werk om die voorkoms aan te vul sonder om dit te overpower.” 

Hoe voeg jul departemente se werk nog ’n dimensie by tot die vertelling van die storie?

Rocco: “My doel is altyd net om te help; om lewe aan die karakters te gee. Dit is ’n manier om die gehoor subliminaal in te lig oor die karakter. Soms gee dit een of ander agtergrondstorie weg wat nie andersins vertel word nie. Sommige dinge word nie gesê nie, maar daar sal visuele leidrade wees. Van ’n location keuse, na die kleurpalet en die soort voertuig wat ons vir ’n karakter kies – alles sê iets.”

Natasha: “Ons moet karakters skep wat verband hou met die kyker, sodat hulle verlief kan raak op ’n karakter. Soms gee die hare en grimering ook ’n leidraad weg oor die karakter. Dit wys soms dat daar dalk meer is om te ontdek as wat ons op die oog af kan sien.”

Wat is die belangrike dinge wat jy in ag neem wanneer jy ’n stel beplan? Wat is die stel se doel wat die vertelling van die storie betref? 

Rocco: “Die stel moet die gehoor inlig oor meer as net die omgewing. Dit moet vir jou sê wie die persoon is met wie jy te doen het. Edie se woonstel en die McKenzie-huis het heeltemal verskillende gevoelens wat hulle binne jou wakker maak, omdat die mense wat daarin woon so verskillend is, al is hulle familie. Speurder Bell se huis vertel ons van sy karakter as ’n gesinsman eerder as die polisiebeampte wat ons by die polisiestasie sien.

“Dit is ook belangrik om te onthou dat ’n wide shot 90% van die raam op stel vul. Alles kan en sal gesien word, so moenie kortpaaie neem nie en probeer om nie te veel te compromise nie. Maar die storie kom eerste! Probeer om nie die kyker se aandag af te lei van wat in die storie gebeur nie.”

Hoeveel tyd spandeer akteurs oor die algemeen in die stoel?

Natasha: “Ongelukkig is tyd nie ’n luuksheid wanneer dit kom by die voorbereiding van akteurs kom nie. Dit is my werk om so vinnig as moontlik te wees en om te verseker dat akteurs betyds is. Grimeertye in die stoel wissel van 15 minute tot ’n uur en ’n half. En glo dit of nie, ons leading lady het nie die langste tyd in die grimeerstoel nodig gehad nie!”

Jul departemente stel die toon en is die hart en siel van baie produksies. Wat is ’n paar algemene goed wat kykers dalk nie besef oor jul werk nie?

Rocco: “Soms weet mense nie dat ons bestaan ​​nie en neem hulle aan dat die stelle in die werklike lewe so lyk. Dit kan ’n double-edged sword wees, want dit kan voel asof ons onderwaardeer word, maar dit kan ook beteken dat ons ons werk baie goed gedoen het. Die ure kan nogal taxing wees. Ons is dikwels die eerste mense op stel en die laaste om huis toe te gaan. As dit nie ’n akteur is nie, is dit waarskynlik ons ​​verantwoordelikheid.” 

Natasha: “Ons departement en ruimte kan soggens die toon aangee vir ’n akteur. Dit is waar hulle dag begin, goed of sleg. Dit is ons werk om seker te maak dat wanneer hulle ons ruimte verlaat, dat hul dag met die regte toon begin. Hulle moet selfversekerd in hul karakter voel. Hulle moet weet dat die dinge waaroor hulle nie beheer op stel het nie, veilig in jou hande is.” 

White Lies
Op die stel van White Lies. Foto: Verskaf

Watter rolle is daar in die kunsafdeling en sou jy sê jou departement het meer werk voor of tydens produksie?

Rocco: “Daar is ek, die produksie-ontwerper, wat die algehele visuele voorkoms van die reeks moet uitdink. Dit word nie net weerspieël in location keuses en meubelstukke nie, maar ook die kleurpalet, props, voertuie en basies alles wat nie ’n mens of klerestuk op skerm is nie.

“Dan is daar ’n kunsregisseur wat verantwoordelik is om seker te maak dat al die elemente volgens die visie saamwerk. Hulle is ook in beheer van baie van die administratiewe take.

“Die stelversierder bestuur die stel-span. Hulle het die verantwoordelik om ’n bestaande huis en sy meubels in ons visie te verander.

“Die props-meester bestuur die props-afdeling en hanteer alles waarmee die karakters interact. Van glase water tot pistole, rekenaars en selfs die voertuie.

“Ons het ook stel-standbys wat seker maak dat alles op stel glad verloop en dat alles reg is vir kontinuïteit. Ons werk ook baie nou saam met die SFX (spesiale effekte)- en stunts-spanne.”

Hoe berei jy ’n stunt double voor om by die akteur te pas?

Natasha: “Die moeilikste gedeelte is vir die stunt-koördineerder om ’n stunt double te kry wat by die basiese bou, hoogte, ras en voorkoms van die akteur pas. Van daar af is die res smoke en mirrors. Ons verander hul hare om by die akteur te pas. Soms verander ons hul eie hare en soms is dit ’n pruik. Stunt doubles beweeg vinnig en as jy hul gesig op die skerm sien, is dit nie die akteur nie. Hulle is net lookalikes wat ons geskep het.” 

Wat staan ​​vir julle uit wanneer dit by jul werk op die stel van White Lies kom? 

Rocco: “Meer as net die werk, die ontwerp en die storievertelling is dit die collaboration saam met ander eendersdenkende kreatiewe mense. Dit maak alles die moeite werd.”

Natasha: “Ons was ’n klein, maar ongelooflike span, net drie mense. Vir die meeste dae was dit okay, maar elke nou en dan moes ons regtig die spoed verhoog om seker te maak ons ​​cast was betyds en gereed om te skiet.” 


White Lies word vanaf Donderdag, 7 Maart 2024, om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) asook DStv Stream uitgesaai. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies