Ná sewe jaar in die rol van dr. Annelize Roux op die kykNET-sepie Binnelanders, asook haar verskyning in die tweede seisoen van Magda Louw as Gertrude, vertolk die altyd-briljante aktrise Cindy Swanepoel ’n karakter wat wêrelde verwyder is van haar vorige werk. In Showmax se nuwe Afrikaanse dramareeks, Koek, speel Cindy ’n beige huisvrou wie se lewe handomkeer verander as sy as ’n ontkleedanser (moet) begin werk.
Rozanne Els het met haar oor haar rol as Christelle Smith in Koek gesels.
In ’n neutedop, as jy vir iemand uit ’n motorvenster in die verbygaan sou skree, waaroor gaan Koek?
“Ek sou sê, sit jou sitplekgordel aan, want Koek is ’n resep van humor, drama, aksie en ’n klomp karakters wat deur ’n helse tyd gaan! Dis geskryf deur Christiaan Olwagen, so dit is ’n fantastiese storielyn en ek dink dit is iets wat ons nog nie in hierdie land gesien het nie.”
Wie is jou karakter as ons haar aanvanklik ontmoet?
“Christelle Smith is ’n ma en ’n vrou vir haar man. Sy het haarself lankal in die proses verloor; sy doen alles vir haar familie. Sy is maar net jou average Jane, maar sy soek meer uit die lewe uit. Dan, een oggend, gebeur daar iets en haar hele lewe verander handomkeer.”
Christelle ondergaan ’n geweldige metamorfose – hoe sou jy daardie verandering en groei beskryf? En hoe gemaak om haar transformasie as realisties en geloofwaardig, maar ook met humor uit te beeld?
“Christelle se verandering en groei is definitief iets wat met haar gebeur het;dis nie iets wat sy laat gebeur het nie. Al hierdie goed gebeur met haar and she just has to go with it. Haar groei gebeur eintlik eers later in die reeks wanneer sy werklik weer haarself vind. Maar daardie verandering gebeur deur vreeslik baie emosionele onstuimigheid. Ons het die heeltyd op stel gegrap en gesê, “hulle gaan deur ’n helse tyd”, sy en haar sussie. Elke nuwe toneel is soos ’n ander vlak van “ ’n helse tyd” waaronder hulle gebuk gaan.
As aktrise voel ek dat ek baie gegroei, en baie geleer het. Ek is nederig en dankbaar. Wat ’n seëning.
Cindy Swanepoel
“Ek voel alles in die lewe is maar eintlik humoristies. Alles kom van tragedie af en dan maak jy dit snaaks. So as dit nie as gevolg van al hierdie moeilike situasies was nie, sou dit nie snaaks kon wees nie. Dis die absurditeit van als wat met Christelle gebeur wat dit snaaks maak, en hopelik kon ek dit so uitbeeld. Jy hoef nie eintlik eers die humor te speel nie, juis omdat die situasie so verskriklik absurd was.”
Kon jy maklik by Christelle aanklank vind? Wat was jul raakpunte, en hoe verskil julle?
“Ja en nee. Ek kon maklik by Christelle aanklank vind, want ek het die karakter op my suster gegrond – sy’s ’n ma en sy is ’n vrou vir haar man en sy doen alles vir haar familie. Ek het net die heeltyd gedink, ‘wat sou sy gedoen het as al hierdie goed met haar sou gebeur het?’ want ek sou dit definitief anders benader het. Ek en my suster is baie dieselfde, maar ons is ook glad nie dieselfde nie. Daar was dus raakpunte en ook nie.”
Hoe het jy vir die rol voorberei – beide vir die fisieke en emosionele aspekte van die rol?
“Ek het die hele teks mooi deurgelees om presies te verstaan van waar Christelle kom en waarheen sy gaan – ek dink dít is die belangrikste. En dan het ek in die oggende, elke oggend, gesels met Marié (van Wyk) wat ongelooflik met kontinuïteit is, en dan sal ons praat oor waar ek net voor daardie toneel was, en waarheen ek op pad is, sodat ek nie dieselfde vlak van emosie die heeltyd gee nie. Dít was vir my die grootste uitdaging; ek kan nie elke keer skree nie, ek kan ook nie elke keer myself jammer kry nie. So dit gaan oor die vlakke van emosies en dít was vir my die grootste uitdaging. As dit nie vir kontinuïteit en ons regisseur (Johannes Pieter Nel) was nie, sou ek baie gesukkel het. Ons het baie goeie leiding gekry.
“Verder gaan dit net vir my om die waarheid wat op die papier is, te speel. Om dit uit te beeld.
“Emosioneel – ek dink jy is maar die heeltyd gedurende hierdie proses op ’n emosionele plek. Ek dink nie ek het ooit rêrig uit dit gekom tot omtrent ’n maand nadat ek geskiet het nie, want dit affekteer jou verseker. My verloofde sal ook vir jou sê dit het hom ook affekteer! (lag)
“Fisiek – ons het ’n paar lekker aksie-goeters gedoen, maar niks wat darem te uitdagend was nie. Ek is darem lekker fiks, so ek reg vir enige tipe aksierol.”
Wat staan vir jou as hoogtepunte van die projek uit?
“Daar is eintlik ongelooflik baie hoogtepunte. Ek weet nie eintlik waar om te begin nie. Vanaf dag een was ek in die diepkant gegooi. Elke liewe dag was vir my ’n uitdaging gewees. Elke liewe dag op stel. (lag) So ek sou sê Koek was ’n hoogtepunt!
“Ek wou ook nog altyd iets gedoen het waarby Christiaan Olwagen betrokke is en om ’n hoofrol te speel in ’n reeks wat so oorspronklik en anders en astrant is, was vir my so ’n massiewe voorreg gewees. Dit sal vir ewig by my bly. As aktrise voel ek dat ek baie gegroei, en baie geleer het. Ek is nederig en dankbaar. Wat ’n seëning.”
Wat was nuut van hierdie ervaring vir jou as akteur?
“Daar ongelooflik baie uitdagende tonele en elke dag was rêrig vir my ’n moewiese uitdaging gewees. Goed wat ek nog nooit gedoen het op stel nie. Ek moes dans, ek moes om ’n paal dans, ek moes verskriklik baie huil en uit-freak, en die uitdaging vir my was om dit net nooit dieselfde te doen nie; om die karakter interessant te hou en haar nie irriterend te maak nie. As jy heeltyd op ’n sekere vlak van emosie is, is die grootste uitdaging om haar nie die heeltyd op dieselfde plek te plaas nie, en om elke dag ’n nuwe energie te bring en eerlik aan die teks te wees.”
Wat was jou ervaring van die produksie as geheel? Van Johannes Pieter Nel se regie, pre-produksie, die grimering en kostuums?
“Ek was darem bevoorreg om saam met Johannes te werk op Magda Louw, so ons het klaar darem ’n bietjie van ’n gevoel vir mekaar gehad. Johan vertrou ’n mens; hy laat jou jou ding doen, maar hy is ook daar as jy enige vrae het. Hy sit jou nie in ’n boksie nie; hy laat jou speel. En dít is vir my baie belangrik van ’n regisseur – hulle moet jou kan vertrou. En as jy vra het oor ’n teks – hy sal sit en dit met jou bespreek. Ek het baie respek vir hom. Hy maak pragtige prentjies.
“Ons het rêrig – en dis so cliché – maar ons het ’n familie in ’n kort tydperk geraak. Ek was baie lief vir grimering, hulle is ongelooflik talentvol. Die kostuumdepartment het net presies geweet wat hulle doen om vir Christelle daai beige tipe persoonlikheid te laat uitbeeld (lag). Dít het als baie maklik gemaak om net te kon speel. Alles was daar en reg, en die hele span is ’n professionele klomp mense. Rêrig net happy mense ook. Dit was absolute spanwerk gewees.
Ek wou ook nog altyd iets gedoen het waarby Christiaan Olwagen betrokke is en om ’n hoofrol te speel in ’n reeks wat so oorspronklik en anders en astrant is, was vir my so ’n massiewe voorreg gewees. Dit sal vir ewig by my bly.
Cindy Swanepoel
Die cast list is ’n ellelange lys van plaaslike talent – was daar iemand met wie jy besonder lekker saamgewerk het? Dalk iemand met wie jy nog altyd wou werk en nou die kans gekry het? Of ’n on-set reunion van ’n aard?
“Ashley de Lange het my sussie gespeel en ek kon nie vir ’n beter aktrise gevra het nie. Sy is die beste spanmaat waarvoor ’n mens kan vra. Ashley is rêrig ’n ongelooflike talent. Ek het haar verskriklik, verskriklik lief gekry. Veral met die tipe tonele wat ons moes deel. Ek onthou toe ek die teks gelees het, was ek nogals half angstig oor wie my sussie gaan speel omdat dit so ’n massiewe reis is wat ek saam met hierdie persoon moet deurgaan.
“Ashley is ongelooflik ondersteunend. Daar is iets regtig spesiaal aan haar. Sy’s amper soos ’n old school-aktrise en sy’s nog so jonk. Ek sal altyd haar lof besing! Ek is so dankbaar dat dit sy was. Sy het my lewe baie makliker gemaak. Ons het die een dag ’n verskriklike moeilike toneel geskiet en Ashley was net daar. Ek sal vir ewig aanhou praat oor hoe dankbaar ek vir haar is.
“En dan, natuurlik, Sandra Prinsloo. Ek wou nog altyd saam met haar gewerk het. Sy is so professioneel en sy het nooit gekla nie, en sy is altyd daar vir notas. Ek het regtig so baie by Sandra geleer. Wat ’n nederige, pragtige mens. En dan natuurlik, as ’n aktrise, net so verskriklik professioneel. En kind.
“En dan my ou vriend, Jacques Bessenger. Ons het jare laas saamgewerk – ons het destyds saam kinderteater gedoen. So om hom weer op stel te hê… Ons het so verskriklik gelag. So gelag!
En Llandi Beeslaar, jissie, wat ’n talent!
“Die name en die akteurs en die professionaliteit en die vreugde – ek is net rêrig baie, baie dankbaar.”
Die misdaadkomedie Koek is nou op Showmax beskikbaar om te stroom, met nuwe episodes wat weekliks op Donderdae vrygestel word.