Menu terloops
In Onderhoude [15 Jul 2024]

Amor Vittone terug op TV, delf diep vir ‘Diepe Waters’-rol


It’s been a while… Maar Amor Vittone is terug op die kassie as ’n vrou met ’n leë nes en ’n hartsbegeerte vir liefde in ‘Diepe Waters’. Sy is vanaf Woensdag, 17 Julie 2024, in die rol van Letitia te sien.

Sien vir Amor in 'Diepe Waters'

Amor Vittone terug op TV, delf diep vir ‘Diepe Waters’-rol

Amor Vittone is weer voor die kameras – hierdie keer as ene Leticia, ’n eensame vrou wat Sanet (Nadia Valvekens) en Ben (Eric Bouwer) se lewe in Diepe Waters kom deurmekaar krap.

Vertel ons meer van Leticia, jou karakter in Diepe waters.

“Leticia is ma van twee dogters, maar hulle is op universiteit, en sy het ’n leemte in haar lewe. Sy het twee mans verloor en voel of sy iewers soek om te behoort. Sy het Johannesburg toe getrek en by die kerk aangesluit, en dít is hoe sy vir Sanet ontmoet het.

“Al wat Leticia in haar lewe soek, is liefde. Sy is broos en soek nie aandag nie, maar wanneer sy dit kry, is sy oorweldigend. Sy wys haar emosies en huil wanneer sy wil.

“Leticia het nie ’n lelike kant aan haar nie en sal vinnig jammer sê wanneer sy iets in ander mense se oë verkeerd gedoen het. Sy is sag en vriendelik, maar kan soms die lyn oorskry en té vriendelik wees.”

Hoe sou jy Leticia se vriendelikheid beskryf? Is sy ’n flirt?

Flirt is een van daardie woorde wat maklik verkeerd gebruik kan word. Hierdie tipe flirt wat Leticia doen, is nie oorweldigend nie. Sy weet sy is mooi, al is sy in haar vyftigs met ’n paar plooitjies, en sy weet sy het mooi borste wat sy graag wys, maar sy doen dit smaakvol.”

Het jy jou eie geheime wanneer dit by flankeer kom?

“Ek het nie eintlik geheime oor flirt nie. As die skoenlappers in jou maag of jou hart wakker word, is dit asof mens bietjie meer selfvertroue het om dinge te sê en doen wat jy dalk nie onder normale omstandighede sou sê of doen nie. Dalk het ek ge-flirt toe ek jonger was. Deesdae is ek meer spontaan.”

Wat het jy die meeste van die karakter geniet?

“Die feit dat sy baie anders is as Zelda, die karakter wat ek in 7de Laan gespeel het.

“Leticia is broos, en ek het geniet om dieper te delf om by die karakter uit te kom. Dit is ook ’n plesier om teenoor mense te speel wat hulle ding ken. Nadia Valvekens (Sanet) en Eric Bouwer (Ben) is briljant, en dis lekker om daardie energie te kry wanneer jy voor die kamera is.

“Ek het ook die telenovela-formaat geniet omdat alles nie die hele tyd in ’n ateljee afspeel nie.”

Die lewe gaan in ’n blits verby. Waardeer elke oomblik van elke dag. Lag as jy moet lag en huil as jy moet huil.

Amore Vittone oor haar grootste lewensles

Leticia sukkel met eensaamheid. Wat is jou raad aan mense wat ook daarmee sukkel?

“Dis belangrik om oor jou gevoelens te praat. Wanneer ek oor iets praat wat my pla, gewoonlik met my ma, susters of vriendinne, help dit beslis. Vra vir hulp as jy dit nodig het.

“En met eensaamheid is dit soms dat jy nie genoeg vir jouself doen nie. Gaan eet middagete saam met vriendinne, gaan stap, laat jou naels doen.

“Ek dink dit is ook belangrik om jou omgewing te verander – iets eenvoudigs soos om ’n plant te koop of jou meubels te skuif. Sluit by ’n klub aan soos Leticia, wat by Nuwe Nes aangesluit het, en ontmoet nuwe mense.”

Wat is die grootste lewensles wat jy geleer het?

“Moenie reageer op iets in die oomblik wanneer jy dalk iets gaan sê wat verkeerd opgeneem kan word of waaroor jy jammer sal voel nie. Dink eers daaroor en reageer dán. Soms is dit selfs nodig om net stil te bly.

“Dan ook: moenie jouself te veel kritiseer nie. Die lewe gaan in ’n blits verby. Waardeer elke oomblik van elke dag. Lag as jy moet lag en huil as jy moet huil.”

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

“Ek wil nog werk as aktrise doen. Ek wil graag weer nuwe musiek uitbring. En dan hou my AV-juwele my besig, en ek geniet elke oomblik. Maar al my planne gaan om my kinders en dit wat hulle wil doen. Al is hulle 18 en 20, is hulle steeds my eerste prioriteit.”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies