Hy kon skaars die trane keer toe hy as die wenner van die realiteitsreeks Plaasjapie se tweede seisoen aangewys is. Blue Kester vertel meer oor sy transformasie van stadsjapie na dankbare plaasjapie.
Is jou naam werklik Blue of is dit iets wat oor tyd ontwikkel het?
“My regte naam is Llewelyn Kester. Ek het jare gelede my Facebook-naam verander na Llewelyn Blue Kester omdat ek ’n groot aanhanger van Beyoncé is. Haar dogter se naam is Blue Ivy. Na ’n tyd het vriende my Blue begin noem.
“Met my eerste reality show, Trap! Dis My Huis op Via, het almal my geken as Blue omdat ek die naam in die reeks gebruik het. Na die show het ek al my social media verander na Blue Kester. En dis hoe almal my deesdae ken.”
Jy het van meet af aan gesê jy wil nie regtig op ’n plek sonder gerief en selfoonontvangs wees nie. Hoe lank het dit gevat voordat jy sonder jou selfoon kon funksioneer?
“Ek het baie gou vergeet van my phone. Toe ek sien hoe die ander spelers rondom my begin plannetjies maak en bondgenootskappe begin vorm, het ek vir myself gesê ek moet my kop in die game kry – vergeet van die buitewêreld en begin fokus op die game. Ek dink ná die tweede of derde dag, toe was my phone iets waaraan ek glad nie gedink het nie. Dit was verbasend baie gou omdat ek normaalweg nie sonder my phone kan klaar kom nie.”
Hoe was die eerste dag op die plaas vir jou?
“Ek dink die eerste dag was die maklikste op die plaas vir my. Ons was nuut en opgewonde en het uitgesien na wat voorlê. Niemand het juis gedink aan planne en bondgenootskappe nie en ons het net gewerk en seker gemaak alles op die plaas is gedoen. Dis natuurlik ook die tyd wat ons gebruik het om mekaar te leer ken.”
Blue is deur medeplaasjapies as ’n manipuleerder van formaat beskryf. Is dit die ware Blue of is dit hoe jy besluit het om die spel te speel?
“Daai was 100% Game Blue. Ek het vroeg vir myself gesê ek gaan met my mind speel en nie met my hart nie. Ek moes die game strategies hard speel omdat ek geweet het ek is nie ’n fisiese threat nie. Vir my was dit ’n saak van ‘as jy nie sterk is nie, moet jy slim wees’. En ek het alles in my vermoë gedoen om die kompetisie te outsmart.
“Baie mag dalk nie saamstem met hoe ek die game gespeel het nie, maar dit het my veilig gehou Koöperasie-kuier ná Koöperasie-kuier en het my gevat tot in die top-3 wat dit moontlik gemaak het om te wen. En daarvoor is ek dankbaar.”
Watter plaasjapie se omarming van die plaaslewe het vir jou uitgestaan?
“Vir my sal dit definitief Zanie wees. Sy is uit en uit ’n ystervrou en het op elke plaas haar deel gedoen, en meer. Vir my het sy regtig die plaaslewe geleef en haar alles gegee om seker te maak die werk op die plaas is gedoen. Ek dink nie enigeen van die ander plaasjapies kan ’n koei melk soos Zanie nie.”
Wie, volgens jou, was jou sterkste kompetisie om met die prysgeld weg te stap?
“Ek glo elkeen van die ander plaasjapies was groot kompetisie vir my. Net soos ek daar was vir ’n rede, was hulle elkeen daar vir ’n spesifieke rede, en hulle redes was net so belangrik soos myne. Dit het hulle net so gemotiveer om hard te speel om te probeer wen. So, ek het hulle elkeen gesien as groot kompetisie.”
Het jy vriende gebly met van die Plaasjapie-deelnemers?
“Ek is nog gereeld in kontak met Monique, Milandie en Anelda. Ons vier gesels nog gereeld en lag gereeld oor die plaaslewe en wat ons alles deurgemaak het. Hulle drie is ook van die plaasjapies wat my gereeld moed inpraat as die social media reaksies so erg word en mens so sleg gesê word op Facebook en Instagram. Alhoewel ek nie baie met die ander gesels nie, is daar geen kwade gevoelens van my kant af vir enigeen van hulle nie. En ek hoop daar is geen kwade gevoelens van hulle kant af teenoor my nie.”
Wat was vir jou die moeilikste tyd tydens die reeks? En ook die snaaksste tyd?
“Die moeilikste tyd van die reeks was definitief vir my die mental uitputting waardeur jy gaan . . . Die feit dat jy altyd wonder of jy ander kan vertrou en die planne wat jy moet uitdink net om nog ’n dag op die plaas te kan wees, veral as julle ’n uitklop-uitdaging verloor het.
“Vir my was dit ook om uit my eie kop te kom en te glo dat ek kan wen. Vir lank het ek maar getwyfel in myself en nie geglo ek kan wen nie.
“Riaan het met sy huis toe gaan vir my gesê, toe hy my groet, ‘Nou is die pad oop vir jou’, en dit was asof daai woorde die wengees aangeswitch het in my. Ek het van daai aand vir myself gesê miskien kan ek wen. En ek het dit geglo en gespeel met die doel om te wen.
“My snaaksste oomblik was om die shocked gesigte te sien toe ek veilig is gedurende die kook-uitdaging. Niemand het verwag dat ’n slaai die beste gereg van die dag gaan wees nie. Wel, niemand seker behalwe ek nie, want daai slaai was amazing! En ek het definitief geglo dit staan ’n baie goeie kans om te wen.”
Was dit maklik om weer by jou gewone roetine in te skakel na afloop van die reeks?
“Ek moes vir ’n paar dae eers af vat om mentally weer in die real life te kan inskakel en weer soos normaal aan te kan gaan. Dit was self moeiliker omdat ek geweet het ek het gewen en ek kon dit vir niemand sê nie. Ek dink dit was die moeilikste gedeelte van alles.”
Sal jy weer aan ’n werklikheidsreeks wil deelneem?
“Definitief! Ek lewe vir werklikheidsreekse en sal dit definitief weer doen. Ek oorweeg dit reeds om vir een in te skryf wat op Netflix gaan wees, maar ek dink nog daaroor. En natuurlik is dit my groot droom om miskien eendag vir Survivor in te skryf. So wie weet, miskien kan ek eendag sê ek het meer as een werklikheidsreeks gewen.”
Wie is Blue as hy by die huis is?
“Blue is uit en uit ’n home body. Dit help ook nie veel nie dat ek van die huis af werk nie. So, ek spandeer baie tyd by die huis tussen die vier mure.
“In my vrye tyd sal ek ook tyd spandeer voor my laptop met Netflix en opvang met een of ander werklikheidsreeks. Ander tye sal ek in my kar klim en lang tye langs die beach deurbring en maar rond-scroll op social media. Ander tye sal ek uithang met vriende en uitgaan en bietjie pret hê. Dis maar wie Blue is.”
Wat gaan jy met die prysgeld doen?
“My grootste rede hoekom ek ingeskryf het was om vir my ma en ouma ’n gemaklike lewe te kan gee, en dis waarvoor ek die geld gaan gebruik.
“Ek wil heel eerste vir hulle op ’n welverdiende eerste familie vakansie vat en hulle spoil. Dan renovations klaarmaak aan die huis wat ek begin het en nooit kon klaarmaak nie. Vir my oupa ’n grafsteen opsit omdat hy nie hier is om te sien wat ek bereik het nie.
“Die lys is lank vir wat ek wil doen. Ek wil dan ook graag my broer help om sy motorlisensie te kry, wat hom in staat sal stel om gouer ’n werk te kan kry. En dan die res te belê en myself ook ’n bietjie te spoil, want ek verdien dit.”
Die tweede seisoen se episodes is tans nog op DStv Catch Up beskikbaar.