Menu terloops
In Recaps & Resensies [9 Jul 2024]

Die onverbiddellike houvas van Jake Gyllenhaal se ‘Presumed Innocent’


‘Presumed Innocent’, ’n nuwe misdaadreeks op Apple TV+ met Jake Gyllenhaal in die hoofrol, is ’n rit deur troebel waters van geregtigheid en verraad – ’n rit wat jy eerder nie moet misloop nie.

Deur Herman Eloff
Die onverbiddellike houvas van Jake Gyllenhaal se ‘Presumed Innocent’
Kyk lokprent

Twee dinge wat ek sonder twyfel weet: Eerstens, Apple TV+ se reekse en flieks is sinoniem met gehalte. Tweedens; Jake Gyllenhaal maak uitstekende loopbaankeuses. Soos 1+1, is die som van wat gebeur as ’n mens geliewe Jake en Apple TV+ bymekaar voeg ewe eenvoudig. Presumed Innocent boei op ’n onverbiddellike manier; ’n meëdoenlose houvas wat kykers aan die strot gryp. 

’n Goeie misdaadriller is iets waarop sowel tradisionale TV-uitsaaiers as streamers redelik maklik gamble – dié genre se TV-kykertalle is immers histories hoog –  en Presumed Innocent, geskep deur die über-suksesvolle David E. Kelley (Big Little Lies, Anatomy of a Scandal), en gegrond op Scott Turow se gelyknamige topverkoperboek, deliver. En behoorlik. 

Die premis

Gyllenhaal is te sien as ’n staatsaanklaer in Chicago, Rusty Sabich, maar wat as ’n gewone hofdrama begin, word gou op sy kop gekeer as Rusty die hoofverdagte in die grusame moordsaak van ’n medewerker word. Dís ’n vinnige ommeswaai – binne die eerste paar minute van die loodsepisode bars die eerste bom. Die kyker het kwalik tyd gehad vir gemaklik raak voordat ’n knaende kriewelgevoel begin pla. Nee, hier is alles beslis nie soos dit voorkom nie. 

Rusty en sy gesin se lewens word dan in chaos gedompel as die moordondersoek ongemaklike onthullings blootlê. Geraamtes in die kas wat toenemend moeiliker raak om weg te verduidelik.

Die vertelling se stoere pas skep ’n meesleurende raaisel-reis wat jou maklik, sonder weerstand, inkatrol. Elke episode sien hoe die pendulum tussen skuld en onskuld swaai. Dit is juis dié spanning, dié kruks van onsekerheid en ontwykende antwoorde, wat dié reeks in ’n stampvol genre verhef.

Raai, raai, riepa…

Kykers wat reeds met die storielyn vertroud is, hetsy vanweë die boek of vorige verwerkings, sal waarskynlik nie dieselfde tuimeltreinrit van emosies ervaar as iemand wat met Presumed Innocent vir die eerste keer met dié storie kennis maak nie. Die blywende en deurlopende, “Het hy?” of, “Het hy nie?” is immers deurslaggewend vir Presumed Innocent se bekoring. Iets wat net nie dieselfde trefkrag het as jy reeds van al die spoilers weet nie…

Gyllenhaal, wat ook ’n uitvoerende vervaardiger op die reeks saam met J.J. Abrams is, se spel hou die kyker deurentyd aan die raai. Selfs voordat enige leidrade oor die moord onthul word, lê daar ’n subtiele ongemak in sy vertolking. Jy kan nie anders as om heen en weer te gaan oor of jy sy karakter se bekentenisse en verduidelikings glo of nie.

Presumed Innocent
O-T Fagbenle en Peter Sarsgaard maak jag op Jake Gyllenhaal se karakter in Presumed Innocent. Foto: Verskaf

Peter Sarsgaard, Gyllenhaal se swaer in die werklike lewe, vertolk die rol van Tommy Molto, wat die hofsaak teen Rusty lei. Weereens word ’n karakter in misterie gehul. Dit is nie dadelik duidelik of Tommy se bedoelings suiwer is en of hy iets teen Rusty het nie. Sy verhouding met die slagoffer blyk ook meer kompleks te wees as wat dit aanvanklik lyk.

Presumed Innocent hanteer die rolle van skurk en held vaardig, en gooi dié mantel van een karakter na die ander soos ’n warm patat. Sekerlik is Rusty nie tot so ’n gruweldaad in staat nie? Máár, aan die ander kant, is daar ook baie wat hy oënskynlik wegsteek. Sy geneigdheid om te lieg word gekontrasteer met die brutale eerlikheid wat hy teenoor sy gesin toon. Selfs hulle blyk geheime te hê wat die ontvouende skandaal kan omdolwe.

Maklike som

Die som van die reeks se kragtige vertolkings, die boeiende storielyn en die uitstaande gehalte van die produksiewerk, het ’n meesterklas in storievertel as uitkoms. Gyllenhaal se genuanseerde vertoning, gekombineer met Kelley se kundige tempo en Abrams se produksievaardigheid, skep ’n kykerervaring wat beide diep boeiend én besonders emosioneel uitputtend is. Die reeks beweeg buite die whodunnit-sfeer om só ook die kyker uit te daag met vrae oor geregtigheid, waarheid, en die nimmereindigende kompleksiteit van menswees. 

Presumed Innocent is ’n binge-waardige, donker en somber reeks met die een ná die ander spanningsvolle episode wat dit heel waarskynlik as een van Apple TV+ se grootste treffers van die jaar gaan vestig. Kyk of nie? Dís mos ’n maklike som om te maak.


Presumed Innocent is op Apple TV+ beskikbaar om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies