Menu terloops
In Onderhoude [9 Jul 2024]

Aktrise Elsje Slabbert oor ma-wees, begindae op ‘Villa Rosa’ en nuwe rol in ‘Suidooster’


Die aktrise Elsje Slabbert, bekend vir haar rol as Carina Rautenbach in die kykNET-sepie ’Villa Rosa’, is nou in ‘Suidooster’ as Lisa van Staden te sien.

Stroom 'Suidooster'

Aktrise Elsje Slabbert oor ma-wees, begindae op ‘Villa Rosa’ en nuwe rol in ‘Suidooster’

Die aktrise Elsje Slabbert het haar groot deurbraak destyds in die geliefde kykNET-sepie Villa Rosa gemaak, voordat sy later as Anja in Getroud met Rugby verskyn het. Meer onlangs was sy ook in die misdaaddrama Projek Dina, asook Fynskrif te sien. Kykers het egter onlangs dié bekende gesig weer terug in sepieland verwelkom toe sy as Lisa in Suidooster haar opwagting gemaak het.

Lisa het ’n paar vrae oor dié rol, ma-wees, en haar herinneringe van haar begindae op Villa Rosa beantwoord.

Wat kom maak Lisa in Ruiterbosch? 

Lisa beland in Ruiterbosch as ’n sakevrou. Sy’s ’n mediese verteenwoordiger vir ’n farmaseutiese maatskappy wat probeer om hul produkte op die apteek in Ruiterbosch se rakke te kry. Maar dis nie die enigste rede nie… Buiten die feit dat Aiden (Theo Jantjies) halsoorkop vir Lisa val, gaan die poppe dans… 

Hoe sal jy Lisa beskryf, en wat hou jy van haar?

Sy het ’n sterk persoonlikheid, sy’s vreesloos en sy sal berge versit vir die mense vir wie sy lief is. Lisa is einddoelgerig in haar lewe. Sy kan manipulerend wees as sy voel dis nodig om by daardie einddoel te kom. Verder is Lisa baie bang vir verwerping en ek dink sy sal enigiets doen om dit te vermy.

Suidooster, Elsje Slabbert
Elsje Slabbert se Suidooster-karakter, Lisa, maak Aiden (Theo Jantjies) se knieë lam. Foto: Skermgreep

Dis die eerste keer in sowat sewe jaar wat jy weer in ’n sepie speel sedert Getroud met Rugby. Hoe was dit vir jou om terug op ’n sepiestel te wees?

Dis soos fietsry – en daarmee bedoel ek nie dis maklik nie! Gaan klim maar ná jare op ’n fiets. Dit is moeiliker as wat ’n mens dink en dit vat so ’n oomblik voordat jy weer jou balans kry en jou selfvertroue vind.

Die eerste twee dae op stel was lekker moeilik. Die vlinders in my maag was heeltemal buite beheer en ek het gesukkel om my balans te hou. Maar gelukkig, van die derde dag op stel het ek weer my balans gevind. En ek het elke oomblik geniet.

Wat geniet jy daarvan om in ’n sepie te speel?

Ek hou van die spoed. Hoe meer tonele per dag, hoe beter. Dis vir my ’n lekker uitdaging. ’n Mens hoef ook nooit te wag vir die wolke om weg te gaan of die vliegtuig om eers verby te kom (voordat jy verder kan skiet) nie. So, dis lekker!

Jou rol in Villa Rosa was vir jou ’n groot deurbraak. Wat het Villa Rosa vir jou loopbaan beteken? 

Ja, dit sal altyd baie na aan my hart bly. Ons was ’n hegte groep mense en van ons is vandag nog deel van mekaar se lewens, al is dit net om memes te stuur op Instagram! 

Villa Rosa het vir my ’n voet in die deur gegee. Dit het my die geleentheid gegee om bietjie op die rooi tapyt te loop, en saam met mense te werk wat ek van kindsdae af bewonder.

Wat is jou gunsteling herinnering van jou tyd op Villa Rosa?

My gunsteling herinnering is ons groepstonele waar jou klere te styf sit en jou skoene druk en almal wil huis toe gaan, maar ons is vol grappies dat ons sukkel om te fokus en die regisseurs ongeduldig raak . . . Ek dink veral aan die onderdrukte lag dat die trane loop, want ons is in die moeilikheid! Dit sal ek altyd na aan die hart hou.

Jou seuntjie Rubin is nou vier jaar oud en jy het ook ’n dogtertjie. Wat geniet jy van ma-wees?

Rubin word in Oktober vier jaar oud en my dogtertjie – haar naam is Milan – sy’s nou een jaar oud. 

Ek dink wanneer ’n mens ma word, verander jou lewe soveel meer as wat jy ooit sou dink. Dis die moeilikste en belangrikste rol van my lewe waar jy elke dag ge-challenge word. Ek het nie ’n gym nodig nie, nie met ’n vierjarige seuntjie nie.

Wat ek die meeste geniet, is dat ek nie meer die belangrikste mens in my lewe is nie. Dit maak jou ook los van kleinlighede wat jou dalk in die verlede gepla het. 

Ja, om ’n klein mensie te hê wat vir jou kyk en vir jou glimlag en jou ‘mamma’ noem, en jy weet dis joune. Dís iets onbeskryflik groot en hulle leer jou rêrig wat onvoorwaardelike liefde is.


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies