Menu terloops
In Onderhoude [9 Jul 2024]

Aktrise Elsje Slabbert oor ma-wees, begindae op ‘Villa Rosa’ en nuwe rol in ‘Suidooster’


Die aktrise Elsje Slabbert, bekend vir haar rol as Carina Rautenbach in die kykNET-sepie ’Villa Rosa’, is nou in ‘Suidooster’ as Lisa van Staden te sien.

Stroom 'Suidooster'

Aktrise Elsje Slabbert oor ma-wees, begindae op ‘Villa Rosa’ en nuwe rol in ‘Suidooster’

Die aktrise Elsje Slabbert het haar groot deurbraak destyds in die geliefde kykNET-sepie Villa Rosa gemaak, voordat sy later as Anja in Getroud met Rugby verskyn het. Meer onlangs was sy ook in die misdaaddrama Projek Dina, asook Fynskrif te sien. Kykers het egter onlangs dié bekende gesig weer terug in sepieland verwelkom toe sy as Lisa in Suidooster haar opwagting gemaak het.

Lisa het ’n paar vrae oor dié rol, ma-wees, en haar herinneringe van haar begindae op Villa Rosa beantwoord.

Wat kom maak Lisa in Ruiterbosch? 

Lisa beland in Ruiterbosch as ’n sakevrou. Sy’s ’n mediese verteenwoordiger vir ’n farmaseutiese maatskappy wat probeer om hul produkte op die apteek in Ruiterbosch se rakke te kry. Maar dis nie die enigste rede nie… Buiten die feit dat Aiden (Theo Jantjies) halsoorkop vir Lisa val, gaan die poppe dans… 

Hoe sal jy Lisa beskryf, en wat hou jy van haar?

Sy het ’n sterk persoonlikheid, sy’s vreesloos en sy sal berge versit vir die mense vir wie sy lief is. Lisa is einddoelgerig in haar lewe. Sy kan manipulerend wees as sy voel dis nodig om by daardie einddoel te kom. Verder is Lisa baie bang vir verwerping en ek dink sy sal enigiets doen om dit te vermy.

Suidooster, Elsje Slabbert
Elsje Slabbert se Suidooster-karakter, Lisa, maak Aiden (Theo Jantjies) se knieë lam. Foto: Skermgreep

Dis die eerste keer in sowat sewe jaar wat jy weer in ’n sepie speel sedert Getroud met Rugby. Hoe was dit vir jou om terug op ’n sepiestel te wees?

Dis soos fietsry – en daarmee bedoel ek nie dis maklik nie! Gaan klim maar ná jare op ’n fiets. Dit is moeiliker as wat ’n mens dink en dit vat so ’n oomblik voordat jy weer jou balans kry en jou selfvertroue vind.

Die eerste twee dae op stel was lekker moeilik. Die vlinders in my maag was heeltemal buite beheer en ek het gesukkel om my balans te hou. Maar gelukkig, van die derde dag op stel het ek weer my balans gevind. En ek het elke oomblik geniet.

Wat geniet jy daarvan om in ’n sepie te speel?

Ek hou van die spoed. Hoe meer tonele per dag, hoe beter. Dis vir my ’n lekker uitdaging. ’n Mens hoef ook nooit te wag vir die wolke om weg te gaan of die vliegtuig om eers verby te kom (voordat jy verder kan skiet) nie. So, dis lekker!

Jou rol in Villa Rosa was vir jou ’n groot deurbraak. Wat het Villa Rosa vir jou loopbaan beteken? 

Ja, dit sal altyd baie na aan my hart bly. Ons was ’n hegte groep mense en van ons is vandag nog deel van mekaar se lewens, al is dit net om memes te stuur op Instagram! 

Villa Rosa het vir my ’n voet in die deur gegee. Dit het my die geleentheid gegee om bietjie op die rooi tapyt te loop, en saam met mense te werk wat ek van kindsdae af bewonder.

Wat is jou gunsteling herinnering van jou tyd op Villa Rosa?

My gunsteling herinnering is ons groepstonele waar jou klere te styf sit en jou skoene druk en almal wil huis toe gaan, maar ons is vol grappies dat ons sukkel om te fokus en die regisseurs ongeduldig raak . . . Ek dink veral aan die onderdrukte lag dat die trane loop, want ons is in die moeilikheid! Dit sal ek altyd na aan die hart hou.

Jou seuntjie Rubin is nou vier jaar oud en jy het ook ’n dogtertjie. Wat geniet jy van ma-wees?

Rubin word in Oktober vier jaar oud en my dogtertjie – haar naam is Milan – sy’s nou een jaar oud. 

Ek dink wanneer ’n mens ma word, verander jou lewe soveel meer as wat jy ooit sou dink. Dis die moeilikste en belangrikste rol van my lewe waar jy elke dag ge-challenge word. Ek het nie ’n gym nodig nie, nie met ’n vierjarige seuntjie nie.

Wat ek die meeste geniet, is dat ek nie meer die belangrikste mens in my lewe is nie. Dit maak jou ook los van kleinlighede wat jou dalk in die verlede gepla het. 

Ja, om ’n klein mensie te hê wat vir jou kyk en vir jou glimlag en jou ‘mamma’ noem, en jy weet dis joune. Dís iets onbeskryflik groot en hulle leer jou rêrig wat onvoorwaardelike liefde is.


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Maart 2026

Daar is ’n meer-as-vriendskap-vonk tussen Uys en Nicolette en as Hannah verdwyn, is almal op hol. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Maart 2026

Rhafiek kry skokkende nuus wat die Samsodiens verpletter en Zoë en Angie begrawe – skynbaar – die strydbyl... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Maart kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies