(Hooffoto: Cornél van Heerden)
Ek is seker dat talle kykers na die tissues gegryp het toe dr. Steve Abrahams, ná ’n roerende toespraak by sy farewell in Doepa, vir ’n laaste keer uit sy kantoor gestap en die ligte afgeskakel het. Dit was ’n afskeid wat kykers glad nie verwag het nie… Maar soos die akteur Clint Brink ook sê: “Timing is alles.”
Ná amper ’n dekade in Steve se scrubs het dit tyd geword vir dié akteur om die sepie te groet.
Tarren-Lee Habelgaarn het met Clint gesels.
Die jaar wat alles verander het
Ná ’n lewensveranderende jaar, het Clint gevoel dit is tyd om dieselfde passie en tyd wat hy aan sy werk wy, ook aan sy familie en vriende te gee. Sy eersteling, Arielle, is verlede jaar in April gebore. Maar kort daarna is sy boesemvriend en Binnelanders-kollega Bradley Olivier oorlede. En twee weke ná Bradley se dood, het sy pa, Clinton, ook afgesterwe. In daai selfde tyd het hy nog ’n goeie vriend aan die dood afgestaan.
Die onbeskryflike vreugde wat die 43-jarige akteur met die geboorte van sy dogter ervaar het, het in skrille kontras met yslike groot verlies gestaan.
“Dit was in baie opsigte ’n lang en moeilike jaar. Maar daar was nie baie tyd om tot verhaal te kom met dit wat gebeur het nie. Ongelukkig is dit net nie hoe die lewe werk nie. Tensy jy die tyd maak, sal dit nooit die regte tyd wees nie,” sê Clint.
Ek onthou dat ek daardie eerste week ná my pa en Bradley se dood op pad stel toe vir myself gevra het, ‘Wat maak jy hier? Hoekom gaan jy werk toe?’
Clint Brink
Omdat hy ’n perfeksionis is, het Clint steeds 110% by sy werk ingeploeg… Selfs op die dae wat dit bitter moeilik was om op werk te konsentreer.
Hy onthou dat hy ’n dag ná sy troue in 2016 terug op stel was. Ook twee dae ná sy dogter se geboorte was hy weer terug voor die kameras. Só ook weer slegs ’n week ná sy pa se afsterwe.
“Elke oggend het ek op pad werk toe om 06:30 vir my pa gebel, want ek het geweet hy sou wakker wees. Ons het oor ons week gesels of ek het by hom raad gevra. As mens nie meer daardie roetine het nie, is die verlange groot. Daar was baie dae wat ek nie oor my pa kon dink op pad werk toe nie, want ek het geweet die dag gaan lank wees en ek wou nie met Clint se emosies Steve se dag aanpak nie. So jy laat jouself nie toe om daardie verlange te voel nie. Maar dan voel dit ook asof jy daardie persoon verraai,” deel Clint.
“Ek onthou dat ek daardie eerste week ná my pa en Bradley se dood op pad stel toe vir myself gevra het, ‘Wat maak jy hier? Hoekom gaan jy werk toe?’ Maar daar is so baie mense wat op jou staatmaak. En daar is deadlines wat ons moet nakom, skedules. Ek verstaan die bedryf en daar is so baie kollegas wat deur hul eie goed gaan, so ’n mens wil mekaar nie teleurstel nie.”
’n Dekade van groei
Clint beskryf sy tyd op die Binnelanders-stel as een groot seëning. Voordat hy by Binnelanders aangesluit het, was hy bekend vir rolle soos Shawn Jacobs in die e.tv reeks Backstage, Bradley Paulse in die SABC-reeks Generations en Tino Martins in die e.tv-reeks Scandal!.
Binnelanders het hom met ’n nuwe gehoor en genre laat kennis maak – en daarvoor sal hy altyd dankbaar wees.
“Ná 24 jaar in die bedryf is ek dankbaar dat ek nog hier is en dat ek steeds nuwe dinge kan ervaar. Ek het al baie geliefde karakters gespeel, maar ek onthou toe ek in 2015 by Binnelanders begin het, was daar baie mense wat nog nooit van my gehoor het nie. Dit was toe ek besef het hoe verdeeld die Engels en Afrikaanse TV-gehore is. Meeste van my werk voor Binnelanders was in Engels en dit was vir my ’n bietjie van ’n skok om te sien hoe anders die twee genres is. Elkeen het hul eie gehoor en styl. Maar dit was vir my so lekker om hierdie nuwe ervaring met Steve te kon hê. Ek het baie oor die jare as akteur gegroei,” sê Clint.
Hy voeg by: “Ek weet van so baie akteurs en kunstenaars wat nooit daardie groot break kry waarvoor hulle wag en regtig verdien nie.”
Die sirkel is voltooi
Hy skerts as daar vir hom gevra word oor die full circle-oomblik waarmee hy die sepie gegroet het. Hy het immers by Binnelanders met sy sepievrou Bronwyn (Kim Cloete) begin, en dis ook saam met haar wat hy hierdie hoofstuk geëindig het.
“Kim is my chommie. Enige geleentheid om saam met haar te kan werk, is altyd pret. Ons lag en maak net grappies as ons saam is. Voor en agter die kamera is sy deel van my familie.
“Dit was regtig spesiaal om Steve se hoofstuk met Bronwyn te kan afsluit. Al het dinge nie romanties tussen hulle uitgewerk nie, was Bronwyn nog altyd iemand op wie hy kon staatmaak. Sy is iemand wat hy kan vertrou, iemand wat hom nog altyd ondersteun het,” vertel Clint.
Ná 24 jaar in die bedryf is ek dankbaar dat ek nog hier is en dat ek steeds nuwe dinge kan ervaar.
Clint Brink
“Dit is presies die tipe vriendin wat Kim is. Behalwe dat sy ’n lekker mens is, is sy ’n fantastiese aktrise. Dit maak dit nog meer spesiaal om iemand te hê by wie jy kan leer, en wat ook by jou kan leer. Ons het saam gegroei.
“Nes Steve hierdie keer ’n besluit geneem het wat dalk nie die maklikste vir hom is nie, maar wel die beste, staan ek ook by my besluit.”
Meer as net ’n karakter
As Clint terugdink aan sy tyd in Steve se skoene, is hy nie net dankbaar vir die groei en geleentheid om ’n karakter te kon speel wat oor die jare verskillende lae moes wys nie – hy is ook dankbaar vir dit wat Steve verteenwoordig.
“Steve en Bronwyn was van die eerste bruin karakters met ’n ander Afrikaanse aksent op Binnelanders. Vir my was dit nog altyd belangrik om justice te doen aan die reeks, maar sonder dat ek soos iemand anders voel. Ek wou steeds ’n bietjie van Clint hê om die karakter so outentiek as moontlik te maak. Representation is belangriker as ooit. Ek is dankbaar dat ek vir jong mense ’n goeie karakter in Steve kon gee; iemand wat hopelik vir hulle ’n bietjie hoop sal gee.”
Koebaai, Steve. Hi, Clint!
Clint gaan vir eers op sy musiek en werksessies met jong mense konsentreer, maar het ook ander opwindende projekte waarby hy tans betrokke is. Hy beplan ook om binnekort Kaap toe te trek om nader aan sy ma en familie in die Paarl te kan wees. Dan sal hy sien in watter rigting die wind hom waai.
Om Binnelanders te groet was moeilik. Tog voel hy dit was beslis die regte, en gesondste, besluit vir hom en sy gesin. En op dae wat hy dalk twyfel, dink hy aan een van sy gunsteling-aanhalings deur Michael Caine se karakter Robert Spritzel in die 2005-fliek The Weather Man:
“To get anything of value, you have to sacrifice. Do you know that the harder thing to do and the right thing to do are usually the same thing? Nothing that has meaning is easy. ‘Easy’ doesn’t enter into grown-up life.”
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.