Menu terloops
In Onderhoude [16 Jul 2024]

Julian Robinson volg in pa se TV-spore, maar slaan eie koers in


Sy pa, Freek Robinson, is al vir jare ’n bekende gesig op die kassie, en sy ma, Liza, is op haar beurt ook deel van die vermaakbedryf as regisseur. Maar op 19-jarige ouderdom, met twee films agter die blad en ’n rol in ‘Binnelanders’, het Julian Robinson reeds sy eie merk op die bedryf gemaak.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk hier vir Julian in 'Binnelanders'

Julian Robinson volg in pa se TV-spore, maar slaan eie koers in

(Hooffoto: Cornél van Heerden)

Hy mag dalk jonk in jare wees, maar as ’n mens met hom gesels, is daar ’n volwassenheid en merkbare “ou siel”-eienskap. Julian Robinson glo in die besluite wat hy maak, én weet presies wat hy met sy lewe wil doen, vertel hy. Én, kom dit daarna, hy gaan sy álles gee om sy drome te laat waar word. 

Vir Julian is acting tweede natuur en iets wat hy al vir jare doen. Dié beroep het hom gekies, meen hy. 

“Ek act pretty much vir so lank as wat ek kan onthou. Toe ek jonger was, was ek in advertensies en ’n klein rol hier en daar. Ek was nog op laerskool toe ek uitvind dat Binnelanders na my skool toe gaan kom op soek na ’n kind wat hulle graag vir ’n rol wou cast,” vertel hy.

“My skool het my gekies en ek was regtig verbaas, maar dit is seker waar die acting-gogga my toe gebyt het.” 

Ná dié besoek, het hy die rol van LJ losgeslaan, maar ná sy aanvanklike storielyn het ons die karakter vir nagenoeg ’n dekade nie gesien nie. Maar nou is LJ terug op die toneel.  

“Ek was destyds maar 10 jaar oud, so ek dink nie kykers sal my onthou nie. Maar ek was ge-cast as LJ, Marissa se seun wat sy weens munchausen by proxy siek gemaak het. Ek onthou dit was nogal ’n hectic storielyn, maar ek het dit baie geniet. Ek het toe ook teenoor Marlee van der Merwe gespeel, wat tans die rol van my tannie, Ella, vertolk, maar wat ook die rol van haar tweelingsuster, my ma Marissa, gespeel het,” vertel hy.

LJ se terugkeer

LJ is skaars terug op Binnelanders, maar het reeds mense begin ontsenu… Julian doen egter ’n beroep op kykers om die lat ’n kans te gee. 

Binnelanders, LJ, Julian Robinson
Julian Robinson as LJ in Binnelanders. Foto: Skermgreep

“Dit was vir my lekker, maar ook snaaks om ná soveel jare weer teenoor Marlee te speel,” vertel LJ oor sy terugkeer. 

“Marlee is ’n ongelooflike aktrise, maar dit was nogal snaaks dat nie een van ons mekaar regtig kon onthou nie!” 

Dít het egter beteken dat dié twee akteurs opnuut opregte bande vir hul nuwe storielyn kon bou, sê hy. 

“Dit is ’n baie lekker karakter om te speel. LJ het hierdie bravado aan hom, maar is eintlik bang. Hy het soveel trauma dat hy nie regtig vir mense wil vertrou nie. Maar as mense sy mure kan afbreek, is daar eintlik iemand met baie lae.” 

Nes LJ, is Julian ook al vir jare ’n tromspeler en boonop hou hy en LJ van baie van dieselfde dinge. Hulle deel onder meer ’n groot liefde vir musiek en lees. 

“Ons is eintlik maar twee nerds,” spot Julian. 

“Waar ons verskil is dat hy baie probleme en baggage het waardeur hy moet werk, iets wat ek nie het nie. Dit help om ’n karakter te speel wat baie na aan jou ouderdom is, want ek beleef baie van dieselfde gevoelens en kwessies wat hy tans ervaar.”

Julian Robinson as LJ in Binnelanders. Foto: Cornél van Heerden
Julian Robinson hoop Binnelanders-kykers sal vir sy karakter ’n kans gee. Foto: Cornél van Heerden

Geen skaduwees

Julian sê al is sy ouers albei bekend in die bedryf, het hy nog nooit gevoel asof hy in hul skaduwee lewe nie. Sy ouers was nog altyd ondersteunend en was eintlik glad nie verbaas toe hy besluit hy wou ’n akteur word nie. Oor sy pa se roem en bekendheid sê Julian sal mense hom maar altyd met sy pa assosieer, maar dit pla hom nie regtig nie. 

“My ma glo regtig dat almal moet doen waarvoor hulle lief is. Natuurlik was my ouers aanvanklik ’n bietjie skepties, maar hulle was meer van, ‘Hier gaan ons alweer, another one last to the cause’, ” vertel Julian skertsend. 

Toe hy gevra is oor ’n snaakse fan-oomblik wat hulle al as gesin beleef het, staan daar onmiddellik een vir hom uit. 

“Ons was op ’n road trip as gesin, toe ’n groep mense ons raaksien. Onmiddellik het ons gedink, “Okei, hulle is opgewonde oor my pa en gaan gou met hom kom gesels. Maar toe hardloop hulle verby my pa en skree toe vir my broer, wat swart ronde brille dra, ‘Is dit nie die ou wat Harry Potter speel nie?’

“Ons het natuurlik almal begin lag, want dit was regtig ’n snaakse oomblik vir ons as gesin.”

‘Dankbaar’

Julian, wat verlede jaar aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg gematrikuleer het, het vroeër vanjaar film aan die Universiteit van die Witwatersrand begin studeer. Hy het egter intussen besluit om vir eers aan sy loopbaan te werk. Hy beplan om later by die Universiteit van Kaapstad aan te sluit.

Hy het ses jaar gelede in sy eerste rolprent, Table Manners, verskyn waarin Diaan Lawrenson die rol van sy ma vertolk het. Vroeër vanjaar was hy weer teenoor Diaan te sien in sy nuutste film, Just now Jeffrey, waarin hy die hoofrol vertolk het. 

Hy is nie seker wat die toekoms vir hom inhou nie, maar vir nou is hy dankbaar om te kan werk en op 19 sy passies te kan uitleef. 


Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies