Lank voordat die kameras begin rol en 20 vreemdelinge vir 39 dae op ’n verlate eiland vir R1 miljoen meeding, is die kunsafdeling van Survivor SA druk besig. Elke fakkel, elke vlag…die kleinste stukkie papier – dís die span wat elke seisoen ’n splinternuwe stel van scratch af ontwerp en bou.
Die stel van Survivor SA is ’n bietjie soos die 21ste speler. Dit het elke seisoen ’n persoonlikheid van sy eie en dra beslis by tot die drama en die storielyne wat daarmee gepaardgaan.
Maar anders as vorige seisoene sal die gesigte darem dié keer bekend wees. Al die deelnemers is in vorige seisoene uitgestem en keer terug om (hopelik) hul naam in ere te herstel.
Dié outcasts se gesigte is egter al wat kykers sal herken. Die tema en ontwerpe op die stelle van een van die grootste realiteitsreeks-franchises in die wêreld verander elke seisoen. Niks, maar niks, word dus op ’n volgende seisoen gebruik nie. Elke prop wat op die skerm gesien word, is nuut deur die kunsafdeling geskep.
Duisende kilogramme sement, hout en spykers word maande voor die tyd aangekoop om die uitdagende en majestueuse stelle te bou.
Maar hoe word ’n seisoen beplan en wat presies gebeur voor die rugstekery, strategieë en gekonkel begin?
Ons gesels met Leroux Botha, die kreatiewe vervaardiger en regisseur van Afrokaans, die produksiemaatskappy wat Survivor SA vervaardig oor wat die inspirasie agter hierdie seisoen se tema en gevoel is.
Agter die skerms van Survivor SA se negende seisoen. Foto’s: Charlie Sperring
Die stel en rekwisiete op Survivor vertel hul eie storie, maar hoe werk julle kreatiewe proses?
“Die seisoen begin met die finalisering van die inhoud. Dit gee vir ons ’n idee van wat op watter dag gaan gebeur en dit sluit tribe swaps, merge, uitstem-aande en beloning/immuniteitsuitdagings in. As dít klaar is, is daar gewoonlik ‘n idee oor die rigting van die estetika en tema van die seisoen. Ek sit gewoonlik saam met die kunsspan en ons begin dan moodboards en die look-and-feel vir die seisoen saamstel. Ek gaan in met die groot idee en hulle begin dan invul met dinge wat binne daardie idee kan werk.”
Word die spankleure en selfs die lettertipes/ontwerpe ook tydens die aanvanklike temavergadering besluit?
“Die spankleure en die ontwerpe vir die spanlogo, lettertipes en die res word gewoonlik saam met die buff-ontwerp besluit. Ek kies eers die spankleure en dan besluit ons hoe die lettertipes en ontwerpe gaan lyk. Die logo’s vir toekomstige seisoene van Survivor sal baie ooreenstem met die ontwerp wat ons hierdie seisoen gaan gebruik, aangesien die formaathouers alle Survivor-logo’s wêreldwyd na die standaard wat ons tans het, gaan verander.”
Hierdie seisoen lyk ’n bietjie meer donker in die voorskoue, wat is die inspirasie agter hierdie seisoen se voorkoms en gevoel?
“Hierdie seisoen se tema is die vier elemente; aarde, water, vuur en lug. ’n Unieke ding wat ons hierdie seisoen ingebring het, is om ’n paar sci-fi tropes in die algehele ontwerp in te bring. Vir al die sci-fi-aanhangers wat gaan kyk, is daar al hierdie klein paaseiertjies wat by die produksie-ontwerp ingebring is en ’n aanhanger sal dit beslis herken. Daar is ’n bietjie van alles…van Star Trek tot Star Wars, Magic: The Gathering, Dungeons and Dragons en selfs Stargate.”
Elke teken, fakkel, uitdagingspeletjie, stembeker en pen word deur die kunsafdeling gemaak en geverf. Watter materiaal het julle die meeste van gebruik vir dié seisoen?
“Vir seisoen nege het ons 149 187 spykers, 8 275 kg sement, 18 409,6 meter hout en 3 280 meter tou gebruik.”
Hoeveel mense is betrokke by die bou, ontwerp en samestelling van die stelle, uitdagings en ander aktiwiteite op stel?
“Die kunsafdeling het ongeveer 30 bemanningslede met ekstra plaaslike arbeid (van die gebied waarin ons skiet) van ongeveer dieselfde hoeveelheid. Daar is ’n kunsdirekteur, kunskoördineerder, rekwisietmeester, rekwisietmakers, kerwers, konstruksiebestuurders, houtwerkers, konstruksiespanne, uitdagingskoördineerders, skilders, beloningskoördineerders en brandkoördineerders.”
Hoe lank is ’n tipiese dag vir die kunsafdeling?
“Die kunsafdeling begin baie vroeg en dit is 12 ure ’n dag. Wanneer ons besig is om te skiet, sal die kunsspan ’n uitdaging ’n dag voor ons dit gaan skiet gereed hê sodat ons dit met die bemanning kan toets. Ons doen dit om seker te maak dat alle aspekte werk. Op skietdae plaas die kunsspan al die vlae, klein rekwisiete en belonings op die stel. Hullen help ook om B-roll en lugfoto’s van die uitdagings te verfilm. Die volgende dag kom die dekonstruksiespan in en verwyder hulle alle tekens van die uitdaging. Op stem-aande is die kunsspan daar om seker te maak dat al die rekwisiete soos die fakkelsnuffer, stempapiere en stembeker, daar is. Hulle maak ook seker dat die vure aangesteek word vir die drama. Só spring hulle vir 39 dae rond.”
Wat is iets wat kykers nie altyd raaksien nie, maar wat ’n belangrike rol in die stelontwerp speel?
“Ek dink die algemene estetika van ’n seisoen speel ’n groot rol in hoe die seisoen op skerm ervaar word. Die tribal council se ontwerp en die voorkoms en gevoel van die omgewing vir die uitdagings dra alles by tot die dramatiese effek.”
Behalwe dat dit die eerste seisoen met voormalige spelers is, wat het hierdie seisoen uniek gemaak? En wat was die grootste uitdaging?
“Die pragtige flora wat ons aan die Sonskynkus gehad het, die riviere, die duine, die see – alles speel ’n rol daarin om dié seisoen merkwaardig anders as vorige seisoene te laat lyk. Een van ons grootste uitdagings was slangparingseisoen, wat tydens verfilming plaasgevind het. Gelukkig het ons geen probleme gehad nie, want ons slangvanger het geweet wat hy doen. Oor die slange in die speletjie, sal kykers maar net moet wag en sien.”
Wie sal na dié seisoen hul spoke te ruste kan lê en as die enkele oorlewende gekroon word as 20 voormalige deelnemers vir Survivor South Africa: Return of the Outcasts terugkeer?
Kyk die nuwe seisoen van Survivor SA vanaf Maandag 18 Julie, Maandag tot Donderdag om 20:00, op M-Net (DSTV-kanaal 101) en DStv Online.