Menu terloops
In Onderhoude [25 Mei 2023]

‘Recipes for Love and Murder’ se Maria Doyle-Kennedy oor hadedas, koeksisters en die Karoo


Die Ierse aktrise Maria Doyle-Kennedy gesels oor haar rol in die plaaslike trefferdrama, ‘Recipes for Love and Murder’, en hoe sy nie die draaiboek kon neersit toe sy eers begin lees het nie. Die reeks is nou op Showmax beskikbaar.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou

‘Recipes for Love and Murder’ se Maria Doyle-Kennedy oor hadedas, koeksisters en die Karoo
Kyk lokprent

In Recipes for Love and Murder, nou op Showmax, vertolk die Ierse aktrise Maria Doyle-Kennedy ʼn Skotse vrou, Tannie Maria, wat ʼn plaashuis in die Karoo geërf het en die dorpskoerant se kosskrywer- en biegtannie is. Sy het met Riëtte van der Wat gesels oor die universaliteit van dié eg Suid-Afrikaanse storie.

Maria Doyle-Kennedy in Recipes for Love and Murder op M-Net. Foto: Verskaf
Maria Doyle-Kennedy in Recipes for Love and Murder op Showmax. Foto: Verskaf

Jy het in ’n radio-onderhoud gesê dat jy nie Karen Jaynes se draaiboek vir Recipes for Love and Murder kon neersit toe jy eers begin lees het nie. Wat was dit omtrent die storie wat jou uit die staanspoor opgewonde gemaak het?

“Die Recipes-draaiboek was soveel anders as enigiets anders wat ek in daardie stadium gelees het. Ek was moeg vir die oënskynlik nimmereindigende geweld en wreedheid… Recipes for Love and Murder was ’n vreugde om te lees; dit wentel om quirky idees om raaisels op te los; heerlike kos en die teerheid van ontwikkelende verhoudings.”

Die reeks het ’n uniek-Suid-Afrikaanse gevoel. Het jy dit moeilik gevind om met die konteks te vereenselwig waarin die storie vertel word, of kon jy dalk vergelykings trek met Ierland, jou geboorteland?

Recipes is in sy landskap en taal sό Suid-Afrikaans, maar daar is ’n universaliteit aan klein dorpies en die malse samekoms van karakters wat dit bewoon, dat dit regtig tot my gespreek het. Albei my ouers kom van klein plattelandse dorpies waar ek baie van my tyd deurgebring het, veral as kind. Ek het ’n behoefte gehad daaraan om ’n storie te vertel wat daardie wêreld weerspieël.”

Daar is niks wat jou so motiveer om jou eie beste te gee as om deur soveel fantastiese akteurs omring te wees nie.

Maria Doyle-Kennedy

Het jy enige vooropgestelde idees oor Suid-Afrika gehad voordat jy hierheen gekom het om aan hierdie projek te werk? Hoe het jou persepsie van die land verander teen die tyd dat jy die land verlaat het?

“Ek was nog nooit voorheen in Suid-Afrika nie en sy mense en baie tale was ’n reuse-leerervaring. My gesin was saam met my hier en dit het gevoel of ons elke sentimeter van Kaapstad gesien het, al het ons naastenby soveel gereis soos ons sou wou nie (daai klein dingetjie wat ’n mens ’n verflimingskedule noem was in die pad)… Met ons volgende besoek gaan ons tyd inbou om hierdie fassinerende en baie mooi plek beter te verken.”

Vir die verfilming van Recipes or Love and Murder het die Karoo-dorp Prins Albert ingestaan as die denkbeeldige Eden. Wat het jy van die dorpie gedink en het die Karoo jou hart gewen?

“Ek kan verstaan waarom mense aangetrokke is tot die Karoo. Dit het ’n besonderse reuk en lig wat eie aan dié plek is. En die manier waarop die tyd daar verloop, is om oor liries te raak.”

Die onderwerp van huishoudelike geweld is ter sprake in Recipes. Dink jy ’n reeks soos dié het ’n rol te speel om bewusmaking oor dié onderwerp te skep?

“Ek voel bemoedig deur die benadering wat vir Recipes gevolg is. Elemente van die regte lewe se donkerte en onvolmaaktheid word uitgebeeld naas die betroubaarheid van kleindorpse teerheid en gemeenskap.

Recipes maak nie asof daar maklike oplossings vir die donkerte is nie. Ook nie asof die lewe altyd rooskleurig is nie. Deur Kylie Fisher se karakter Jessie, het ons die perfekte geleentheid om aan te hou om dinge te bevraagteken en om die dinamika van mag en ongeregtigheid te bly bevraagteken.”

Maria Doyle-Kennedy en Kylie Fisher in Recipes for Love and Murder. Foto: Verskaf
Maria Doyle-Kennedy en Kylie Fisher in Recipes for Love and Murder. Foto: Verskaf

Het jy dit geniet om die kos- en kook-tonele te verfilm? Wat het jy van ons bekende koeksisters gedink en hou jy ook van kook, soos Tannie Maria?

“Ek is bevrees ek moes so baie koeksisters eet vir een van die tonele wat ’n paar keer verfilm moes word, dat ek nie dink ek sal ooit weer een in my mond kan sit nie!

“Ek het dit geniet om te leer oor die resepte wat ek nie voorheen geken het nie. Op my af-dae was ek egter eerlikwaar baie gelukkiger daarmee om my aandete aan ander mense oor te laat. Ons het ’n besige huishouding tuis. Dit voel asof daar altyd iemand daar is wat kos soek, so ek en my man deel die kosmaak-verpligtinge. Soos ons kinders ouer word, begin hulle ook help. Ek geniet dit om goeie, gesonde kos vir my gesin voor te berei, maar ek is nie veel van ’n bakker nie!

“Die blote feit dat ek, alleen, daardie ooglopend perfekte veganistiese koek vir Recipes kon bak, spreek doodgewoon van die towerkrag van die kamera.”

Wat was jou ervaring van jou Suid-Afrikaanse akteurs-kollegas? Natuurlik ook die hoender en die hadeda.

“Daardie dekselse hadeda was ’n doring in my vlees! Die ding het ook nie veel van my gehou nie en het my gebyt op ons eerste dag van verfilming in die Karoo. Ek kan jou nie sê hoeveel keer ons ’n toneel moes oorskiet omdat ’n hadeda (eintlik ’n spul van hulle) geskree het oor die dialoog nie.

“Die wonderlike akteurs, aan die ander kant, was ’n vreugde. Talentvol, hartlik, vrygewig en meer belangrik, mense wat ek nou my vriende noem. Van jogaklasse tot uitstappies na die teater en hul bereidwilligheid om al my vrae te beantwoord oor hul geskiedenis en tradisies. Hulle het alles met my gedeel wat hulle kon en ék met hulle.

“Daar is niks wat jou so motiveer om jou eie beste te gee as om deur soveel fantastiese akteurs omring te wees nie.”

Wat was jou ervaring om saam met die regisseur Christiaan Olwagen te werk?

“Ek was gaande oor Christaan en sy manier van werk. Ons het ’n sterk band gevorm en het mekaar verstaan, wat onmeetbaar waardevol was, omdat ons nie baie tyd gehad het vir lang, uitgerekte gesprekke nie. Ons moes elke dag baie bladsye se teks skiet. 

“Die feit dat ons ’n begrip en vertroue vir mekaar gehad het, het beteken ons kon vinnig besluite neem. Ons gee albei baie om vir die werk wat ons maak en gee álles wat ons het. Dit was ʼn wonderlike ervaring. Ek weet ons sal weer saamwerk.”

Baie mense kry nie die geleentheid om hulle passies uit te leef nie, maar jy doen dit dubbeld. Jy het immers ’n suksesvolle sang- én akteursloopbaan. Was dit ’n doelbewuste besluit om albei hierdie rigtings na te streef?

“Ek het in musiek begin en daar gaan nie ’n dag verby wat daar nie musiek in my gedagtes of in my mond is nie. Ek is altyd besig om ’n liedjie te skryf, of om verwonderd te wees oor wat iemand anders geskryf het. My man, Kieran Kennedy, is gedurig besig om te komponeer. Om omring te wees deur musiek wat deur die huis dryf, is ’n voorreg. Daar is bykans niks wat kers vashou by die gevoel van ’n lewendige gig nie.

“Ek het eintlik so half per ongeluk begin toneelspeel, maar toe vind ek uit daar is soveel om daaruit te leer en soveel pret daaraan om te maak asof jy iemand anders is, sonder die gevolge wat jou dade in die regte lewe sal inhou! Albei rigtings en loopbane vuur my begeerte aan om nuwe dinge te skep en om te reis. Ek voel geweldig gelukkig dat ons dit as kunstenaars kon regkry om te oorleef én ’n gesin groot te maak, terwyl ons doen waarvoor ons lief is.”


Vanaf Donderdag, 25 Mei 2023, op Showmax beskikbaar.


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies