In ’n neutedop, wie is Berdene Burger?
“Ek is gebore in Johannesburg in ’n middelklas-gesin as die middelkind van twee ongelooflike ouers (daar is niks gemiddeld omtrent hulle nie). Vanaf ’n baie jong ouderdom was daar baie wat ek wou doen en my pa en ma het my nog altyd laat glo dat ek álles kán doen.
Dis helaas nie heeltemal waar nie (my pogings om waterverf as stokperdjie op te neem tydens 2020 se inperking het op chaos afgeloop). Maar die vet weet, as daar iets is wat my belangstelling prikkel, gaan ek probeer!
Ek hou van besig wees. Ek hou van uitdagings. Ek hou van variasie. Ek hou van die nimmereindige potensiaal van stories op alle vlakke en in alle fatsoene.”
Jy en jou man werk gereeld saam – is dit ’n maklike kreatiewe vennootskap en hoe vul julle mekaar aan?
“Ek en my man, Janhendrik, het op ’n filmstel ontmoet en die eerste keer wat ons oë ontmoet het, het ek geweet ek gaan ʼn baie lang pad saam met hierdie persoon stap. Dis cheesy, maar dit was een van daardie rare oomblikke waar twee mense se paaie kruis en die planete en sterre skielik, en werklik, in lyn spring.
Janhendrik is een van die talentvolste en kreatiefste skeppers wat ek ken en hy het my geleer om vreesloos te leef (wat ek soms nog tot ’n mindere mate regkry).
Geen kreatiewe vennootskap is ooit maklik nie. Om te wroeg en te stoei en foute te maak is die sleutel tot nuutskepping. Dis ook waar ons maatskappy se naam vandaan kom, Meerfout Films.
ʼn Mens moet vreesloos meer foute maak, want dis binne daardie chaos waar die onvertelde waarheid lê en wag.”
Waar kom jou passie vir die filmbedryf vandaan en hoe het jou loopbaan begin?
“My kleuterskool-rapporte het altyd evaluasies soos: ‘Berdene bestee ure in die speelhoekie en gesels ure lank met haarself oor die telefoon’ bevat. Ek kan onthou hoe ek vanaf ’n baie jong ouderdom stories opgemaak en vertel het. Ek dink dit is maar waar my loopbaan begin het. Ek verdien gelukkig nou (soms) geld daarvoor.
Ek het nie noodwendig met ’n passie vir rolprente as sulks begin nie en het amper per abuis in die bedryf beland. My studies was gefokus op letterkunde en sielkunde, maar die doel voor oë was altyd stories.
Andre Velts (regisseur, Die Pro) het my die geleentheid gebied om op ’n filmstel te werk terwyl ek tydens my universiteitsloopbaan op vakansie was. Die medium het my onmiddellik geraak. Film is ’n simfonie van ’n klomp dinge wat vir my sin maak. Dis dalk selfs die boeiendste vorm van stories vertel.
Wat doen Meerfout Films alles en hoe het dit ontstaan?
“Janhendrik het die idee van Meerfout Films in 2010 rond op die been gebring, maar dis eintlik eers met die 2013 Silwerskermfees wat ons as maatskappy begin vervaardig het. Ons eerste kortfilm was ‘n verwerking van Chris Barnard se Die Lang Kat saam met Erik Holm. Dit het die grondslag vir die timbre van ons filosofie gelê.
Die maatskappy is ʼn two man band. Tussen my en Janhendrik dryf ons die hele produksie-proses, vanaf konsep tot die finale aflewering.”
Wat was tot dusver ʼn paar van jou loopbaan-hoogtepunte?
“In 2015 het ons die eerste seisoen van Nataniël se Edik van Nantes in Frankryk verfilm. Dit was die grootste projek wat ek op tot op daardie stadium vervaardig het en dit was ’n enorme (eintlik moerse) leerskool.
Ons het in 2016 die SAFTA vir beste leefstyl program vir die tweede seisoen gewen. Sedertdien vervaardig ons nog amper elke jaar ’n reeks saam met Nataniël. Hy is een van die grootste kurators van Afrikaanse stories en kuns. Hy is die tipe persoon wat amper tot mitologie verhewe sal word in die jare wat voorlê. So, om by hom te kan leer, is ’n geweldige voorreg.
Boer Soek ʼn Vrou was die grootste regie-projek wat ek tot op daardie stadium aangepak het. Ek kon eintlik nie glo Elmarie Botha, die vervaardiger, het my aangestel nie. Ek het beslis nog nie die nodige ervaring vir die kolossale verantwoordelikheid van Boer Soek ’n Vrou gehad nie. Ek reken dis eintlik maar hoekom ek hoegenaamd ’n loopbaan in die bedryf het: mense wat in jou glo en bereid is om ’n kans op jou te waag.
Die eerste narratiewe projek waarby ek as regisseur betrokke was, was die derde seisoen van Die Byl. Dit was loshande die moeilikste ding wat ek al ooit in my lewe gedoen het. Beslis ook een van die mees vervullende. Mens kan enige dag ’n moeilike bul by die horings pak as daar ’n span mense is wat met onverskrokke oorgawe saam met jou staan.
By hoeveel seisoene van Boer soek ʼn Vrou was jy betrokke? In watter hoedanigheid en wat was van die hoogtepunte vir jou om aan dié reeks te werk? En waarom dink jy werk die Boer soek ’n Vrou-resep ná soveel seisoene steeds so goed?
“Ek het die voorreg gehad om die regie van seisoen 11, 12 en 13 van Boer Soek ’n Vrou te behartig.
Om te sien hoe twee mense se liefdesverhaal ontvou, is soos om deur ’n sleutelgat te loer en vir ’n oomblik ’n effense blik op een van die lewe se grootse geheime te kan hê.
Berdene Burger
Realiteitstelevisie is ’n vreemde genre. Tog, ek het nog nêrens anders met soveel menslikheid kennis gemaak soos op die stel van Boer nie. Die program is nie soos enige ander van sy soort omdat mense nooit uitgebuit word nie. Situasies word nie manipuleer ter wille van sensasionele vermaak nie. Ek dink dit is een van die groot redes hoekom die program so suksesvol is.
Gehore kan aanvoel wanneer iets eg is en dís die hart van vervaardiger, Elmarie Botha – om vir die deelnemers die beste moontlike geleentheid te gee om hulself te leer ken. Sodoende word die potensiaal vir liefde ontketen.
Om te sien hoe twee mense se liefdesverhaal ontvou, is soos om deur ’n sleutelgat te loer en vir ’n oomblik ʼn effense blik op een van die lewe se grootse geheime te kan hê.
Hoogtepunte sluit beslis ook die verkenning van ons land in. Om pienk malvalekkers in ’n koolslaai op ʼn klein dorpie in die Noord-Kaap bedien te word, is soos iets uit ’n Wes Anderson-fliek…”
Dit moes ongelooflik wees om Edik van Nantes in Frankryk saam met Nataniël te kon skiet?
“Frankryk is ʼn land vol heerlikheid en alhoewel die croissants en die wyn en die geskiedenis en die landskap magies is, was die heel lekkerste hoogtepunt om in die aande, nadat ons klaar verfilm het, saam met Nataniël om ’n tafel te sit en sjampanje te drink.”
Vertel van die ervaring om saam met Nataniël te kan werk. Dit moet ʼn ongelooflike lekker kreatiewes proses wees? Het julle nog projekte saam in die pyplyn?
Nataniël op die verhoog en voor die kamera is ’n talentvolle fors, maar Nataniël in sy Japanse gewaad besig om stories oor sy lewe te vertel, terwyl jy jouself ooreet aan ’n bord oorlaai met kos wat hy gemaak het, is poësie.
Nataniël is loshande een van die intelligentste en hardwerkendste mense wat ek ken. ’n Mens moet in vyfde rat funksioneer om by te hou. Nataniël is ’n fenomeen. Die grootste les wat ek by hom geleer het, is dat jy sonder voorbehoud in jou eie waarheid moet leef.
Ons is tans besig met die voorbereiding van ʼn nuwe reeks wat ná twee jaar se reisbeperkings weer in Frankryk verfilm gaan word. Maar een van my grootste drome is om ’n narratiewe projek saam met Nataniël aan te pak.”
Jy was mede-regisseur van Die Byl. Wat was jou belewenis hiervan?
“Ek was ’n paar maande swanger toe ek op die stel van die derde seisoen van
Die Byl was. Ek weet nog steeds nie wat daardie eerste blootstelling aan geweld aan my toe-ongebore baba gedoen het nie. Maar sy is nou ’n paar maande oud en wys nog geen tekens van psigopatie nie. Ek grap!
Dit is wel die testament van die produksiespan en die akteurs hoe veilig ek binne daardie spasie gevoel het. Die akteurs is almal gesoute en bekroonde rolspelers in die bedryf. Ek het daagliks ervaar hoe hard hulle bereid is om te werk en hoe baie hulle van hulself gee om lewe in ’n storie te blaas. Die produksiespan is almal mense saam met wie ek op enige gegewe dag ’n oorlog sal aanpak.
Meer as die storie wat op die ou einde van die dag op die skerm uitspeel, is dit die mense wat jou omring en die waarde wat hulle tot jou eie storie voeg wat saak maak.”
Jou werk is ongelooflik divers. Is daar ’n genre wat jy meer geniet as ’n ander? Of dalk ’n genre wat jou meer uitdaag as ’n ander? Dit is tog heel anders om dokkie-styl programme en fiksie te skep? En dan is jy boonop ook ʼn skrywer, vervaardiger én regisseur – geniet jy dit om al hierdie hoede te dra?
“Ek geniet dit om verskeie hoede te dra. Ek leef tussen my linker- en regterbrein op ’n breedtelyn waar ek terselfdertyd net so baie van administrasie en chaos hou. Om te vervaardig en regie te doen stimuleer onderskeidelik hierdie teenpole.
Ek skryf ook, soms, maar dit is loshande die moeilikste aspek van die storie-proses. Iemand het eenkeer vir my gesê geen skrywer staan op en dink, ‘ag lekker, ek gaan nou heerlik vandag sit en storielyne uitdink,’ nie. Om te skryf is om te wroeg, maar ʼn mens moet wroeg in die lewe en met die lewe.”
Daar word op die oog af baie nuwe inhoud in Afrikaans geskep. Is jy hoopvol vir die toekoms van die Afrikaanse bedryf? En wat maak jou dalk bekommerd oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf?
“(Filosoof Ludwig) Wittgenstein het gesê: ‘The limits of my language mean the limits of my world’ en as ek vir Breyten Breytenbach ook kan aanhaal: “Ek droom in Afrikaans”. Dis ons verantwoordelikheid as skeppers om seker te maak daar is ’n toekoms vir Afrikaans. Nie noodwendig ter wille van die voortbestaan van die filmbedryf nie, maar sodat my nageslag ook daardie voorreg mag ken: om te kan droom in hierdie taal. “
Het jy ’n ultimate bucket list-projek waarop jy graag sou wou werk. Iets wat jy doodeenvoudig nog mόét doen?
“Ek moet myself daagliks steeds knyp om seker te maak dat hierdie my lewe is. Ná 30 jaar speel ek speel nog steeds vir ure aaneen in die speelhoekie.”