In die makabere kykNET-misdaaddrama, Die Byl, maak speurder Piet van der Bijl (Waldimar Schultz) en sy span jag op reeksmoordenaars. Oor die loop van dié reeks se vier seisoene, ontmoet kykers ’n wreedaardige verskeidenheid haatlike moordenaars – die een oënskynlik meer diabolies as die volgende.
Hier is ons lys van die agt godsgruwelikste reeksmoordenaars in Die Byl (en ja, dit was ’n moeilike lys om saam te stel!)
Albertus “Smiley” Kriel
Vanaf Seisoen 1, verskyn daarna deurlopend in die reeks.
Smiley is die antagonis, die reeksmoordenaar van weleer en in ’n rolstoel. Hy is berekend, obsessief en ’n perfeksionis. Weens ’n motorongeluk moes hy ophou moor, maar sy moordlus het deur die jare net sterker geword, soveel so dat hy sy broer, Diederik, by sy planne betrek. As gevolg van ’n afhanklikheid van voorgeskrewe medisyne, veral morfien, sal sy broer enigiets doen om dit in die hande te kry. By hande van sy broer bly Smiley se modus operandi al die jare dieselfde. Hy glo hy is Byl se Moriarty.
Adriaan
Vanaf Seisoen 2, verskyn daarna deurlopend in die reeks en werk vir Smiley.
Adriaan het op ’n jong ouderdom sy pa vermoor – ’n geheim wat hy en sy ma hul lewe lank al deel. Sy is tronk toe vir die moord en Adriaan het as weeskind grootgeword. Hy het nooit werklik by enige van die tydelike families aanklank gevind nie en homself besig gehou. In sy tienerjare het hy ook baie bekwaam geraak onder ’n enjinkap. Hoewel hy nooit baie goed op skool gedoen het nie, en eintlik ’n onderpresteerder was, is hy hoogs intelligent met ’n naarstigtelike dors vir kennis. Ná skool is hy weermag toe en het uiteindelik ’n bedrewe, bloeddorstige, huursoldaat geword. Hy is baie presies, doelmatig met ’n seunsagtige sjarme wat soos ’n halo om hom skyn. Hy raak een aand by ’n kroeggeveg betrokke en beland in die tronk. Daar begin hy vir Smiley as lyfwag werk en dié manipuleer hom sonder moeite. In Smiley vind Adriaan iets waarna hy sy hele lewe lank soek: ’n vaderfiguur.
Louw Smith
Seisoen 4, Episode 5
Episode sinopsis: Die episode se reeksmoordenaar het ’n obsessie met die perfekte menslike vel…vel waarmee hy vir homself ’n masker maak.
Louw Smith is ’n eksentrieke introvert. Hy werk bedags as ’n mimiekkunstenaar in die park, en tuis maak hy ’n masker uit stukke mensvel wat hy aanmekaar vasstik. Louw glo hy moes nooit in die wêreld gewees het nie en voel altyd veilig agter dié masker. Daar kan hy vir hom ’n nuwe identiteit skep; een sonder die pyn van die verlede.
Petrus “Priester” Lotz
Seisoen 2, Episode 6
Episode sinopsis: Feitlik almal is apaties as ’n narsis besluit oor lewe en dood. Tronkgebonde verkragters, pedofiele en vroueslaners bly in die slag.
Priester is ’n psigopaat wat reeds ’n lewenslange vonnis uitdien en niks het om te verloor nie. Hy eien homself die reg toe om boendoe-teregstellings in die tronk te beplan en dan deur ander gevangenes te laat uitvoer. ’n Magsbehepte, bloeddorstige voyeur wat aan die hoof staan van een van die grootste misdaadsindikate in die land.
Frankie Roberts
Seisoen 3, Episode 3 & 4
Episode sinopsis: ’n Begrafnisondernemer ontwikkel ’n beheptheid om die ideale vrou te vind en hy besluit om een te “bou”.
Frankie Roberts is ’n 48-jarige begrafnisondernemer wat sy ouers se besigheid oorgeneem het. Om met die dooies te werk, is al wat hy ken. Hy is ’n skaam introvert wat verkies om agter die skerms in die skaduwees te beweeg. Hy words selfs meer van ’n kluisenaar nadat hy erge brandwonde aan sy gesig in ’n ongeluk in die krematorium opdoen. Sy ma het, tot met haar dood, hom soos ’n swakkeling, en selfs soos ’n monster, hanteer. Hy is onder meer bedags in ’n kas toegesluit. Ná haar afsterwe besluit hy om vir homself die perfekte maat – een uit vlees en bloed – te maak.
Reinhardt Holtz
Seisoen 4, Episode 1
Episode sinopsis: ’n Reeksmoordenaar wat 30 jaar laas gemoor het, les weer sy bloeddors.
Reinhardt Holtz het oor die afgelope dertig jaar alleen in die bos van mens na dier getransformeer. Hy is jare gelede genoop om op te hou om jong, verliefde paartjies te vermoor nadat hy in die kop geskiet is en blind geword het. Hy is een met die bos en kan met reuk en gehoor maklik sy weg vind. Oor die jare het hy sy moordlus gestil deur klein diertjies in die bos dood te maak, maar as hy onverwags ’n jong paartjie teëkom, ontwaak die reeksmoordenaar binne hom weer.
Denzel Cloete
Seisoen 1, Episode 13
Episode sinopsis: In die slotepisode van Die Byl se eerste seisoen loop Byl hom vas in een van die grootste reeksmoordenaars van ons tyd. Omdat die moordenaar telkens van modus operandi verander, is Byl nie seker of hy met meer as een moordenaar te doen het nie. Hy en sy span moet al hulle vernuf inspan om die moordenaar vas te trek.
Denzel is ’n super-reeksmoordenaar. ’n Man met verskeie modus operandi en met meer as 20 slagoffers op sy kerfstok. Denzel is in beheer, berekend, en pas sosiaal orals. Hy is ’n psigopaat, maar dié versekeringsmakelaar het ook ander probleme. Sy vrou wil kinders hê, maar hy is blyk steriel te wees, en sy ego laat hom nie toe om vir ’n vrugbaarheidstoets te gaan nie. Denzel knoop ook ’n vriendskap met ’n jong student aan en bewaar haar as sy laaste slagoffer.
Jan Albert Griessel (Apie)
Seisoen 2, Episode 3
Episode sinopsis: Die eenheid ondersoek die dood van ’n middeljarige vrou nadat haar erg ontbinde lyk gevind word.
Die liefdevolle, klein van statuur, onskuldige Apie is deel van die hospitaal se skoonmaakpersoneel. Almal ken hom en almal hou van hom. Saans, net voor hy huistoe gaan, lees hy vir die pasïente voor. Hy is desperaat om deel van iets te wees en aanvaar te word en “bou” dan vir hom ’n nuwe ma – iets wat hy as weeskind nooit gehad het nie. ’n Ongewone reeksmoordenaar wat soos meeste mense net ’n vastrapplek in die samelewing soek, maar tot desperate uiterstes gaan om dit te kry.