Die riller- en dramareeks Die Byl volg ’n speurder soos hy boer in die psiges van die reeksmoordenaars waarop hy jag maak. Op sy beurt, boer die gesoute akteur Waldemar Schulz weer in die kop van ’n speurder om Piet van Bijl, losweg gegrond op die lewe en loopbaan van die plaaslike misdaadjagter Piet Byleveld, met opregtheid te vertolk.
Die Byl se vierde seisoen, nou op DStv en DStv Online, sien weer hoe Van Bijl, oftewel Die Byl, hoëprofielsake ondersoek om reeksmoordenaars te laat boet.
Byleveld het glo ’n 99%-sukseskoers oor sy 38 jaar diens in die Suid-Afrikaanse polisiediens gehad en in Die Byl word die titelkarakter as ’n ewe suksesvolle, selfs briljante, speurder uitgebeeld.
In die vierde seisoen keer Lika Berning, Marvin-Lee Beukes, Tertius Meintjes, Milan Murray en Eric Nobbs saam met Schultz terug, met akteurs soos Deon Lotz, Marius Weyers en Sean Cameron Michael wat in gasrolle verskyn.
Schultz se spel as die hardnekkige Van Bijl is deurdag en fynbesnaard en dra by tot die skets van ’n boeiende karakterportret. Dít dien as die reeks se oorkoepelende tema en ons sien hoe die omvang en impak van sy toewyding tot sy dagtaak uitkring om uiteindelik elke sfeer van sy lewe te beïnvloed.
Daarmee saam vang Schultz ook dié befaamde super cop se eksentrisiteite vas – van kettingrook tot sy verwysing na reeksmoordenaars as sy “kliënte” – om die rol in te kleur.
Die reeks se openingstema het ’n spookagtige gevoel wat aan True Detective (stroom al drie seisoene van die HBO-bloemlesingsmisdaadreeks op Showmax hier) herinner en bied ’n goed ontwikkelde verwysingsraamwerk vir die donker en somber toon wat Die Byl se vertelling vorentoe dryf. ’n Boodskap aan die begin van elke episode maak dit wel duidelik dat reeks fiktief is en nié as ’n realistiese uitbeelding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens geag moet word nie.
Alhoewel daar ’n mate van druk is om die kern van Piet Byleveld vas te vang, is Die Byl nie ’n biografiese dokudrama-reeks wat op sy werklike sake gegrond is nie. Deur dit as fiksie te benader, is die skrywers, regisseurs en akteurs vry om die vertelling hul eie te maak.
Schultz het die werklike inspirasie ontmoet
Schultz het die ware “Byl” ontmoet ’n paar jaar voordat hy, ná ’n kort dog dapper stryd teen kanker, in die ouderdom van 67 gesterf het. Die ontmoeting was deel van die reeks se preproduksie-proses en het Schultz die geleentheid gegee het om ’n gevoel te kry vir die man wie se kundigheid die reeks geïnspireer het.
Schultz vertel dat “sy oë altyd rondgeskiet het, all over the show. Hy het alles ingeneem”. Hy beskryf Byleveld as ’n oplettende man wat gelyk het of hy ’n ryk innerlike wêreld het, en daar was ’n gevoel dat hy voortdurend besig was om iets uit te pluis, voeg Schultz by. Gebore om ’n speurder te wees…
Schultz vs Die Byl
Wanneer iemand so lank ’n rol speel soos Schultz in Die Byl, een van Suid-Afrika se langdurigste misdaadreekse, kan die vertolking tweede natuur word. Schultz sê egter dat omdat hy elke seisoen baie grondliggende werk doen om die karakter opnuut te bou, word dit nie noodwendig makliker nie.
“Dit is ’n liedjie” sê hy as beskrywing – veral vergeleke met die sepiekarakter wat hy destyds vir amper ’n dekade op 7de Laan vertolk het.
Hoewel Byleveld en Schultz ’n “uiters wrang en donker sin vir humor”, asook ’n naarstigtelike beheptheid met detail deel, is hulle uiteraard twee baie verskillende mense, sê Schultz.
Schultz het “geen lang stories oor metodespel nie” en voeg by dat die rol “nie iets is wat ek huis toe neem en oor depressief raak nie; ek werk nie regtig so nie”.
Die draaiboek is noodsaaklik vir wat hy op die skerm doen, sê hy. Hy maak oorvloedige notas as deel van sy voorbereiding, en neem dan intuïtiewe besluite tydens verfilming om sy vertolking so eg en opwindend moontlik vir kykers te maak.
Die geheim van dié boeiende misdaadreeks
Schultz beskryf die reeks se sukses as ’n “organiese dier” en “iets wat ‘n lewe van sy eie het”.
Dit is ook ’n bewys van die program se toegewyde skrywers, wat voortdurend werk om die intrigefaktor van vorige seisoene te oorskry.
Die akteur se gunsteling faset van die titelrol is die ondervragingstonele, “waar jy regtig die genialiteit van Piet sien en hoe sy gedagtes werk”.
Hoewel Schultz dit geniet het om elke seisoen te skiet en lief is vir die karakterverkenning in dialoogryke tonele, is die aksietonele (met minder lyne om te leer) ook nie te versmaai nie.
As ’n akteur is Waldemar “super nitpicky” oor sy spel en probeer om “krities te wees sonder om hiperkrities te wees”. Hy verduidelik dat om hiperkrities te wees gewoonlik daartoe lei dat hy sy spel verander – wat die karakter meer skade as goed kan doen.
- Binge seisoene 1-3 op Showmax.
- Kyk ook dié onderhoud met Schultz en Lika Berning op Kassie Kuiers.