Vir 29 jaar trek Ilse Klink (49) gehore in met haar vertolking van boeiende karakters soos Vanessa Booysens (Isidingo), Shireen Fortune (Skemerdans), Dorothy Galant (Arendsvlei), Maggie (Nêrens-Noordkaap) en tans as Marissa in die kykNET-sepie Binnelanders.
Meeste van haar karakters is sterk vroue met gravitas. Tog lê die verskille tussen dié rolle, tussen dié vroue, diep. Elkeen uniek, elkeen ’n uitverkorene in Ilse se hart. Die afgelope twee jaar was besiger as ooit vir dié spel-doyenne en Ilse beskou elke geleentheid om haar passie uit te leef as niks anders as ’n seëning nie.
Nuwe rol op Binnelanders
Op die oomblik verskyn Ilse Maandag tot Vrydag in Binnelanders (op DStv en Showmax beskikbaar), waarin sy die rol van Marissa, ’n sielkundige met twee seuns, vertolk. Jared (vertolk deur Gershwin Mias) is haar jongste en het saam met haar grootgeword, terwyl haar oudste Steve (vertolk deur Clint Brink) by sy pa moes agterbly toe hy nog net ’n kind was.
Ilse vertel dat haar karakter dekades gelede ’n drastiese en swaar besluit moes neem – wat haar moederhart nooit sou kon nie – en dit is om tussen jou kinders te móét kies.
Marissa se eks was oortuig dat Jared nie sy kind was nie en het haar mishandel.
Vir my is Marissa ’n sterk vrou wat bo haar omstandighede uitgestyg het en iets van haar lewe gemaak het. Sy was bang en desperaat, maar het daarin geslaag om haarself op te bou. Dit is hoekom ek haar storie wil vertel. Dit is belangrik en sal vir baie wat kyk, belangrik wees.”
Ilse Klink oor haar rol as Marissa in Binnelanders
“Sy het geweet sy moet wegkom, maar kon weens omstandighede net een kind saam met haar vat. Sy sou nie vir albei kon sorg nie en het vir Jared gevat, omdat sy bang was dat haar man die kind sou vermoor. Sy het gedink Steve sou veilig wees, maar dit was toe nie die geval nie,” vertel Ilse.
Haar karakter herinner haar baie aan Meryl Streep se karakter Sophie Zawistowska in die 1982-fliek Sophie’s Choice, waarin Sophie gedwing is om te kies watter kind vergas sou word en watter een na die arbeidskamp by Auschwitz gestuur sou word.
“Ongelukkig is dit ’n storielyn wat in die werklikheid meer gereeld gebeur as wat ons besef. Vir my is Marissa ’n sterk vrou wat bo haar omstandighede uitgestyg het en iets van haar lewe gemaak het. Sy was bang en desperaat, maar het daarin geslaag om haarself op te bou. Dit is hoekom ek haar storie wil vertel. Dit is belangrik en sal vir baie wat kyk, belangrik wees.”
Skrik vir niks
Om ’n ouer vrou te kan speel is vir hierdie veteraan-aktrise ’n lekker uitdaging. Daar is deesdae baie meer rolle wat geskep word vir ouer vroue en sy hoop dat dit haar nog vir jare sal besig hou.
Ilse is glad nie ’n vreemde gesig op die kassie of verhoog nie en daar is maar min tipe rolle wat die SAFTA-wenner nog nie vertolk het nie. Om haar akteurspiere te flex in ’n regte skop-skiet-en-donner- fliek, sal egter vir haar groot pret wees.
“Maar of hulle ’n aksieheld van 50 sal kies, weet ek nie,” sê die aktrise, wat vir niks skrik nie, terwyl sy skaterlag.
Daar is geen rol wat haar intimideer nie – sy sien eerder elke uitdagende rol as ’n geleentheid om as aktrise te groei en sy beskou haarself as geseënd om soveel verskillende rolle te kan vertolk. Of sy nou die sexy danser, uitkyk-antie, sakevrou, misdaadbaas of ma vertolk, is daar nie ’n spesifieke boks waarin jy hierdie veelsydige aktrise kan plaas nie.
’n Rol om oor te droom
Sy het al baie stories oor die afgelope drie dekades vertel en in baie vroue se skoene geklim, maar ’n rol wat sy nog graag wil speel, is dié een van ’n desperate ma.
“Die ma van ’n prostituut. Die vroue wat elke week in die kerk sit en met alles in haar liggaam teen prostitusie gekant is, maar wat weens desperate en haglike omstandighede haar dogter se seksgeld gebruik om kos te koop en te oorleef. Sy hou nie daarvan nie, sy wil dit nie doen nie, sy weet dit is verkeerd, maar sy voel sy het geen ander opsie nie. Sy bid dit weg, maar sy gebruik die geld. Dít is die karakter wat vir my uitstaan en wie ek dieper wil leer ken en speel.”
5 van die bestes
Sy laat elke karakter soos haar perfekte rol klink, lyk en voel, maar tog is daar vyf wat vir haar uitstaan en spesiaal is:
Vanessa Booysens (Isidingo)
Ilse het hierdie ikoniese rol vir amper ses jaar vertolk en voel sy het elke hoek van dié karakter verken.
“Jy kry nie altyd die geleentheid om so diep in ’n karakter te klim nie. Maar ek kon elke gawe en gedeelte verken, omdat ek haar vir solank gespeel het. Van ballroom tot sang en van ontvoering tot brandende liggame. Daar was baie lae met Vanessa en ek het dit verskriklik geniet om haar so diep te kan leer ken en speel.”
Vanessa sal altyd ’n rol na aan haar hart wees, sê Ilse.
Mama Morton (Chicago)
Om dieselfde karakter drie keer te kan speel en elke keer ’n bietjie anders, sal altyd vir Ilse ’n loopbaan-hoogtepunt wees. Chicago, ’n wêreldberoemde en bekroonde teaterproduksie het al in van die grootste teaters in die wêreld speelvakke gehad, van Londen se West End tot New York se Broadway en selfs in ons eie Artscape en die Teatro by Montecasino.
“Ek was mal daaroor om hierdie gulsige en manipulerende karakter te speel. O, en daardie Amerikaanse aksent was net so opwindend vir my. Om deel te wees van ’n internasionale hit gebeur nie sommer in jou loopbaan nie en hierdie rol was beslis daardie ongelooflike kans vir my,” sê Ilse kinderlik opgewonde.
“Om te sien hoe gehore reg oor die wêreld weggevoer word in die storie en liedjies was fantasties. Die rol het my ook natuurlik die kans gegee om die wêreld te verken. Ons het in China, Nieu-Seeland, Duitsland en regoor Europa opgetree. Dit was spesiaal.”
Maggie (Nêrens, Noord-Kaap)
Hierdie rol was iets waaroor Ilse lank en hard moes dink voordat sy ja gesê het. Tog is sy so bly dat sy die geleentheid aangegryp het.
“Dit is ’n belangrike storie, hul verhouding is spesiaal, maar vir ’n baie lang tyd was die rol van ’n huishoudster nie een wat aantreklik was nie. As ’n bruin akteur was dit iets waarvan baie onsself wou distansieer. It almost felt beneath us,” vertel sy.
Maar toe sy regtig na die sielkunde van hierdie belangrike karakter gaan kyk het, maak niks anders saak as dat Maggie soos ’n ma vir al die Adendorff-mans is nie.
“Dit is so maklik om verby hierdie karakters te kyk, maar ons besef nie hoe belangrik hulle in ons lewens is nie. Selfs in my eie huis speel ons huishoudster ’n baie belangrike rol. Mama, soos my seuns haar noem, het hulle grootgemaak terwyl ek moes gaan werk. Ja, ek is hulle ma, maar daar is beslis ’n baie spesiale band tussen die kinders en ‘Mama’. Ons almal het of ken ’n “Maggie” en ek wou my platform gebruik om hierdie belangrike karakter te vereer en te erken,” verduidelik sy.
“Aan die einde van die dag gaan dit oor die band tussen ’n vrou en kinders. Kinders wat nie haar eie is nie, maar wat sy met liefde grootmaak.”
Ilse sê wanneer sy ’n rol aanpak dink sy oor hoe die karakter beweeg, praat én voel en vat. Met Maggie was dit vir haar belangrik dat sy dink oor hoe Maggie se liggaam sou beweeg, hoe swaar haar bene dalk sou voel ná ’n lang dag op haar voete, hoe sy lyk en praat. Vir haar is dit altyd belangrik om ’n karakter so outentiek as moontlik te speel.
Tamara (Roer jou Voete)
Ilse beskryf dié geliefde karakter as ’n diep en interessant. Maar wat vir haar uitstaan van hierdie rol is die feit dat sy die mede-akteurs, sowel as die storielyn, baie geniet het.
“Ek het my regtig in hierdie rol ingeleef. Ek het op hierdie stel met Clint Brink en Nicole Fortuin gewerk en toe was Nicole nog ’n nuwe gesig. Ek het selfs as haar stunt double in ’n motor weggejaag omdat sy toe nog nie kon bestuur nie! Ek het baie by almal op daardie stel geleer en vir my is dit altyd verskriklik lekker om by ander te kan leer,” sê sy.
Shireen (Skemerdans)
Ilse vergelyk haar ervaring op die stel van Skemerdans (beskikbaar op Showmax) met dieselfde gemaklikheid en opgewondenheid wat jy ervaar as jy ná ’n lang kuier iewers anders weer huis toe kan gaan.
Dit was vir haar interessant om te besef dat dit die eerste keer was dat sy saam met ’n bruin regisseur en vervaardiger op ’n projek gewerk het. Iets met hierdie projek het anders gevoel, meen sy. Sy was trots en opgewonde en het vir die eerste keer tuis in haar eie vel gevoel.
“As akteurs sal ons maar altyd vra of mense gelukkig is met ons toneelspel, maar op hierdie spesifieke projek was ek vol selfvertroue. Ek het myself vertrou en ek het baie gemaklik gevoel. Ek het vir myself toestemming gegee om ontspanne te wees. Ek het baie, baie gemaklik gevoel en was opgewonde oor die karakter. Vir die eerste keer het dit vir my gevoel asof ek nie myself hoef te bewys nie.”