Soos sy al meer opgeruimd in haar vertelling van haar rol en ervaring as deel van die Ridley Scott-trefferreeks Raised by Wolves vertel, begin haar ‘r’ al harder rol. Mos Suid-Afrikaanse Engels. ’n Deurdringende verskil van die amperse Queen’s English-variant wat ons hoor as ons vir die eerste keer Kim Engelbrecht se karakter Decima in die openingstonele van die tweede seisoen ontmoet.
Raised by Wolves is reeds vir verskeie toekennings benoem en word deur Inverse só beskryf: “Ridley Scott se beste wetenskapfiksie sedert Alien…daar is geen TV-reeks soos dit nie.”
Raised by Wolves speel af ná die vernietiging van die aarde en draai om twee androïede wat mensekinders op ’n onbekende planeet, Kepler-22b, grootmaak. Mother (Amanda Collin) en Father (Abubakar Salim) se pogings om die kinders aan die lewe te hou word deur die een uitdaging ná die ander belemmer. Ook deur die mensdom se nimmereindige geloofsoorlog. In die nuwe seisoen moet Mother en Father saam met hul kroos van ses kinders by ’n nuutgevormde ateïstiese kolonie in Kepler-22b se geheimsinnige tropiese sone aansluit. Maar om hierdie vreemde nuwe samelewing uit te pluis, is net een van die (nuwe) uitdagings wat op hulle wag.
Decima is ’n kwantumswaartekrag-ingenieur wat ’n androïede-weergawe van haar dooie dogter gemaak het.
Decima, vertel Kim, is wêrelde verwyder van enige van die karakters wat sy oor die jare haar eie gemaak het.
Ons het haar eers as Lolly de Klerk in Isidingo leer ken, waarvoor sy twee Safta’s vir haar spel gewen het. Meer onlangs, het sy ’n wyer kring aanhangers as Marlize DeVoe in The Flash gewen. Op plaaslike front het sy uithalerspel in Reyka gelewer as ’n speurder wat deur haar kindertrauma gedryf word om geregtigheid vir ander te kry. Trouens, só hoog aangeslaan is dié reeks dat dit vir internasionale verspreiding in meer as 80 gebiede geoormerk is. Die kykers en erkenning raak, welverdiend, al meer.
Wetenskapsfiksie bied ryk verbeeldingsvlug
Raised by Wolves is wel nie haar eerste sci-fi-speelvak nie. Haar rol as sers. Norma Banks in Dominion het vir haar gewys, sê sy, hoe verwelkomend dié verbeeldingsveld is. Soveel so dat ’n mens nie anders kan as om groot, groter en grootste te droom nie. Raised by Wolves is wel ryklik kompleks en tematies spreek dit tot die mensdom se allesoorheersende behoefte om iewers, aan iets, of aan iemand te behoort.
Soos die eerste seisoen, is die tweede uittog ook in Suid-Afrika verfilm. Die landskap, berge en plante, is Kim eens, is van so ’n universele prag dat dit die perfekte plek is om as die planeet Kepler 22-B in te staan. Dit verleen dit moeiteloos tot selfs die rasendste verbeelding.
Dis natuurlik ook lekker om by die huis te skiet, sê sy. Dit het met ’n warrelwind begin. Sy het pas op die stel van Reyka klaargemaak en moes reeds die volgende dag met Raised by Wolves begin.
“Skielik gaan ek van ’n speurder in Reyka, tot ’n kwantumswaartekrag-ingenieur op Kepler 22b in die tropiese sone. Dis so mal,” sê sy.
Tog, voeg sy dan by, is dít juis wat die TV- en filmbedryf so besonders maak. “Jy vind die vreugde in iets nuuts begin. Iets anders. Wanneer gaan ek ooit die kans kry om in ’n ander wêreld te wees?”
En hier het sy ’n anderste skaal stel ervaar. Die verskil was wesenlik. ’n Green screen wat ’n paar verdiepings hoog en met hyskrane orent gehou is; plante en vrugte wat spesiaal vir die planeet geskep is – alles eetbaar! Dan ook ’n 3-D full body scan om ’n virtuele Decima te skep.
“Alles is groot, en hulle speel ook baie met die idee van grootsheid in die storie, veral in terme van skaal. Hulle sal dikwels ’n toneel skiet wat bloot deur die landskap gedryf word, met ’n karakter soos Father wat daardeur verdwerg word,” verduidelik Kim.
Meester van die genre
Buiten die gevestigde kykerbasis, was Kim ook oorgehaal om ’n rol te speel in ’n reeks wat deur die meester van die wetenskapsfiksie-genre geskep is. Ridley Scott, bekend vir flieks soos Alien, Blade Runner en The Martian, het, soos met sy talle flieks, hier ook ’n grootse storie met grootse temas in die lewe geroep. Geloof, familie, die deurdringendheid van tegnologie, vrae oor die mensdom en menslikheid. Die menslike ervaring, soos deur androids weergegee, smokkel met die kyker se kop. Soos dit ook moet. Die androids wil later nie meer nét oorleef nie. Hulle moet, om die kinders te kan grootmaak, ook menslike emosies verstaan. En hoe verstaan ’n mens emosies as jy dit nie self kan ervaar nie?
Die rol was nie sonder uitdagings nie. Aanvanklik, vertel sy, het die storie haar geïntimideer. Maar toe laat sy haar aan dié spesiale ontvlugting oor.
“As jy eers jouself daarin verdiep, en jouself toelaat om heeltemal deel van daardie wêreld te wees, raak dit baie makliker. Dis ’n realiteit wat nie bestaan nie. It’s not rooted in the real.
Die temas is egter wel.
“Oorhoofs draai dit om die behoefte om deel van iets te wees. Hetsy ’n godsdienstige of geestelike gemeenskap, familie, of wetenskap. Wat glo jy? Waarin glo jy? Glo jy in jouself of in iets buite jouself?”
Toegang tot ’n droomwêreld
Sci-fi, sê Kim, bied toegang tot ’n droomwêreld. “Ek dink almal wat van sci-fi, of selfs comics hou…wat ook al húlle droom, kan eintlik ook werklik bestaan of gebeur. Dis nogal fantasties. Daar is geen norm as sulks nie. Geen werklike stereotipe nie. So enigiets is moontlik en enigiets is geldig. Enigiets kan gebeur.”
Dis ook waar vir haar as ’n aktrise.
“Ek dink jy groei en verander voortdurend as ’n aktrise. Die mens wat ek tydens Dominion se verfilming was, is anders as wie ek tydens The Flash was en is ook baie anders as wie ek nou is. Selfs die mens wat ek tydens Reyka was, is anders as wie ek nou is.
“Soos ek verander, verander die rolle wat ek kry ook. Skrywers werk vir jare aan goed en hulle het ’n visie van wat hulle wil hê. Ek dink hulle kan iets in jou sien. Iets in jou oë, wat hulle oortuig dat jy reg vir daardie rol is.
“Ek dink die karakters wat ek speel, is sterk badass vroue. Maar om daai vroue te vertolk verg ’n mate van teerheid. Dít is wat jou dapper maak; daai kwesbaarheid is wat jou sterk en badass maak.”