Menu terloops
In Gons [21 Nov 2024]

Ontmoet Herman Bosman, ‘Wie word ’n miljoenêr’ se heel eerste miljoenêr!


Iemand het uiteindelik die miljoenrandvraag op die gewilde vasvraprogram ‘Wie word ’n miljoenêr?’ beantwoord. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

Ontmoet Herman Bosman, ‘Wie word ’n miljoenêr’ se heel eerste miljoenêr!

Die 47-jarige Herman Bosman het Woensdagaand, in die 12de episode van Wie word ’n miljoenêr? se derde seisoen, sy laaste hulplyn na sy 75-jarige ma, Vida Bosman, ingespan om die finale vraag die hoof te bied.

Die Afrikaanse weergawe van Who wants to be a Millionaire? is ’n Sony Pictures televisieformaat en is sedert 2021 ’n naelbyter op kykNET. 

Rian van Heerden, Wie word ’n miljoenêr? se aanbieder, se vraag aan Herman was: “Watter relikte wat in Parys se Notre Dame-katedraal bewaar word, is ongeskonde ná die 2019-brand?”

Vida was in die kol deur aan haar seun te sê dat dit die “doringkroon” is. 

Herman, wat saam met sy lewensmaat Anthony Rau ’n blommeplaas in George bedryf, is ’n ingenieur en het chemiese ingenieurswese by Tukkies geswot. Daarna het hy sy PhD in Amerika by die Universiteit van Michigan gedoen. 

Waar kom jou liefde vir vasvraprogramme vandaan?

“Ek het op skool al ’n liefde gehad vir algemene kennis en vasvrakompetisies. Wanneer ons gesin oor skoolvakansies by my oom en tannie hulle gaan kuier het op die plaas sou ek altyd die boks Trivial Pursuit-kaartjies saamvat en deurlees. Ek het ook altyd goed gedoen met die algemene kennis-kompetisies by die skool.

“Ek het in Graad 11 ingeskryf vir ’n skolevasvraprogram op Afrikaanse Radio (RSG se voorganger). My ma moes my nog een middag na skool Durban toe vat om van die SABC studios af deel te neem. Ek het in die eerste program uitgeval, maar die ou wat my gewen het, het darem aangegaan om die hele kompetisie te wen. Vir een van die vrae op daardie program het hulle ’n klomp leidrade gegee waarmee ons ’n bekende persoon se naam moes raai. Ek onthou nog die antwoord was Johnny Clegg gewees, maar ek was net-net te stadig met my buzzer. Meer as 30 jaar later is ek nog steeds so klein bietjie bitter oor daardie een!”

Hoe voel dit om teen die vyf ander deelnemers die vinnigste vingers te probeer wees? Hardloop jou kop rond of het jy ’n tegniek om kalm te bly?

“Die Vinnigste Vingers-ronde was vir my die grootste struikelblok in die kompetisie, want jy moet reg én vinnig wees. My benadering is om eers net te fokus op die vraag, dan die volgorde reg te kry in my kop en dan om dit in te tik.

“Ek was baie verras toe ek in die eerste Vinnigste Vingers-ronde die enigste een was om die vraag reg te beantwoord. Ek kon baie maklik uitgemis het op die warm stoel as een van die ander vyf deelnemers my daar voorgespring het. Gelukkig gee die produksiespan darem vir ons ’n oefenronde voordat die program begin, en dit het gehelp om die senuwees te kalmeer. Wanneer ek eers op die vrae begin fokus, is dit vir my maklik om enige ander afleidings te ignoreer, amper asof ek sit en ’n eksamen aflê.” 

Het jy enige spesifieke voorbereiding gedoen vir jou deelname aan Wie word ’n miljoenêr?

“In die weke voor die program het ek (en noodgedwonge Anthony) heelwat dokumentêre programme gekyk om my algemene kennis op te skerp. Ek was bietje senuweeagtig gewees oor my sportkennis. So, ek het ook daarop gefokus. Aangesien ons in ’n Olimpiese Spele-jaar is, het ek opgelees oor Suid Afrika se geskiedenis by die Spele, en toe kry ek wragtig ’n vraag daaroor op die program.

Was daar in enige stadium ’n tyd dat jy besef het die kans op die R1 miljoen is haalbaar?

“Die vrae word geleidelik al moeiliker en moeiliker. So, jy is nooit regtig seker tot op die laaste vraag of jy die miljoen kan wen of nie. Gelukkig was ek redelik konserwatief met die gebruik van my hulplyne, en ek kon nog my bel-’n-pel gebruik vir die laaste vraag. Ook maar goed so, want ek het regtig nie ’n benul gehad wat die antwoord was nie. 

“Ek het vir my ma gehad as een van my bel-’n-pel-kontakte, en ek het ’n voorgevoel gehad dat dit die tipe ding sou wees wat sy miskien sal weet. Maar ek was ook voorbereid gewees om weg te stap met die halfmiljoen eerder as om ’n wilde raai te vat op die laaste vraag. Maar toe my ma eers sê sy onthou iets van ’n kroon – tóé was ek seker.”

Wie word 'n miljoener
Die groot oomblik… Foto: Skermgreep

Van al die vrae wat jy in die episode moes antwoord, watter een was vir jou die moeilikste?

“Die vraag oor die naam van die helikopter op Mars het my amper gefnuik. Al die vier opsies het so eenders geklink. Dit is die vraag waar ek my 50/50-hulplyn gebruik het, en gelukkig kon ek makliker (en uiteindelik reg) kies tussen die twee oorblywende antwoorde.” 

Jy het ’n besonderse verhouding met jou ma, Vida. Vertel vir ons meer van haar en die rol wat sy in jou lewe speel.

“Ek het my liefde vir lees van jongs af by my ma geleer. Sy sou nooit van die biblioteek af teruggekom het met net een boek nie. Dit was altyd ’n stapel boeke op ’n slag. En sy onthou alles – boeke, musiek, name, datums. Jy kan haar nie sommer vasvra nie. 

“Ek het ná die program eers besef dat hierdie nogal ’n familiepoging was. My pa het my aangemoedig om in te skryf, en my ma het my gehelp met die miljoenrandvraag. Hoera, vir Span Bosman!”

Kan jy beskryf hoe dit gevoel het toe jy besef het daardie R1 miljoen is inderdaad joune?

“Toe die konfetti-kanonne skiet, het alles so vinnig begin gebeur. Jy het amper nie tyd om dit alles in te neem nie. Rian en die produksiespan was ook baie goed daarmee om die spanning te laat opbou tot op die laaste sekonde. Die miljoen randjies is natuurlik baie welkom, maar, om eerlik te wees, die lekkerste deel was vir my om al die vrae reg te kry. Ek is nogal mededingend met hierdie tipe van kompetisies, en nou kan ek vir altyd spog dat ek die eerste kykNET-miljoenrandwenner was.

Wat is jou beste raad aan voornemende deelnemers aan vasvraprogramme soos Wie word ’n miljoenêr?

“Skryf in! Wie nie waag nie, wen nie.”

En wat is volgende? 

“Die geld gaan alles teruggeploeg word in ons plaas en blommebesigheid. Ons het meer plannetjies as wat daar voor geld is. So, ons gaan mooi moet dink oor waar om te begin. Maar die plaasbakkie is al klaar gekoop kort nadat die program opgeneem is. En dit ry sover baie, baie lekker!”


Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Vonke spat tydens semifinaal… en kelder toe dié twee braaiers

’n Fynproewersdis, ’n lang resep en kreatiewe verskille het daartoe gelei dat twee van kykers se gunsteling-deelnemers op 'Kokkedoor Vuur & Vlam' hul voorskote moes ophang.

Meer

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud

Die Britse reeks 'Adolescence', oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Meer

The Handmaid’s Tale S1-6

Op Showmax

Blessed be! Seisoen vyf tel op nadat June wraak teen haar ontvoerder, teisteraar en verkragter, bevelvoerder Fred Waterford, geneem en hom met haar kaal hande uitmekaar geskeur het.
Meer

The Last of Us S1-2

Op Showmax

Die tweede seisoen van ‘The Last of Us’ begin vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se onlosmaaklike leuen aan Ellie (Bella Ramsey).
Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies