Toe die akteur, draaiboekskrywer en voormalige tromslaner van Zinkplaat, Beer Adriaanse, op ’n skatkis van herinneringe wat hy gedink het vir ewig verlore was, afkom, was hy nie seker wat om daarmee te maak nie. Maar Dirkie van der Merwe, wat saam met Beer die einste musiektoere gereël het wat daardie herinneringe – die skatte in daai krat – help skep het, het hom oortuig dat daar ’n storie onder die stof lê. En dat dié storie, een van dobberende ontdekking, grootword en jeugdige rebellie, op ’n skerm hoort.
Vergeet van my, wat onder die vaandel van DPK Productions geskep is, verloop baie soos die lees van ’n storieboek met Beer as verteller en die uitsluitlike gebruik van argiefmateriaal. Maar wat die kyker uiteindelik in ’n baie, baie tight 35 minute op die skerm sien, is ver verwyderd van die oorspronklike konsep wat Dirkie aanvanklik aan die Silwerskermfees se besluitnemers en boontjietellers voorgelê het. Dié verhaal is ook, in groot mate, net die begin. Alles omtrent Vergeet van my is tergend in hoe dit selfs jou vaagste herinneringe van ’n vervloë jeug kielie.
Die begin
Die aanslag, sê Beer, was uit die staanspoor een van hul grootste uitdagings.
“Die eerste videomateriaal wat ons gevind het, was oor die Derde Avontoer. Die Avontoere was ’n reeks musiektoere tussen 2006 en 2012. Tydens daai Derde Avontoer het ons ook ’n fliek geskiet wat nooit die lig gesien het nie. So ons aanvanklike idee was om die ware verhaal van hierdie fiktiewe fliek, wat op ’n real toer geskiet is, te vertel.”
Die idee het egter gou té gekompliseerd geraak. Té meta. Die ommeswaai kom toe in die vorm van ’n hardeskyf met beeldmateriaal van die Eerste en Tweede Avontuur wat ’n oud-Seerower (soos diegene wat die toere beleef én oorleef het, gedoop is) Stephanus Rabie (nou ’n regisseur en vervaardiger) gestuur het.
“Toe het ons ’n argief van goud.”
’n Skatkis, ja, maar steeds het hulle geweifel oor hoe om dan die storie te vertel.
“Ons het lank oor die idee van herinneringe en hoe ons dinge onthou – en ook verskillend onthou – gepraat,” sê Dirkie. “Ons wou dít, ons uiteenlopende recollections van ’n enkele gebeurtenis, gebruik en dan beeldmateriaal wys van wat werklik gebeur het.”
Soos die spieël wat nooit bestaan het nie, sê hy laggend. Hulle spot dat hulle vir die langste tyd oortuig was dat sanggroep, The Orange Stilettos, ’n spieël tydens die Eerste Avontuur saamgebring het, en dié storietjie aanvanklik as feit in die narratief ingeskryf het. Maar Beer en Pierre-Arnold Theron, die dokumentêr se redigeerder, kon ná ’n geswoeg deur die beeldmateriaal geen teken van die (verbeelde?) spieël vind nie.
“Toe gaan ons terug en herskryf daai hele deel. Dit was vir ons belangrik om eerlik te bly oor hoe dinge uitgespeel het, al is dit dan nou dat jou herinneringe vol gate is. Dit wat jy kán regkry, moet jy dan regkry.”
‘Show, don’t tell’
Hulle het egter steeds, volgens die voorgeskrewe Silwerskermfees-formaat, net 30 minute vir die dokkie gehad.
“Ons het vinnig besef ons sou nie kon wegbreek van die argiefmateriaal na talking heads toe nie,” verduidelik Beer. “Dis vir my meer waardevol om vir mense te wys, eerder as om konteks te skep. Show, don’t tell.
“As ons moes uitsny in die 30 minute wat ons gehad het, sou 15 minute daarvan in die hedendaags met mense in kamers gewees het, en dit het net glad nie sin gemaak nie. Nie as jy met daai goud sit nie. Om mense te sien met selfone ronddonner in die vroeë 2000s, is 100% wat ek eerder wil sien as ’n klomp talking heads.
“Daarna was die uitdaging dat ons net tyd gehad het het om een persoon se weergawe van die storie te vertel. Toe moes ek vir Dirkie en Bertie Coetzee, Zinkplaat se hoofsanger en mede-organiseerder van die toere, sê: ‘Ouens, hierdie gaan my weergawe wees, sorrie vir julle!’”
Die verteller
Maar Beer was steeds hande in die hare, want, hoewel hulle nou die story beats gehad het, het hy nie geweet hoe hy ’n volledige boog daaruit sou skep nie. Hy is egter geïnspireer deur die werke van die filmmaker Agnès Varda, wat hy en sy verloofde, die aktrise Carla Smith slaafs gekyk het. Veral ten opsigte van hoe Varda haarself 100% toegewy het om ’n storie te vertel.
“Die tekstuur wat jy dit gee, is gekoppel aan jou persoonlikheid. En dit was vir lank die probleem. Ek het nie geweet hoe om die ding namens my, Bertie en Dirkie te vertel nie, maar sy (Agnès Varda) het eintlik vir my ’n lisensie gegee om die storie te volg soos jy dit vind. Moenie met vooropgestelde idees kom van wat jy wil sê nie. Sien waarheen dit jou lei. Dís ’n reckless abandon. En dit speel in met hoe daai toere was. Dit was net spring en dan figure ons dinge uit soos dit gebeur.”
Hy het dus die teks vir sy vertellersrol omsigtig aangepak. Sy grootste vrees? Dat dit ’n “circle jerk” raak.
“Ek is baie lief vir dokkies, en het al baie dokkies gekyk waar die rolspelers in die verlede vasgevang word, en hulle kan nie hul ego heeltemal daaruit haal nie.”
Te verstane – hoe anders praat ’n mens dan oor jou eie lewe se herinneringe?
Maar vir Beer en Dirkie sou so ’n uitkoms, ’n klop-op-die-skouer-toon, die antitese wees van waaroor die Avontoere gegaan het.
“Die red flag was enige soetsappige nostalgie. Dit was iets waarteen ons heeltyd gewaak het,” sê Dirkie.
Enige storieverteller se goue reël, show don’t tell, of hoe?
“Moenie vir my sê ek moet nostalgies voel nie, wys vir my wat gebeur het en ek sal voel of dit my nostalgies maak of nie,” meen Beer. “En dit is ook hoekom dit beter was om in daai argief te bly. Die haziness van die materiaal… Die beeldmateriaal praat eintlik reeds vir ons almal wat daar was. Dis hoe goed gelyk het daai tyd, dis hoe goed gevoel het daai tyd.”
Die begin van iets groter
Dit maak meer sin – en is waarskynlik meer waardevol vir die kyker – om Vergeet van my as deel van ’n groter geheel, ’n begin, te sien. ’n Groot deel van die legkaart, dalk selfs ál die randstukkies waarsonder die res van die bouwerk maar baie swaar gaan, maar steeds net ’n deel daarvan.
“Ek dink daar is baie waarde daarin om die volledige storie te vertel,” sê Beer. “Ek dink dit sou kon werk as ’n beperkte of minireeks, bestaande uit minstens vier episodes. Daar is definitief genoeg beeldmateriaal en daar is genoeg storie waarby ons nie uitgekom het nie; waar ons nie die afdraaipaaie gevat het nie. Die invalshoeke is legio, en ek wil amper sê die uitvalshoeke ook; waarheen dit gelei het en waarheen dit kón gelei het. So, as ons ’n geldjie kry, dan ja, absoluut, dit sal wonderlik wees. ’n Heel ander eksperiment.”
Volsirkel-oomblik
Dit het egter, vertel hulle, nogal baie paaiwerk van Dirkie se kant af geneem om Beer te oortuig om die dokumentêr aan te pak. Want ja, hy het oorweeg om glad niks met daai krat en sy skatte te doen nie.
“Dié projek is eintlik volsirkel vir my,” sê Beer dan. “In 2012 het Dirkie, terwyl ek in Duitsland geswot het, vir my ’n e-pos oor die Silwerskermfees gestuur en aangemoedig om in te skryf. Dís hoe dit gebeur het dat ek my eerste kortfilm, Die buurtwag, gemaak het. En nou is dit jare later en hy sê toe weer, kom ons maak iets. En ek het seker 17 keer vir hom gesê hier is nie ’n storie nie, kom ons las dit net. Maar toe Faan (Stephanus Rabie) daai hardeskyf stuur en ons die res van die skatkis vind, toe ontplof die wêreld op ’n manier. Toe is dit skielik iets interessant wat ek vir mense wóú wys.”
Hy vertel, begeesterd, van hoe vervullend dit was om met mense kontak te maak met wie hy jare terug gepraat het soos hulle ’n tipe all-call na hul Seerowers vir buried treasure, vir beeldmateriaal van jare terug, uitgestuur het.
“En toe het almal begin foto’s stuur. Alex (Fourie) van Fotonadans, Annie Klopper… Toe raak dit hierdie ding van kom ons kry als wat ons kan kry. Ons kort eintlik ’n argivis om van als sin te maak.”
Op daai punt vertel Beer dat hy reeds met die Universiteit Stellenbosch se musiekargief kontak gemaak het om te hoor of hulle van die goed vir hulle kan gee om te hou. “Net om ons aandeel in die geskiedenis van hierdie musiekboom van Suid-Afrika, ons appeltjie, daar aan die een tak te hang.”
Jonger selwe
Laat ek oop kaarte speel. Ek ken Dirkie al van graad 1 af en dis danksy hom dat ek opgewonde was om my eerste bril in graad 2 te kry, en ook dat ek die “Nagmars van Standerd 4” (of was dit die jaar daarna?) oorleef het. (Ons was ewe blind, maar hy het sy flits met my gedeel.)
Vir Beer ken ek ook sedert ons eerste jaar op Stellenbosch nadat hy en Dirkie in dieselfde koshuis ingedeel is. Later het ons saam joernalistiek geswot. Tussen my en ons ontslape vriend Siya is daar soms rock, paper, scissors gespeel, want om vir Beer wakker te maak as hy die vorige aand in die departement aan die slaap geraak het, was… moeilik. Ek deel hierdie konteks, want om dié jonger weergawes van hulle op skerm te sien, het my eie herinneringe opgediep. Die amperse tasbaarheid was onverwags; lieflik eintlik. En oënskynlik geld dieselfde vir hulle.
“Dis nogal interessant om jou jonger self op skerm te sien,” sê Dirkie. “Veral omdat my verhouding met Marisa, my vrou, toe begin het. In daai stadium het sy my net twee maande geken, maar sy het saam met my op die toerbus geklim. Ons was al gewoond aan daai wêreld. Maar vir haar om reguit daarin ingegooi te word en om nou weer te sien hoe dit van buite af gelyk het… Totale chaos.”
Beer is, op sy beurt, ook onverhoeds deur die ervaring betrap.
“Ek het nou ses maande met my vriende se jonger selwe gespandeer, asook met mý jonger self. Dit het my onkant gevang hoe vervullend dit vir my op sielsvlak was. En hoe ek oor my huidige lewe moes herbesin. Want as ek so na ons almal kyk… daar’s ’n vonk in daai oë, en waar’s dit? Hoekom is dit nie meer daar nie? Waar is daai dapperheid? En wat het ek toegelaat dat die wêreld my in sommige aspekte van daai vonk beroof het? Het ek goeie rede om nie meer daai vonk te hê nie? Daai geloof dat die heelal jou sal vang as jy spring.”
Grootste lesse en dankbaarheid Dirkie: “Ons het al narratiewe kortfilms gemaak, maar nog nie ’n dokkie nie. Maar selfs dokkies kan baie van mekaar verskil; met narratiewe dokkies kan jy byvoorbeeld baie goed script en reël. Ons projek het heelwat buite die gewone riglyne geval, maar die Silwerskermfees het vir ons baie grasie gegee. Die kreatiewe sy was baie cool gewees.” Beer: “As ek dit moet vergelyk met 2012 toe ons Die buurtwag gemaak het – ek was toe redelik vars uit die musiekbedryf, so ons het dit 100% met ’n cowboy-ingesteldheid benader. Die fees het ons toe die vryheid gegee om ons weergawe van ’n kortfilm te maak. Ek het gedink dat hulle dalk intussen die skroewe ’n bietjie stywer gedraai het en strenger sou wees, maar hulle het oopkop gebly. Ek is baie dankbaar vir die geduld wat hulle met ons gehad het.” |
‘Vergeet van my’
Mense wat met Foto na Dans se musiek vertroud is, sal die dokumentêr se titel ook as een van dié musiekgroep se grootste treffers herken.
Daaroor sê Beer dat dit amper vanselfsprekend is dat dít die titel moes wees.
“Die liedjie was ons amptelike kreet op die Eerste Avontoer. Die tweede strofe van die liedjie sê immers ‘volg die roete van Desember’.”
Dirkie voeg by: “Die titel sluit ook aan by die idee van om deel van ’n groep te wees. Vergeet van my as ’n individu, want ek is deel van hierdie groter ding, hierdie groter droom. Ons is ook ’n bietjie van daai ‘vergete’ generasie toe selfone nog nie oorheers het nie. Jy sien in die dokkie op watter foon ek praat; dis ’n SMS-foon! Jy moes drie keer die knoppie druk om by ’n c uit te kom.
Le-Roi Nel, Foto na Dans se voormalige hoofsanger, het ook die klankontwerp vir dié dokkie gedoen, asook help skep aan die oorspronklike klankbaan. Le-Roi het al op etlike plaaslike produksies gewerk, waaronder die klankbane van drie van Beer se onlangse projekte, Ekstra medium, Laastes en Parable.
“Hy is een van my beste vriende,” vertel Beer. “Maar ook, wanneer hy musiek maak, voel dit asof iets in my maag draai – op ’n goeie manier. Asof iets in my oerkoek gestimuleer word. En as jy uit jou oerkoek, jou diepste wese, wil skep, help dit om iemand te kry wat minstens met joune kan gesels.”
Lof vir Silwerskermfees “Ek voel ook soms soos die Silwerskermfees se mascot, want ek vertel vir elke liewe persoon met wie ek paaie kruis en wat in die bedryf wil kom: ‘As julle wil begin, doen dit daar,’” sê Beer. “Want niemand anders gaan vir jou geld gee om te leer nie. Niemand anders gaan vir jou nie voorskryf watter genre dit moet wees nie. Hulle gaan goeie mentorskap bied met regte teksmentors, met regte regisseurs en vervaardigers. Die fees het, volgens my, letterlik Afrikaanse film se tweede revolusie veroorsaak.” |
Onthou dít
“Chill uit. Keep going. Don’t lose the energy,” sê Beer oor wat hy vir sy jonger self nou sou sê.
“Ek het vir Carla gesê ek kan nie help as om trots te wees op ons as ’n groep mense wat hierdie goed laat gebeur het. As dit ek alleen was, sou ek vir alles net nee gesê het. My geaardheid is meer van, ‘Nee, dit gaan nie werk nie, stop.’ Ek is altyd eers ’n pessimis. Daar is ’n mate van trots dat ons hierdie toere gedoen het. En niemand is dood nie… Maar dis ook die ding van as jy kan glo dat die heelal jou sal vang as jy spring.”
Koop kaartjies vir die 2024 Silwerskermfees op Quicket. Vanjaar se fees loop van 28 tot 31 Augustus 2024.