Menu terloops
In Silwerskermfees [26 Aug 2024]

Simoné Pretorius oor regisseursdebuut: ‘Ma-wees help my om drome vreesloos aan te pak’


Sy het sowat ’n dekade terug haar Silwerskerm- en loopbaandebuut in Bouwer Bosch en Bennie Fourie se kortprent ‘Vuil wasgoed’ gemaak. Intussen het die aktrise Simoné Pretorius as ’n talentvolle aktrise ontluik, met rolle in die gewilde sitkom ‘Hotel’, die hospitaaldrama ‘Hartklop’, en flieks soos ‘Vir die Voëls’, en ‘Wonderlus’. Haar nuwe rol, as regisseur, is egter wat nou wind in haar werkseile blaas.

Deur Rozanne Els
Simoné Pretorius oor regisseursdebuut: ‘Ma-wees help my om drome vreesloos aan te pak’
Kyk lokprent

Oor die jare het dit “amper ’n bietjie vervelig geraak om net een klein aandeel te hê,” totdat dit uiteindelik onmoontlik geraak om nie haar gekoesterde regisseurdroom los te laat nie. En so maak Simoné Pretorius (voorheen Nortmann) dan vanjaar haar regisseursdebuut by die Silwerskermfees met die vollengte speelfilm Som van Twee. Sy is ook een van die fliek se draaiboekskrywers. 

“Dit is al vir tien jaar ’n droom,” sê Simoné oor hoekom sy die regie-leisels op die film geneem het. 

“Op die stel van Vir die voëls het Bennie Fourie vir my ’n boek aanbeveel, Directing Actors deur Judith Weston. Dit het in daardie stadium meer gedien as handleiding om te verstaan wat ’n regisseur van ’n akteur wil hê, maar ek het onmiddellik besef ek lees dit met ’n ander hoed op. Dit het later op verskeie projekte moielik geraak om nie myself te regisseer nie, en teen die laaste rol wat ek gehad het, het ek besef ek wil nou in beheer wees. Terselfdertyd het ek ook aan erge imposter syndrome gely en in my eie vermoë getwyfel.”

Simone Pretorius as dr. Elani Breytenbach
Simoné Pretorius as dr. Elani Breytenbach in Hartklop. Foto: Verskaf
Hartklop
Simoné Pretorius as dr. Elani Breytenbach in Hartklop. Foto: Verskaf

Simoné het in 2019 haar eerste draaiboek geskryf, maar dit sou nog vyf jaar en drie onontwikkelde draaiboeke op die rak neem, voordat sy as regisseur ’n projek sou aanpak. 

Dit het later op verskeie projekte moielik geraak om nie myself te regisseer nie, en teen die laaste rol wat ek gehad het, het ek besef ek wil nou in beheer wees. Terselfdertyd het ek ook aan erge imposter syndrome gely en in my eie vermoë getwyfel.

Simoné Pretorius

En die speelfilm Som van twee, ’n komedie-drama met die charismatiese Louw Venter en die altyd-briljante veteraan James Borthwick in die hoofrolle, is ’n besonderse storie om as debuut te maak. 

‘Som van twee’ se ‘absurde’ wortels

Die storie draai om die gevolge van ’n rowwe faux pas wat Henk (Venter) begaan as hy op sy vrou Nicolene se begrafnis bieg dat hy destyds die matriek-wiskundevraestel uitgelek het. Wanneer die onderwysdepartement dan besluit die hele klas van 1990 moet dié eksamen herskryf, vra Henk sy seun, Renier (Adriaan Havenga) om hom te tutor, maar dit sukkel. Dié pa-seun-verhouding is immers al hul hele lewe lank stram en gespanne. Henk se pa Gert (Borthwick) meng ook kort-kort in en dis nie lank nie of dinge ruk handuit.

Die storie se wortels is so effe absurd, maar ja, dit is gegrond op ware gebeure, skerts Simoné. 

Som van twee, Simone Pretorius, Silwerskermfees

“Liani Janse van Rensburg, die mede-draaiboekskrywer, het op ’n artikel afgekom oor ’n vrou in Nederland, Melissa Kelderhoff, wat tydens ’n skoolreünie erken het dat sy haar matriek-biologievraestel vooraf gesien het. Die storie het by die minister van onderwys, kultuur en wetenskap uitgekom en dié het beslis dat die hele land se 1992-matriekgroep hul biologie-vraestel weer moes skryf. Ons storie het natuurlik ’n paar gedaanteverwisselings ondergaan. Daar was eers ’n karakter met die naam Melissa wat ’n pasiënt van Henk was en haar bekentenis by die reünie en die gevolge daarvan op Henk gepin het. Ek het later besluit dat dít net té verwyderd van Henk is, en om die stakes te raise, het ek vir Henk die sondebok gemaak. Maar ’n mens kry hom dan jammer want hy erken dit so half per ongeluk by sy vrou se begrafnis.”

‘Rolverdeling was belangrikste’

Simoné vertel dat sy uit die staanspoor akteurs gesoek het wat sterk in drama én komedie is – veral vir die karakters van Henk en Gert. 

“Die rolverdeling was die belangrikste aspek van hierdie film,” voeg sy by. “Vir Henk en Gert het ek twee akteurs per karakter in gedagte gehad, maar hoe meer ek die teks verfyn het, hoe duideliker het dit geraak dat ek niemand anders as Louw Venter en James Borthwick kon gebruik nie.

Som van twee, Simone Pretorius
Louw Venter as Henk. Foto: Verskaf

“Louw het veral baie kleur na sy karakter gebring. Hy het Henk se ontrafeling so mooi vasgevang; hy het hom likeable gemaak en dimensie gegee. Hy is nie net die patriargale pa wat met aggressie sukkel nie. Hy wíl deurbreek na sy seun, maar sukkel. Daardie charisma was nie iets wat ek kon skryf nie, Louw het dit verpersoonlik.”

Sy het teenoor James in Hotel gespeel en is beslis dat hy een van die talentvolste akteurs is met sy al gewerk het. 

“Sy sin vir humor en toewyding is ongelooflik om te aanskou.”

Som van twee, Simone Pretorius
James Borthwick as Gert. Foto: Verskaf

“Adriaan Havenga het ’n onskuld en sagtheid na die karakter gebring wat hier en daar agter sy halstarrigheid en woede kop uitgesteek het. Hy het my deurgaans met sy keuses verras. Adriaan het voorheen een van my acting-werksessies bygewoon, en ek het hom gevra om vir my ’n oudisie af te lê,” vertel Simoné. 

Som van Twee
Adriaan Havenga as Renier. Foto: Verskaf

“Greteli de Swardt was ook ’n maklike keuse; haar sjarme en spontaniteit is aansteeklik; en die oomblik wat ek Righard van Jaarsveld se oudisie gesien het, het ek geweet hy is Basjan. Ek het tydens sy callback al vir hom gesê hy het die rol.

Som van twee, Simone Pretorius
Greteli de Swardt as Vicky. Foto: Verskaf

“Petrus se karakter is een honderd persent geskryf met Pierre Breytenbach in gedagte.”

Só ook, snaaks genoeg, die rol van Fanie, wat deur Simoné se swaer, Ronnie Dombai, vertolk word. 

“Hy is glad nie ’n akteur nie, maar ek het heeltyd sy stem gehoor terwyl ek die karakter se dialoog geskryf het. Toe, een aand by ’n braai, het ek ’n teks in sy hand gestop en gesê hy moet gou bietjie act. Ek was gelukkig en hy stem toe in om te kom speel. Ek het toe ook sommer sy vrou, Annetjie, as die gesig van Nicolene gebruik.”

Moeilikste toneel regisseur
“Die einde, waar Henk by die show opdaag, was by verre die moeilikste en die een wat die langste gevat het om te skryf. Dit sou aanvanklik heeltemal anders eindig, maar ek besef het dat Renier se karakterboog nie tot volle reg kom nie. Dit was die toneel wat ek nog tot op nommer 99 herskryf het. Dit was moeilik omdat mens nie cheesy wil wees nie, maar ‘absent father arrives at son’s important event’ bly ’n bekende trope, so dis soos om deur ’n mynveld te loop. Jy wil nie hê die karakter moet self-indulgent raak agter die mikrofoon nie, maar jy wil dit nie so blasé maak dat dit nie treffend of eg is nie.”

Vele rolle

Die draaiboek het baie draaie geloop voor die karakters ge-settle het en die temas mooi deurgekom het, vertel Simoné later. Maar haar rol as draaiboekskrywer het “sonder twyfel” ’n grondslag gelê wat later haar werk as regisseur sou vermaklik, meen sy. 

Jy skryf met iets spesifieks in gedagte en wanneer jy op die vloer kom, moet jy aan jou akteurs oorgee, sê Simoné oor die wisselwerking tussen spelers en regisseurs. 

“Dis ’n mooi dans. Jy moet vir hulle genoeg vryheid gee om te explore, maar binne die perke van jou visie.

“Dit het gehelp om die proses deur te voer tot op die vloer en toe te laat dat die akteurs dit verder vat en asem in hulle blaas. Terwyl ek geskryf het, het ek al performances in my kop direct en terwyl ek direct het, het ek herskryf. Die twee het mooi saamgewerk.”

So óók het die kombinasie van komedie en drama saamgewerk om ’n treffende raamwerk vir die vertelling te bied, voeg sy by. 

“Dis die tipe stories wat my nog altyd die meeste beïnvloed het. Ek is ’n groot voorstaander van komedie-drama omdat dit vir my die naaste aan die werklikheid is. Komedie laat mense ontspan en lekker voel, drama laat mense by mekaar aanklank vind. Mens het beide nodig.”

Dat die film se vermenging van ’n lag en ’n traan, en ook die tema van verlies wat op die oppervlak deur Nicolene se afsterwe en op ander vlakke meer subtiel aangespreek word, dit makliker vir ’n gehoor maak om hul met die storie te vereenselwig is vergewis. Tog, die relatability van die film was nie iets wat Simoné doelbewus nagejaag het nie. 

“Ek’s baie dankbaar dis relatable. Veral omdat die omstandighede rondom die wiskunde-storie dalk onrealisties mag voel – dis so ’n absurde idee, al het dit werklik gebeur. Maar dit was nie doelbewus nie. Pyn is ’n natural unifier en ek het nodig gehad dat die gehoor medelye met Henk moet hê. Om iemand se donkerste oomblikke te aanskou, help daarmee.”

Komplekse pa-seun-verhoudinge 

Die verhouding tussen Gert en Henk – en dan ook Henk en Renier – is ’n interessante uitbeelding van verskille tussen generasies, veral wat hul verskillende rouprosesse betref. Daaroor sê Simoné dit was vir haar belangrik om, as tema, uit te lig dat ons ouers nie altyd vir ons kan wees of vir ons kan bied wat ons nodig het nie. 

“Hulle sit maar met hul eie bagasie. En soms, as ons kan erken dat ons ook nie perfek is nie, help dit ons om met hulle te versoen. Ons is immers soms meer soos hulle as wat ons besef.”

Lekkerste toneel as skrywer
“Die lekkerste toneel om te skryf, en my gunsteling in die film, is Henk en Gert se bakleiery langs die pad. Daar was ’n heerlike ritme met komiese momente en pynvolle uitlatings en ’n ontrafeling en versoening – iets van alles. Dit was egter ’n moeilike toneel om te direct. Ons moes van location verander en ongeveer drie ure daaraan afstaan om ’n nuwe een te vind wat vyftig minute verder was. Dit was in die middel van die dag en hoogsomer en die cast en crew het swaar getrek. Maar ek sal nooit vergeet hoe dit gevoel het om tydens Louw en James se spel vol trane agter te sit, om te draai en te sien die crew agter my is ook emosioneel nie. Dit was amper genoeg, net daardie oomblik.”

Ma-wees

Som van twee kom ook nadat Simoné vir die tweede keer ma geword het. Het dit haar anders na die storie laat kyk?

Ma-wees het my my spreekwoordelike big girl panties laat aantrek en my in staat gestel om die film vreesloos aan te pak.

Simoné Pretorius

“Ek dink nie dit het my anders na die storie laat kyk nie; dit het my die projek dalk anders laat aanpak. Met groter dapperheid. Daar is iets omtrent die ontnugtering van ’n newborn, die ongemak van swangerskap, die grootmaak van ’n toddler met tantrums, en baie balle gelyk in die lug hou, wat jou help om nie oor die klein dingetjies te bekommer nie. Jy vaar goed onder druk.

“Jy vertel ook stories en sit jouself met al jou onvolmaakhede daarbuite, want eerstens het jy die kreatiewe uitlaatklep nodig, en tweedens besef jy jy het baie min om te verloor. Skielik is die stem van die peanut gallery nie meer genoeg om jou te keer om te skep nie. Jy is oukei met weerloosheid, jy weet wie se opinies die belangrikste is, en jy weet dat as jy huistoe gaan, daar drie gesigte vir jou wag wat jou lewe vol genoeg maak dat mense se kritiek jou nie gaan vernietig nie.

“So, ja, ma-wees het my my spreekwoordelike big girl panties laat aantrek en my in staat gestel om die film vreesloos aan te pak,” sê sy beslis. 

Stories wat resoneer

Vir haar is dit opwindend om te sien hoe die bedryf voortgaan om te ontwikkel en te groei, en unieke stories te bied wat die ryk kulturele tappisserie van Suid-Afrika weerspieël.

“Ek is veral opgewonde oor die vibrancy en diversiteit wat tans ten toon gestel word. Die vermaakbedryf hier gaan nie net oor flieks en musiek nie; dit gaan oor stories vertel wat diep resoneer met ’n plaaslike gehoor terwyl dit ook internasionale erkenning geniet.

“Ons is ook gewoond aan adapt or die,” voeg sy by.

“Met nuwe platforms en ’n nuwe digitale era, met ’n wye verskeidenheid keuses as jy jou TV aansit en ’n Tik Tokgenerasie wat binne sekondes geboei moet word, is dit opwindend om te sien hoe skrywers en skeppers moet pivot. Die druk is hoër. Dís goed.”


Koop kaartjies vir die 2024 Silwerskermfees op Quicket. Vanjaar se fees loop van 28 tot 31 Augustus 2024.

Lees al ons stories oor die 2024 Silwerskermfees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies