Die stories wat deesdae op Afrikaanse televisie vertel word, werp toenemend ʼn lig op sosiale en maatskaplike kwessies wat voorheen nie noodwendig in tipiese gesinsdramas of komedies ondersoek is nie.
Terselfdertyd vertel dit sterk stories oor randfigure en ander rolspelers wat in die verlede min lugtyd gekry het. Donkerder temas en ʼn edgy perspektief, soos in kykNET se Juffrou X, het tot ʼn opwindende verdieping van Afrikaanse-kykstof aanleiding gegee.
Dié reeks, wat afspeel by ʼn skool aan die Tuinroete waar bendegeweld, dwelmmisbruik en armoede hoogty vier, wentel om ʼn Wiskunde-onderwyser, Inge Bester (Trix Vivier) wat ʼn vigilante word om haar matrikulante se toekoms te verseker.
Terloops het aangeklop by Berdene Burger van Meerfout Films, die vervaardiger van Juffrou X, en by Tertius Kapp, die reeks se skrywer en regisseur, om oor die oënskynlike verdieping van Afrikaanse-televisie-inhoud te gesels.
‘Moeilik, maar ongelooflik’
“Dit is ’n ongelooflike voorreg om in Afrikaans inhoud te skep. Moeilik, maar ongelooflik,” sê Berdene, wat ook al onder meer al mede-regisseur van Die Byl was.
Ek dink daar word dikwels weggeskram van inhoud wat die potensiaal het om die gehoor te verdeel. Maar mens moet op ʼn stadium ook die olifant in die hoek groet. Dis maar ʼn grootword-proses.
Tertius Kapp
“Mens weet nie altyd wat gaan werk nie. Dit verander ook van seisoen tot seisoen en daar is baie dinge wat dit beïnvloed: Wat is besig om in die land te gebeur? Wat is besig om in die wêreld te gebeur? Dit alles speel ’n rol en daarom bly dit wel altyd ’n bietjie van ’n gamble. Ek dink wel mense is honger vir diepte en betekenis in ’n wêreld wat al hoe minder sin maak.”
Daar is deesdae ʼn groter fokus op die hede en die Suid-Afrikaanse werklikheid in televisiereekse, meen Tertius.
“As mens dink aan die beste reekse van 20, 30 jaar gelede, was hulle meer histories,” sê hy. “Ek dink daar word dikwels weggeskram van inhoud wat die potensiaal het om die gehoor te verdeel. Maar mens moet op ʼn stadium ook die olifant in die hoek groet. Dis maar ʼn grootword-proses.
“TV is lankal nie meer net die medium van ontsnappingsfantasieë en veilige perspektiewe nie. Van die mees suksesvolle reekse, plaaslik en internasionaal, het dit bewys. Ek hou daarvan, want lang-formaat reekse laat jou toe om ʼn karakter se storie behoorlik te verken, seker die naaste aan ʼn roman wat daar in visuele media bestaan.
“Maar ʼn mens moet dit versigtig benader, en die saak van verskillende kante af bekyk voor jy begin.”
Gereed vir ontnugtering
Tertius meen gehore kan nie anders as om gereed te wees vir televisie-inhoud wat ʼn realistiese en dikwels ontnugterende blik op die werklikheid bied nie, want dis immers die werklikheid waarin hulle leef.
In die geval van die wêreld van komplekse sosio-ekonomiese en maatskaplike kwessies wat in Juffrou X geskep word, sê Berdene dis ʼn groot realiteit dat baie Suid-Afrikaners ongelooflik hard moet baklei vir wat hulle in die lewe wil hê: “Juffrou X beoog om ʼn lig op daardie individue te werp, asook op die mense wat dit hulle missie maak om die underdogs te champion. Die boodskap van die reeks is inspirerend en bemagtigend. Die storie is outentiek en herkenbaar.”
Storie eerste, altyd
Is dit die sosiale kommentaar wat ʼn reeks kan lewer, of die storie wat hy vertel wat Tertius in die eerste plek dryf om ʼn reeks soos Juffrou X te vertel, wou ek by hom weet: “Die storie, altyd. Ek is seker maar tussen die twee pole – die een kant wat enige sosiale kwessies wil wegtoor uit ʼn storie uit en die ander kant wat met elke storie ʼn politieke statement wil maak. In die middel is waar ons lewe, en waar jy die mees geloofwaardige, sterkste stories kry.”
Daar is altyd ʼn bietjie spasie tussen ʼn skrywer se teks en die uiteindelike episode, maar wanneer ʼn skrywer die storie as regisseur ook kan deurtrek tot in sy finale weergawe, gebeur daar opregte magic.
Berdene Burger
Berdene en haar gesin woon sedert 2019 in ʼn piepklein dorpie aan die Tuinroete en dit was vir haar spesiaal om ʼn storie uit dié deel van die land te vertel.
“Ons ken die wêreld waar die storie afspeel en dit was ʼn reuse-voorreg om hier saam met ons eie gemeenskap te kon verfilm,” sê sy. “Dis anders as om in die stad te wees. Daar verfilm jy in iemand se huis en jy sien hulle nooit weer nie. Hier sien ek gereeld die mense wat deel gevorm het van ons proses en storiewêreld.”
Volgens Berdene het Tertius reeds tydens die skryfproses geweldig baie navorsing oor sosiale kwessies, die karakters en selfs die plaaslike dialek gedoen om die storie so outentiek moontlik te kon weergee. Om dié bekroonde skrywer ook as regisseur in aksie te sien, was vir haar ʼn merkwaardige ervaring: “Tertius is ʼn kreatiewe genie. Dit was baie spesiaal om te sien hoe die storie vanaf sy kop tot sy pen tot op die skerm beweeg en dit is ʼn amper heilige reis vir ʼn storie om daardie pad te kán volg.
“Daar is altyd ʼn bietjie spasie tussen ʼn skrywer se teks en die uiteindelike episode, maar wanneer ʼn skrywer die storie as regisseur ook kan deurtrek tot in sy finale weergawe, gebeur daar opregte magic.”
‘’n Ander ball game’
Tertius, wat al voorheen op ʼn klein skaal regie gedoen het, sê die regie van Juffrou X, was “ ʼn ander ball game”.
“Dis nie soseer dat jy in alle aspekte die hef in die hand hou nie, eerder dat jy werk saam met mense wat elkeen verantwoordelik is vir hulle deel van die storie – van die akteurs tot beligting, klank, kontinuïteit, grimering, kostuum, produksie-ontwerp… En ná al die chaos, ʼn uiters bekwame post-produksiespan wat al die kastaiings uit die vuur krap.
“As jy die regte mense het in elke departement, word elke stappie een op, eerder as af.”
Hy sê kykers besef dalk nie altyd hoeveel uitdagings dit is om ʼn wêreld soos dié van Juffrou X te skep nie.”
“Al voel dit asof ons dit omtrent elke keer sê: die produksieproses was nogal rof. ʼn Toneel kan perfek verloop tot ʼn blêrrie hadeda iewers bo jou begin roep, of die skool uitkom en die verkeer buite oorverdowend raak. Dan het jy ʼn skerp assistent-regisseur (Luan Kleingeld, in ons geval), wat elke minuut op sy horlosie kyk en antisipeer wat kom.”
Die skerp akteurs en tegniese span, het dinge vergemaklik.
“Jy sal sommer so oor jou skouer kyk en sien hoe ʼn beligtingsman wat op die regte plek was, ʼn groep skoolkinders probeer stilhou terwyl ʼn akteur haar emosie vashou voor sy aangaan met die dialoog. En dan maak ons dit als reg in die edit,” sê Tertius.
“En terwyl dit als aan die gang is, het jy vervaardigers soos Berdene en Tina Kruger, wat moet sin maak van ʼn hele spinnerak van kontrakte, vervoer en logistiek, sodat die kameras kan aanhou rol.”
Juffrou X word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.