Menu terloops
In Onderhoude [8 Mar 2024]

Sandra Prinsloo oor ‘Koek’: Moekie is ‘absoluut’ op lys van gunsteling-rolle nog


Sandra Prinsloo se spel in ‘Koek’ as ’n ma en ’n bendebaas met voorliefdes vir brandewyn, sigare, luiperdpatrone, en niere steel, is hoog op die lys as een van haar onvergeetlikste rolle – en geheel en al anders as enigiets wat sy al ooit voorheen gedoen het.  Ons het met dié verhoog- en skermlegende gesels.

Deur Rozanne Els

Stroom op Showmax

Sandra Prinsloo oor ‘Koek’: Moekie is ‘absoluut’ op lys van gunsteling-rolle nog
Kyk lokprent

Sandra Prinsloo word wyd beskou as die doyenne van die Suid-Afrikaanse verhoog en is ’n ewe magiese kragtoer in films en TV-produksies. Sy is veral bekend vir haar rolle in flieks soos The Gods Must Be Crazy, Hans Steek die Rubicon Oor en Die Seemeeu, en TV-reekse soos Konings en Erfsondes, en natuurlik die sepie, Egoli: Plek van Goud. Dis egter haar rol as Moekie in Showmax se Afrikaanse misdaadkomedie, Koek, met Christiaan Olwagen as draaiboekskrywer en Johannes Pieter Nel as regisseur, wat ons nou laat regop sit – en laat skater.

Koek vertel oor die Kaapstadse huisvrou, Christelle Smit, wat dink haar man het ’n affair met ’n ontkleedanser, ene Candi Floss, stel dan ondersoek in. Maar dis nie baie bottels wyn en tequila later nie of haar ondersoek neem haar na ’n wêreld wat hemelsbreed verskil van die voorstedelike gewoonheid wat sy ken. En dis net daar waar Christelle se paaie met dié van Moekie, ’n bendebaas en strip club-eienaar met ’n voorliefde vir dierepatrone en sigare, kruis.

Vertel ons meer oor jou karakter, Moekie.

“Moekie is vir my wonderlik want sy lê baie ver van my af.  Sy begin as ’n baie gewone huisvrou, maar dan het sy ’n groot liefdesteleurstelling en besluit om wraak te neem en haar lewe te verander. Sy verander heeltemal van ’n vaal huisvroutjie na hierdie rowwe vrou in dierepatrone wat haar man se sindikaat oorneem en mans begin straf vir hul wandade as hulle ontrou aan hul vroue is. Want as daar een ding is wat sy nie kan vat nie, is dit as mans ontrou is… Sy is ’n heerlike, absurde, oordrewe karakter, maar sy het ook ’n groot hart, ’n helse groot hart. En as sy lief het, het sy lief met haar hele hart en dít is hoekom sy so dikwels seerkry. 

“Boonop het sy hierdie gekompliseerde kind, (Stephanie, vertolk deur Llandi Beeslaar). Maar sy’s lief vir haar; dis haar kind! Maak nie saak wat dié kind alles aanvang nie, sy is nog lief vir haar en sy probeer haar beskerm – tot op die punt waar sy nie meer kan nie.” 

Dit was vir my net een van die heerlikste produksies om op te werk. Dit was vir my regtig baie lekker gewees en ons het baie hard gewerk. Ek dink die hele ding om met ’n teks te werk wat so goed is en wat so belaglik is – dis so out there – is absoluut ’n wonderwerk. Dit is ook glad ’n baie Suid-Afrikaanse aanslag nie, veral nie ’n Afrikaanse aanslag nie. (lag) Dit is verregaande, en dís ’n wonderlike, wonderlike ding.

Sandra Prinsloo

Hoe het jy by Koek betrokke geraak?

“Christiaan (Olwagen) het my net gebel en gesê hy het ’n rol vir my geskryf en ek moet dit nou doen! (lag) Toe sê ek net, ‘Ja, natuurlik! Natuurlik wil ek dit doen!’

“Die rol is spesifiek vir my geskryf en ek wou dit in ieder geval vreeslik graag doen. Ek is mal oor sy (Christiaan se) werk en ek werk heerlik saam met hom. Ek was baie entoesiasties. En toe hy vir my van die karakter vertel… Die karakter was vir my wonderlik gewees, want dit is nie interessant vir my om gewone vaal mensies te speel nie; dít is mos nie interessant vir ’n aktrise nie. En hierdie rol is vrek interessant. Sy is eg, maar sy probeer haarself vind.”

Sandra Prinsloo in Koek op Showmax.
Sandra Prinsloo as ene Moekie, die bendebaas by wie Christelle (Cindy Swanepoel) diep in die skuld is in Koek op Showmax. Foto: Verskaf

Het jy onmiddellik geweet hoe jy haar wil speel toe jy die draaiboek gelees het?

“Ja, ek meen dit is baie duidelik en Christiaan het baie met my oor haar gepraat, so daar was nie vir my onsekerheid oor hoe sy moet wees nie. Die groot uitdaging is altyd om daar uit te kom. Gaan jy dit regkry? Is jou benadering reg? Gaan jy onder haar vel kan inklim en rêrig daai karakter word? Dít is altyd die grootste uitdaging. 

“Ek het nie ’n spesifieke rolmodel vir haar gebruik nie. Ek het maar net probeer werk met die teks, met wat Christiaan vir my gegee het en wat hy oor haar gesê het. Hy het ons ook aan die begin met spel gelei, wat altyd fantasties is want hy weet wat hy doen; dit was ’n lekker ontdekkingsreis saam met hom. Ek het maar net probeer om raakpunte te kry en getrou te bly aan die teks en daai flambojante, mal karakter te geniet. Ek meen, dis (wat met Moekie gebeur) gebeur met amper elke liewe vrou, so dit was nie moeilik om raakpunte te kry nie. Ek dink die groot ding is dat ’n mens dit moet geniet. En ek het haar verskriklik geniet.” 

Hoe sou jy die verhouding tussen Moekie en Christelle (vertolk deur Cindy Swanepoel) beskryf? Dit ondergaan nogal ’n tamaai transformasie. 

“Wel, in die begin hou sy niks van Christelle nie, maar dan sien sy Christelle se dilemma. Christelle se situasie is eintlik presies haar situasie – of altans, dit wat Christelle aanvanklik dink! En dan begin sy rêrig van haar hou, want sy begin haar sien as ’n vennoot in hierdie besigheid van haar. Christelle word ook vir haar onontbeerlik. Sy het haar nodig in haar besigheid. So met alle geweld wil sy haar daar hou, maar sy voel ook jammer vir haar. Dis ’n tweesnyende swaard. Dan begin sy rêrig van haar hou en ’n vriendskap, of dalk eerder ’n bondgenootskap eerder as ’n vriendskap, ontwikkel tussen hulle as hulle mekaar begin respekteer en van mekaar hou en saam begin plot en dinge doen.” 

Wat sou jy sê is van die reeks se belangrikste temas?

“Dit is in ’n groot mate vrouebemagtiging wat gebeur. Weerwraak teen goed wat teen vroue gedoen word wat onaanvaarbaar is. En Moekie wil vir mans lesse leer. En volgens haar werk dit wat sy doen en alles draai ten goede uit. Sy sê byvoorbeeld vir Christelle, ‘Laat ek jou vertel, hierdie ou was ’n vark. En vandat ek hom onder hande gehad het, bly hy by die huis en hy is nice met sy vrou en sy kinders, en hy is nie meer ’n vark nie. So ek doen eintlik die regte ding.’ Al is dit ’n gruwelike ding wat sy doen! (lag)

Wat staan vir jou uit van die projek?

“Dit was vir my net een van die heerlikste produksies om op te werk. Dit was vir my regtig baie lekker gewees en ons het baie hard gewerk. Ek dink die hele ding om met ’n teks te werk wat so goed is en wat so belaglik is – dis so out there – is absoluut ’n wonderwerk. Dit is ook glad ’n baie Suid-Afrikaanse aanslag nie, veral nie ’n Afrikaanse aanslag nie. (lag) Dit is verregaande, en dís ’n wonderlike, wonderlike ding. Dit is natuurlik ’n goeie ding! Sodat ons ons vere ’n bietjie losskud, jy weet. Sodat ons onsself uitskud uit ons selfvoldaanheid oor watse oulike mense ons is terwyl ons nie eintlik is nie. Dit is net om te sê, ‘Hmm, julle is almal sulke goody-two-shoes op die oppervlak, maar kyk hoe lyk julle as ’n mens net ’n bietjie dieper krap.’

Dit is ’n donker humor. Hoe dit geskryf is, die situasies, die karakters; dit is ’n produksie wat so ryk is. Ryk in alle opsigte – aan karakters, aan teksture, aan dialoog, aan aksie. Daar is alles in. En dit is net so ’n ongewone teks. Dit is nie jou alledaagse soort reeks nie.

Sandra Prinsloo

“Die ander wonderlike ding is dat ons ’n ongelooflike rolverdeling is. Dit is so ’n lekker rolverdeling. Ek en Ashley (de Lange) en Dawid (Minnaar) het onlangs saam aan Die Moeder (’n verhoogproduksie met regie deur Olwagen) gewerk, so ons ken mekaar wat dit maklik en lekker gemaak het. Dawid het hier ook heeltemal ’n ander tipe rol gespeel. Hy speel ook iets baie teen sy natuur.

“Dit is die eerste keer wat ek saam met Cindy werk, maar dit was heerlik. Cindy is so maklik om mee saam te werk en so ’n heerlike mens en ook ’n baie goeie aktrise ook. Dit was net so lekker. Die hele proses was net ongelooflik gewees.”

Wat was vir jou uitdagend van die speelervaring?

“Kyk, dit was tegnies moeilik gewees en uitdagend vir ’n aktrise. Ek het tonele waar ek moet dronk wees maar ek moet ook huil maar ek moet ook snaaks wees. Jy moet al daardie elemente kombineer en dit is nie iets wat jy maklik kan doen nie. Nee, dit is nie maklik om sulke goed te doen nie, maar ek is gelukkig en dankbaar dat ek al so baie met Christiaan gewerk het en ek verstaan redelik goed hoe sy kop werk en hy help ’n mens om daar uit te kom.”

Sou jy sê Moekie haal jou toptien van jou gunsteling karakters wat jy al vertolk het?

“O, ja! Absoluut, ja, absoluut. Ek was mal oor haar. Dit was regtig soveel pret, en dis net altyd so ’n plesier om met ’n goeie teks te werk. Ook met iemand soos Christiaan, en Johannes was ook baie geduldig met ons. Wat wonderlik is van Christiaan, is dat as hy op stel kom, laat hy jou improviseer en ons begin nuwe goed doen net om dit alles jou eie te maak. Hy is nie kosbaar oor sy skryfwerk nie, wat fantasties is.” 

Waarom moet mense Koek kyk?

“Want dis fantasties, dis hoekom! (lag) Dis ’n puik reeks; snaaks en iets anders. Dis nie jou gewone ding wat jy op televisie sien nie, glad nie. Maar jy moet ’n bietjie van ’n sterk maag hê as jy hierdie reeks wil kyk, dink ek! (lag) Maar kykers moet hulself uitdaag. 

“Dit is ’n donker humor. Hoe dit geskryf is, die situasies, die karakters; dit is ’n produksie wat so ryk is. Ryk in alle opsigte – aan karakters, aan teksture, aan dialoog, aan aksie. Daar is alles in. En dit is net so ’n ongewone teks. Dit is nie jou alledaagse soort reeks nie.” 

Sou jy sê jou en Moekie se klerekas stem ooreen?

“Nooit! (lag) Nee, glad nie, maar daar is wel ’n paar goed uit my klerekas wat ek gebruik het, nou dat jy vra. Maar ek is nie vreeslik een vir dierepatrone, moet ek erken. Maar Moekie se klerekas was wonderlik. Ek weet nie waar hulle die goed gekry het nie, maar hulle het wonderlike goed gekry.”


 Die misdaadkomedie Koek is nou op Showmax beskikbaar om te stroom, met nuwe episodes wat weekliks op Donderdae vrygestel word. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies