Menu terloops
In Onderhoude [17 Apr 2024]

Clayton Evertson: ‘Ek het nooit gedink my loopbaan gaan hiér uitkom nie’


Sy naam is die een op almal se lippe op die oomblik – of jy hom nou as Pitbull in ‘Koek’, Morgan in ‘White Lies’, Vernon in ‘Spinners’ of as ‘Arendsvlei’ se geliefde Clint ken, geen mens kan wegkyk as die akteur Clayton Evertson op ’n skerm verskyn nie. Ons gesels met die akteur oor sy loopbaanreis en die rits rolle wat hy mees onlangs vertolk het.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Clayton Evertson: ‘Ek het nooit gedink my loopbaan gaan hiér uitkom nie’

Dit het talle kykers se harte in stukkies gebreek toe die geliefde speurder Clint, vertolk deur die enigmatiese Clayton Evertson, vroeër vanjaar in Arendsvlei vermoor is. Clayton se karakter het kykers beslis op ’n journey van liefde en leed gevat, maar ná al die jare se heen en weer was dit ’n regte Hollywood romcom-oomblik toe Clint tydens Beatrice (Jolene Martin) en Kyle (Dries Botha) se troue voor die hele kerk sy liefde aan haar verklaar het. Hul gelukkige einde was egter van korte duur en Beatie se trane het aan kykers se hartsnare getrek. 

Nou is hy te sien in die nuwe raunchy Showmax-reeks, Koek, as Pitbull – Moekie (Sandra Prinsloo) se muscle én Ryno (Jacques Bessenger) se lover. Hierdie reeks se donker humor, onverwagte storielyne en unieke karakters hou ’n mens vasgenael voor die televisie, en die catchy musiek dra ook by tot die ervaring van iets wat heeltemal nuut en verfrissend is om in Afrikaans te kyk.

Baie kykers wat Clayton as die familieman en speurder leer ken het op Arendsvlei, was ook seker geskok om hom in dié rol te sien, veral toe hy en Ryno so ’n passievolle makeout session gedeel het. Maar vir Clayton is dit ’n voorreg om besig te wees en hy geniet dit vreeslik om in die skoene van karakters te klim wat soos dag en nag van mekaar verskil. Hy verkies dit so, en wil nooit as akteur in ’n sekere genre of boks geplaas word nie. 

Clayton Evertson, Koek, Arendsvlei, White Lies
Clayton Evertson by die premiere van Spinners by die 2023 Silwerskermfees. Foto: Verskaf

’n ‘Onmiddellike ja’

“Pitbull is ’n silent assassin. Hy is gevaarlik, maar jy sien hom nie noodwendig kom voordat dit te laat is nie. Hy het ook ’n sagter kant en is maar eintlik eensaam. Maar dit is hoekom sy verhouding met Ryno so baie vir hom beteken. Ryno is sy persoon en aanvaar hom soos hy is. Hy laat hom toe om homself te wees. Toe ek die script lees, was dit ’n onmiddellike ja van my af en ek het dadelik geweet ek wou deel van hierdie projek wees,” vertel Clayton. 

Op stel kon ons almal voel dat ons beslis die boundaries push. En dan het Christiaan (Olwagen, draaiboekskrywer) en die res van die produksiespan ons nog meer ge-push.

Clayton Evertson

Nes met sy vorige suksesvolle reeks, Spinners, ook op Showmax, het hy uit die staanspoor geweet die reeks gaan ’n groot impak op kykers hê. 

Clayton Evertson, Koek, Arendsvlei, White Lies
As Pitbull in die Showmax-reeks, Koek, speel Clayton Evertson teenoor die doyenne van Suid-Afrikaanse toneelspel, Sandra Prinsloo. Foto: Verskaf

“Op stel kon ons almal voel dat ons beslis die boundaries push. En dan het Christiaan (Olwagen, draaiboekskrywer) en die res van die produksiespan ons nog meer ge-push. Ek was nie seker hoe kykers hierdie reeks sou ontvang nie, maar tot dusver was die reaksie ongelooflik. Ek dink die hele span wat op hierdie produksie gewerk het, het daarin geslaag om ’n reeks te skep wat craziness vir kykers wat iets meer opwindend soek, gee. Terselfdertyd word die meer konserwatiewe kykers met menslike storielyne ingetrek. Want agter al die crazy karakters en tonele is daar relatable storielyne,” vertel Clayton. 

Oor dáái spicy toneel…

En vir dié wat gewonder het… Daardie spicy toneel tussen Pitbull en Ryno was glad nie ongemaklik vir hierdie gesoute akteur nie. 

“Dit was nie die eerste keer dat ek ’n man op kamera moes soen nie, so dit was nie iets waaroor ek gedink het nie. As akteur moet jy by die storielyn kan adapt. Dit is maar deel van jou werk. En gelukkig is Jacques goodlooking,” sê Clayton laggend. 

‘White Lies’ se Morgan

Clayton Evertson, White Lies
Clayton Evertson as Morgan in White Lies. Foto: Verskaf

Wanneer dit by relatable karakters kom, is daar een karakter wat vir Clayton persoonlik uitstaan en dit is die sekuriteitswag Morgan wat hy tans in die M-Net dramareeks White Lies vertolk. 

Tot dusver het kykers net gesien dat hy gewild is en dat almal in die buurt hom ken. Veral die vroue is mal oor Morgan. Morgan sit dag en nag alleen in sy hokkie en is veronderstel om die oë en ore van ’n duur buurt in Bishopscourt te wees. Maar met dié dat nog kinkels en inligting oor die familiemoord wat hier gebeur het, stelselmatig uitkom, gaan dinge glo nog baie interessant rondom Morgan se karakter raak. 

Clayton beskryf Morgan as iemand wat vrede gaan moet maak met die moeilike realiteit dat hy nie regtig deel is van die wêreld waarin hy elke dag moet werk nie. 

“Ja hy is deel van hulle wêreld, maar nie op die vlak wat hy gedink het nie. Almal is vriendelik met hom en groet hom, maar niemand nooi hom vir middagete nie. Ons almal ken sulke voorbeelde van mense, soos ’n huishulp of tuinman, wat mense sê deel van hul gesin is, maar daar is nie ’n foto van hulle in die huis nie en soms moet hulle selfs ’n ander toilet gebruik. So is hulle regtig so deel van die familie soos wat mense sê hulle is?”

Clayton Evertson, Koek, Arendsvlei, White Lies
Clayton Evertson beskryf sy White Lies-karakter, Morgan, as iemand wat vrede gaan moet maak met die moeilike realiteit dat hy nie regtig deel is van die wêreld waarin hy elke dag moet werk nie. 

Konneksie lok hom

Dit is juis hierdie vrae wat Clayton na die karakter gelok het. As kind het hy middelklas grootgeword en sy ouers het uit hul pad gegaan om vir hom in die beste skole te plaas en aan geleenthede bloot te stel. 

“Ek was altyd die kind wat Engels met ’n bietjie van ’n aksent gepraat het en met my wit vriende uitgehang het, soos Morgan. Maar toe verander alles en het dit gevoel asof ons oornag van middelklas na brandarm gegaan het,” vertel Clayton. 

“Ek het toe by my ouma in Mitchells Plain gaan woon en skielik het ek dinge uit ’n ander perspektief gesien. Skielik het ek besef dat die grappies wat my vriende gemaak het, dalk nie so snaaks was nie. En ek moes wonder of dit is hoe hulle my ook gesien het. En toe het hierdie wêreld wat ek gedink het ek deel van was, nie regtig meer dieselfde gevoel nie.”

Toe Clayton die script vir Morgan begin lees het, het iets oor hierdie karakter baie bekend gevoel en wou hy dieper in hierdie karakter se wêreld delf.  Al was hy oorspronklik gevra om vir die karakter Forty (nou vertolk deur Brendon Daniels) te oudisie, het hy net meer van ’n konneksie met Morgan gehad. Hy vertel hy wou graag die geleentheid kry om in Morgan se skoene met sy eie, soortgelyke ervaringe, te klim.

‘Sy sou trots wees’

Wanneer jy met Clayton gesels kom jy vinnig agter dat hierdie saggeaarde man met die donker baard en groot glimlag, regtig ’n mense-mens is en dat hy ’n bietjie van homself in elke karakter plaas. 

Sy ouma is ongelukkig ’n paar jaar gelede oorlede, maar as sy vandag nog gelewe het, sou sy so opgewonde en trots gewees het, meen Clayton. 

Clayton Evertson, Koek, Arendsvlei, White Lies
Clayton Evertson as die geliefde Arendsvlei-karakter, Clint. Foto: Verskaf

“Sy het my in baie van my ander werk gesien en was trots, maar sy was ’n groot sepie-aanhanger, so ek dink hierdie plaaslike sepierolle sou vir haar baie exciting gewees het. Ek onthou nou nog hoe sy en ’n hele groep vroue van die kerk almal by ’n saal opgedaag het toe ek in ’n verhoogproduksie was.  Sy sou my beslis ondersteun het.”

Clayton se big break

Clayton is al vir etlike jare op die toneel, maar dit was uiteindelik met Arendsvlei wat sy big break in die plaaslike bedryf gekom het. Voor Covid en Arendsvlei was hy meestal in internasionale produksies te sien soos Raised by Wolves, Maze Runner: The Death Cure, The Last Post, 24 Hours to Live en Honey 3: Dare to Dance. Nie omdat hy nie in plaaslike produksies wou wees nie – bloot omdat hy net die geleentheid gekry het nie. 

“Dit was baie moeilik aan die begin. Ek kon net nie ’n plaaslike rol losslaan nie. Dit het net toevallig gebeur dat internasionale mense my meer ge-cast het. Ek kon ’n goeie aksent doen en lyk asof ek  Mexikaans of van die Midde-Ooste kan wees, so daar was gelukkig altyd ’n rol vir my,” vertel hy. 

Dinge het regtig vir my verander nadat ek by Arendsvlei begin het en ek sal ewig dankbaar wees aan almal by Arendsvlei wat ’n kans op my gevat het en wat vir my baklei het.

Clayton Evertson
Clayton Evertson, Koek, Arendsvlei, White Lies
Clayton se groot deurbraak in die plaaslike bedryf het gekom toe hy die rol van Clint in die kykNET&kie-telenovela, Arendsvlei, losgeslaan het. Foto: Verskaf

“Dinge het regtig vir my verander nadat ek by Arendsvlei begin het en ek sal ewig dankbaar wees aan almal by Arendsvlei wat ’n kans op my gevat het en wat vir my baklei het. Ons het Engels grootgeword en my Afrikaans is nou nog nie die beste nie, so my familie is regtig verbaas dat ek in al hierdie Afrikaanse rolle te sien is. Maar ek is dankbaar dat ek my voete in die plaaslike bedryf gevind het, want ons talent en stories is ongelooflik.”

Goed en sleg bring nuwe hoofstuk

Hy is deesdae baie besig, maar dit was en is nie altyd die geval nie. Clayton meen almal gaan maar deur hul dips en vir daardie tye is hierdie mense-mens dankbaar vir die mense naaste aan hom. 

“Ek het ’n Whatsapp-groep met my neef en beste vriend en so een keer ’n week gebruik ons daardie groep om te offload en met mekaar te deel. Soms is ons net laf en ander tye help ons mekaar. Ons kan dalk nie 100% die ander se situasie verstaan nie, maar dit help as iemand net luister,” vertel hy.

“Ek glo in terapie en probeer my bes om altyd aandag te gee aan my geestesgesondheid.”

As hy terugkyk op sy loopbaan is Clayton dankbaar vir al die hoogte- en laagtepunte wat hom tot hierdie hoofstuk gebring het.

“Toe ek ’n akteur geword het, het ek nie gedink my loopbaan gaan hier uitkom nie. Maar in alles wat ek doen, hoop ek dat wanneer ek die aarde verlaat, ek ten minste een persoon kon inspireer.”

Sien vir Clayton in:

  • Spinners, beskikbaar op Showmax.
  • Koek, beskikbaar op Showmax.
  • White Lies word Donderdae om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) asook DStv Stream uitgesaai. Dit is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies