Menu terloops
In Onderhoude [2 Apr 2024]

Frank Rautenbach kry sy groove terug


Ons gesels met die akteur Frank Rautenbach oor sy nuutste rol in M-Net se gesinsdrama, ‘Summertide’, die jare ná ‘7de Laan’ in Amerika, en die lesse wat hy oor homself – en toneelspel – in meer as twee dekades in die bedryf geleer het.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Frank Rautenbach kry sy <em>groove</em> terug

Hy mag dalk vir meer as ’n dekade in Amerika gewoon het en sedertdien in baie ander karakters se skoene geklim het, maar vir baie Suid-Afrikaners sal die akteur Frank Rautenbach altyd as die sjarmante hartebreker Tiaan Terreblanche van 7de Laan onthou word.

Oor die afgelope paar jaar het ’n nuwe generasie kykers hom leer ken as regter Jason Hugo in die gewilde M-Net dramareeks Lioness. Hy was ook te sien as kol. Trotski in die kykNET-drama Die Byl, Leonard Patterson in die HBO-reeks Warrior, en hy het ook in die skoene van Leon Lombard in die bekroonde M-Net-reeks Reyka geklim. 

Nou vertolk hy die hoofrol van Martin Field in die nuwe gesinsdrama Summertide. Martin is mariene-bioloog wat ná die dood van sy vrou saam met sy twee kinders na die Valsbaai-omgewing verhuis. Dis die liefde, leed, drama, ingewikkelde familieverhoudings en bewaringskwessies wat kykers tot die wêreld van Summertide lok. 

Summertide
Die rolverdeling van Summertide sluit in Monique Rockman, Tyrone Keogh, Frank Rautenbach, Jan Combrink, Terry Norton, Andre Jacobs en Evangelina Hallock. Foto: Verskaf

Vir Frank is hierdie ’n rol wat twee van sy groot liefdes bymekaar bring – water en toneelspel. Hy is was nog altyd ewe lief vir die water as vir sy werk as akteur, so toe hy in voorbereiding vir hierdie rol moes leer skubaduik, was dit ene opwinding. 

“Ek was nog altyd ’n seebaba. Ek ry branderplank, snorkel, rubber duck en vang vis, maar het nog nooit skubaduik probeer nie. Dit was iets heeltemal anders om só lank onder die water te wees. Dit is ’n hele ander wêreld wat ek nog nooit met snorkel of op ’n branderplank beleef het nie,” sê Frank. 

‘Tiaan, is dit jy?’

Toe hy en sy vrou, Leigh, vyf jaar gelede na Suid-Afrika teruggetrek het, was dit aanvanklik ’n groot aanpassing. Hy was vir meer as ’n dekade uit die land en het in daai tyd nie in plaaslike produksies verskyn nie. 

Maar hy het vinnig weer sy ritme gevind en terug in die groove gekom. Hy is egter verbaas oor hoeveel mense hom steeds as Tiaan onthou, al het hy aanvanklik 20 jaar gelede as dié karakter in 7de Laan verskyn. 

“In Covid-tyd, selfs met ’n kep, masker en brille het mense my raakgeloop en gevra… ‘Tiaan is dit jy?’ ” vertel hy laggend. 

“Daar is ’n hele klomp van die mense (wat saam met hom in 7de Laan gespeel het) met wie ek steeds in kontak bly. Ons was ’n regte familie op die sepie en het ons tyd saam baie geniet. Ons het baklei en gelag en hard gewerk. Dit was ’n mededingende omgewing en dit het ons gedwing om mekaar te push.” 

Van sepies na drama

Frank vertel dat hy, nes die akteurs Guy Pearce en Russell Crowe, sy beginjare op sepies koester synde dit sy loopbaan vorentoe gedryf het. Dis ook hier waar hy baie oor die bedryf geleer het. Maar nes sy Hollywood-eweknieë het Frank sy stem en groot passie vir acting uiteindelik in die drama-genre gevind.

“Ek geniet baie van die dramarolle wat ek deesdae aanpak. Daarmee gooi ek glad nie shade op sepies nie; dit is twee heeltemal verskillende wêrelde. Ek is oneindig dankbaar vir my tyd op sepies. Guy en Russell het op Australiese sepies begin en praat ook oor daardie begindae. Dit shape jou,” sê hy. 

“Aan die begin van die 2000’s was sepies die hoofding op Suid-Afrikaanse televisie; shows soos Egoli, 7de LaanGenerations en Isidingo. Dit was waar ons akteurs hulself bevind het, maar nou is daar beslis meer drama-georiënteerde reekse. Van Jason Hugo, die korrupte regter op Lioness wat ’n lekker, maar uitdagende rol was, tot Leon Lombard op Reyka, ’n polisiebeampte, en nou Martin op Summertide wat ’n verantwoordelike familieman is – ek het al ’n interessante verskeidenheid rolle gespeel. Meer rolle met vleis.” 

Summertide, Frank Rautenbach
Jan Combrink en Frank Rautenbach op die stel van Summertide. Foto: Verskaf

Frank meen daar is altyd plek om te groei en om meer outentieke stories te vertel. Talent het ons in oorvloed en dít maak hom opgewonde oor die Suid-Afrikaanse film- en televisiebedryf. 

“Ek is so dankbaar aan almal wat vir my ’n rol aanbied. Dit is so lekker om met kreatiewe mense te werk. Ons is in ’n goeie plek as ’n bedryf, maar my tyd in Amerika het vir my gewys hoe mededingend hul bedryf is en hoe dit jou as akteur push om aanhoudend aan jou vaardighede te werk,” sê hy. 

Leer ken jou stem

Frank het aanvanklik Amerika toe getrek met ’n droom om sy loopbaan te groei, maar sy ervaring was vol struikelblokke. In ’n stadium het sy loopbaan as akteur tot stilstaan gekom. Hy het ook as ’n taxibestuurder en skoonmaker by ’n kerk gewerk. 

Tog was dit in hierdie tyd wat hy ook homself – en sy stem as akteur – dieper leer ken het. 

“Almal het ’n voorkoms en ’n talent, maar die eintlike manier om sukses as ’n akteur te hê is om vir jouself te vra, ‘Wat het jy om te sê? Wat is jou stem? Wat is jou signature? Wat bring jy na die partytjie?’ 

“As iemand vir jou ’n draaiboek gee om vir ’n oudisie voor te berei, hoe neem jy daardie draaiboek en maak dit jou eie? Hoe sê jy vir daardie skrywer, ‘Dit is jou werk, en ek het my werk bygevoeg en ons het nou ’n nuwe ding gemaak. Iets wat opwindend is!’ Hoe sê jy vir ’n regisseur, ‘Dit is hoe ek jou fliek awesome gaan maak.’ Ek dink om jou stem as akteur te vind, moet jy jou lewe leef,” sê hy. 

“Jy kan nie heeldag by ’n koffiewinkel mope omdat jy nie werk het nie. In die middel van my loopbaan was ek ’n taxibestuurder vir drie jaar en toe ’n skoonmaker vir twee. Ek het ’n suksesvolle loopbaan van 20 jaar gehad en toe het dit ge-tank. Dit was uiters moeilik, maar dit is in daardie tydperk wat ek baie meer lae by my stem as akteur gevoeg het. Ek dink as jong akteurs vra ons dikwels wat vir ons waardevol is, in plaas daarvan om te vra wat vir ander mense waardevol is. So my raad aan jong akteurs sou wees: Kry iets om te sê. Gaan leef jou lewe en gaan kry iets wat vir ander meer waardevol is as jouself.”

Passie verlaat hom nooit

As Frank oor sy loopbaan en die lewe praat, is dit inspirerend om te hoor hoe sy passie nooit verdwyn het nie, ondanks die slegte tye. En al het sy aanvanklike trek oorsee nie heeltemal uitgewerk soos wat hy gedink het nie, sal dit hom nie keer om dit weer te probeer nie. Dit was ’n hele ander tyd en wêreld, meen Frank. 

“Destyds as jy Amerika toe of enige ander plek oorsee wou trek, moes jy alles oppak, sodat jy krediet kon opbou en ’n lewe daar bou. Toe ek in 2005 oorsee gewoon het was Skype jou enigste manier om met mense by die huis te kommunikeer. Nou hoef jy nie voltyds te verhuis nie. Jy kan ’n Airbnb vir drie maande huur en dan weer huis toe kom. 

“Ons het nooit getrek omdat ons nie van Suid-Afrika gehou het nie. ’n Mens mis jou geskiedenis, mense en die dinge waaraan jy gewoond is. Suid-Afrikaners en ons kultuur is iets spesiaal, maar ek het geglo dit sou ’n goeie loopbaanskuif wees.” 

As ’n mens na sy projekte oor die afgelope paar jaar kyk, is daar geen twyfel dat Frank sy stem as akteur gevind het nie. Boonop is sy talent en kennis ook ’n aanwins vir die plaaslike vermaakbedryf. Frank is ’n bewys dat ’n mens nie moet opgee wanneer die lewe soms snaakse draaie met jou vat nie.

Skep net weer asem.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies