Maart is ʼn groot maand vir Tim Theron. Die reeks Plan B van sy produksiehuis Scene23 begin op kykNET en aan die einde van die maand word die aksiefliek Heart of the Hunter op Netflix vrygestel. Hy speel boonop in albei – in die een as aksieheld en in die ander, as die bad guy.
“Ek is nog altyd iemand wat my vinger in elke pie het,” sê Tim Theron, wat die afgelope paar jaar buiten sy werk as akteur ook entrepreneur, vervaardiger, skrywer én inhoudontwikkelaar is.
Twee projekte van Tim se produksiehuis Scene23 is in Maart op die kassie – die aksiebelaaide Plan B op kykNET en die fliek Heart of the Hunter, wat 29 Maart op Netflix vrygestel word.
Tim is die kreatiewe direkteur van Scene23 wat hy sowat elf jaar gelede as Kaapland Films saam met sy vervaardigingsvennoot Cobus van den Bergh begin het. Op die koop toe speel hy in albei produksies, wat geïnspireer is deur karakters en stories uit die verbeelding van die skrywer Deon Meyer.
“Ek hou nog altyd daarvan om meer as een ding te doen,” sê Tim. “Dis maar daai tipiese aandagafleibaarheids-ding – ek kan nie lank stilsit en met een ding besig wees nie. En daarmee saam het ek ʼn entrepreneuriese skoot weg.
“Ek het nie die geduld om vir ander mense te wag om my iets te gee om te doen nie. Ek gaan dit eerder self doen. Dit het gelei tot waar ek vandag is,” sê Tim. “Ek het begin as akteur, maar die frustrasie om te wag dat die foon lui om vir ʼn oudisie genooi te word, het nie vir my gewerk nie. Ek het ook besef daar is soveel cool stories wat ek wil vertel en dat ek self moet inspring om dit te laat gebeur.”
Die regte vennote
Tim is haastig om by te voeg hy het bereik wat hy het, oor die mense met wie hy saamwerk.
“Dis nie te danke aan myself nie, want ek het besef dis goed om myself te omring met mense wat beter is as ek. As ek nie vir Cobus ontmoet het nie; as ons nie vir Deon Meyer ontmoet het nie, en as ons nie vir Jorrie van der Walt en Tracey Lange betrokke gekry het nie, sou Scene23 nie wees wat dit is nie.
“Cobus van den Bergh was die eerste ou wat, al amper twaalf jaar terug, nie vir my gelag het toe ek sê ek wil flieks maak nie. Hy was ʼn suksesvolle sakeman wat al in verskeie sfere gewerk het en sy reaksie was dat hy ook nog altyd wou flieks maak. Jorrie van der Walt ken ek al van my dae as student op Potch.”
Ek het nie die geduld om vir ander mense te wag om my iets te gee om te doen nie. Ek gaan dit eerder self doen. Dit het gelei tot waar ek vandag is.
Tim Theron
Hul eerste projek saam was die fliek Klein Karoo.
“En dankie tog dit was ʼn sukses, want die goeie besigheidsman wat Cobus is, sou dinge daar geëindig het as dit nié uitgewerk het nie.”
Deon Meyer het Tim en Cobus gevra om te help met die bemarking van die 2017-fliek Jagveld en dit was sý betrokkenheid wat eindelik daartoe aanleiding gegee het dat Kaapland Films sowat sewe jaar gelede Scene23 geword het.
“Ek het ʼn rol in Jagveld gehad en was nie by die vervaardiging betrokke nie, maar Deon het ons gevra om te help om onder meer die fliek aan oorsese filmfeeste te verkoop. Dit was die begin van ons verhouding.
“Deon het natuurlik reeds al hierdie fantastiese stories en boeke in sy eie stal, maar hy het nog soveel ander stories ook om te vertel. Dit is vir ons ʼn aanwins om hom by Scene23 betrokke te hê en saam met hom in ʼn kreatiewe spasie te kan werk, omdat hy sy stempel van goedkeuring op stories kan sit. Hy verstaan hoe om stories aanmekaar te sit. Maar hy het ook van sy kant af ʼn behoefte gehad om betrokke te wees by die ontwikkeling van sy stories vir die skerm.
“Deon is egter nie precious oor ʼn boek nie en dis vir skrywers, soos Tertuis Kapp met Plan B, ongelooflik maklik om saam met hom te werk.”
Van A tot Z
As vervaardiger, is dit vir Tim baie vervullend om van die begin af deel te kan wees van ʼn projek.
“Daar is niks lekkerder as om te weet ek was daar toe ons met die storie opgekom het nie en dat ons insette gehad het in die teks gehad het nie. Dis bevredigend om te sien hoe ʼn storie vorm aanneem, om by die casting betrokke te wees en dan, die cherry op die koek, om daarin te kan speel ook.
“Dit bly my eerste passie om te kan speel en om ʼn karakter lewendig te kan maak, maar om vervaardiger te wees wat oorkoepelend by die hele projek betrokke is, is ʼn ongelooflike voorreg waarvoor ek baie dankbaar is.”
Sy karakter in Plan B is Ivan Malan, ʼn man met ʼn militêre agtergrond, wat aan die verkeerde kant van die spoorlyn grootgeword het en ʼn fassinasie met die aksiefilms van die 80’s en 90’s het. Ivan beland aan die verkeerde kant van die gereg, maar eerder as om tronk toe te gaan, word hy gewerf deur Paul Schmidt (Arnold Vosloo) om by ʼn spesiale eenheid aan te sluit wat staatskaping beveg.
Dis vir Tim lekker om aan so ʼn karakter te bou: “My manier van werk om ʼn karakter te vind, is om op my eie ervaringe en my binneste te bou. As ek raakpunte het in terme van wie Ivan is, soek ek daai raakpunte binne myself en bou aan ʼn Tim wat dieselfde keuses sou gemaak het as hy in ʼn soortgelyke wêreld grootgeword het.”
Vriendskap op en agter die kamera
In Plan B het sy karakter Ivan ʼn werksverhouding en pittige bromance met Paul Schmidt, ʼn voormalige intelligensie-operateur.
Tim het vir die eerste keer saam met Vosloo én die regisseur van Plan B, Jozua Malherbe, gewerk op die fliek Griekwastad, wat ook deur Scene23 vervaardig is.
Hy gaan sit nie eenkant en praat met niemand nie. Hy loop rond en leer almal op stel se name ken – daar is nie enige opgesmuktheid nie. Maar moenie dink hy laat ʼn kans verbygaan om ons te sê hoe min ons hom betaal nie! Hy is vreeslik lief vir Afrikaans en dis vir hom lekker om in hierdie stadium van sy loopbaan by die Afrikaanse industrie betrokke te wees.
Tim Theron oor sy vriend, die akteur Arnold Vosloo
“Met Griekwastad het ek, Arnold en Cobus, my vervaardigingsvennoot, goeie vriende geword,” sê Tim.
“Dis altyd lekker as jy op die stel kom en jy het reeds short hand met jou kollegas. As jy kyk na ons projekte, sal jy sien daar is mense wat gereeld op pop. Dit is mense wat jy ken en met wie jy lekker saamwerk. Mense wat naby aan jou is. Arnold is een van daai mense.”
Tim vertel hulle het aanvanklik die rol van die mafia-baas Zeev Lansky vir Arnold aangebied.
“Dis ʼn tipies stereotipiese Arnold-rol. Sy antwoord was, ‘ouens, ek kry elke dag twintig aanbiedinge vir sulke tipe rolle wat my baie meer as julle betaal; so as julle wil hê ek moet dit doen, gee vir my Schmidt, hy lyk baie interessanter’,” lag Tim.
“Ek het al om baie braaivleisvure gesit saam met Arnold en die oorlogstories gehoor van sy tyd in Amerika. Dit is vreeslik lekker om saam met hom te werk. Hy werk vreeslik hard en as hy op stel is, dan lig almal hul game.”
Tim onthou een aand op die stel van Griekwastad: “Ons begroting was so klein daar was omtrent nie geld vir spyseniering nie. En daar staan Arnold Vosloo, hierdie Hollywood-ster, met ʼn boereworsrol op hierdie papierbordjie wat besig is om die geveg teen die sous te verloor. Maar sulke goed pla hom nie. Hy’s daar om te werk. Hy is nie ʼn ou wat gaan vra ‘waar is my trailer?’ nie.
“Hy gaan sit nie eenkant en praat met niemand nie. Hy loop rond en leer almal op stel se name ken – daar is nie enige opgesmuktheid nie. Maar moenie dink hy laat ʼn kans verbygaan om ons te sê hoe min ons hom betaal nie! Hy is vreeslik lief vir Afrikaans en dis vir hom lekker om in hierdie stadium van sy loopbaan by die Afrikaanse industrie betrokke te wees.”
Volgens Tim sal Arnold boonop ʼn fantastiese regisseur maak.
“Hy het ʼn ongelooflike oog vir kamera-hoeke. Hy sal gereeld na Jozua toe gaan en goeie voorstelle maak, maar as jy vir hom sê hy moet regie doen, sê hy dis te veel werk.”
ʼn Jong aktrise wat Tim-hulle by Plan B én Heart of the Hunter betrokke wou hê, is Wanda Banda. In Plan B, speel sy die rekenaar-wonderkind Kate en in Heart of the Hunter Allison Balloyi.
“Wanda is bloedjonk en daar’s iets spesiaal aan haar. Sy is reg vir enigiets en ongelooflik goed voorbereid. Iets wat ʼn mens nie altyd by jong akteurs sien nie.”
Lekker om die slegte ou te speel
Sy karakter in Heart of the Hunter is Tiger de Klerk, deur wie Tim baie van sy klein-seuntjie skop-skiet-en-donner-drome kon uitleef.
“Dis altyd lekker om ʼn bad guy, veral hierdie tipe bad guy, te vertolk. Jy het die ruimte om nuwe dinge te probeer en om jou innerlike poephol die kans te gee om uit te kom. Dit was vreeslik baie pret, maar ook harde werk.
“Dit was ʼn baie fisieke rol, want my karakter en dié van die hoofkarakter Zuko Khumalo (Bonko Khoza) het baie gevegstonele. Ons moes baie hard oefen en sterk raak om ons lywe reg te kry. Dit was lekker om weke lank saam met die stunt ouens te werk en elke beweging te choreografeer. Ons wil nie regtig raakgeslaan word nie, want nie een van ons is so taai soos ons daar lyk nie…”
Skop deure oop
Hy is baie opgewonde oor die vrystelling van Heart of the Hunter en meen daar is nog nie voorheen iets van dié skaal in Suid-Afrika gedoen nie.
“Aksie is moeilik, want dit vat tyd om elke toneel reg te skiet. Met jaagtonele moet jy strate toemaak en stunt drivers in al die karre hê en om dit reg te kry is ʼn groot storie. Maar ons het dit reggekry. Ek hoop met Heart of the Hunter het ons die kerf hoër gestel vir ander produksies ook, omdat ons daardeur wys wat moontlik is met ʼn Suid-Afrikaanse produksie,” sê Tim.
“Dis nie arrogansie nie, maar eerder die feit dat dit almal in die bedryf baat as die produksies goed is. Cobus sê altyd ons kompetisie is nie die goeie produksies nie, maar die slegtes, omdat dit almal aftrek. In ons klein industrie, is ons almal bly vir mekaar as iemand iets great doen.”
Die feit dat Heart of the Hunter op Netflix vrygestel word en dadelik ʼn internasionale gehoor gaan hê, maak hom baie opgewonde.
“So skop ons nuwe deure oop vir almal in die bedryf en wys ons wat Suid-Afrikaners kan doen.”
Wêreldklas Afrikaans
Hoewel hulle projekte maak om internasionale gehore te lok, bly Afrikaans die span by Scene23 se passie.
“Die mense by kykNET gee ons baie vryheid en met Plan B kon ons kyk hoe ons ʼn Afrikaanse reeks, met ʼn klein begroting, groter en beter kan maak,” sê hy. “Die idee is om produksies met so ʼn hoë gehalte te maak, dat dit internasionaal verkoop en oorgeklank sal word.”
Terwyl hulle so hard werk, het hy en sy kollegas boonop baie pret: “Ek kan eerlik sê ons het pret op élke stel, want jy kan op skerm sien hoe die gevoel op stel was. Met Plan B was dit natuurlik maklik, want daar was baie grappies en Jozua het ʼn vreeslike lekker omgewing op stel geskep. Ons kon ook so bietjie met ons lyne improviseer en soms ʼn belaglike rigting inslaan en kyk of dit werk.
Maar selfs met Griekwastad kon mense sien ons geniet wat ons doen, al werk ons ontsaglik hard.”
Een van die uitdagings vir Suid-Afrikaanse rolprentmakers is die vinnige pas waarteen werk voltooi moet word en dit meestal met ʼn baie klein begroting.
“Daarom gee almal meestal 120% – van die cast tot die crew. Die voordeel wat ons in Suid-Afrika het, is dat ons onsself kan vergelyk met die beste televisie en flieks wat hierheen kom. Ons weet hoe ʼn fliek of reeks móét lyk.”
Die uitdaging is dan om planne te maak en uit te werk hoe om die eindproduk op skerm soos die plan in jou kop te laat lyk, ten spyte van die uitdagings, sê Tim.
“Dis eintlik ongelooflik, want almal in ons bedryf het daai manier van dink. Dit beteken ons boks met ons reekse en flieks letterlik ver bo ons gewig.”
“Ons gaan nou Maart geniet, want dis altyd lekker as mense uiteindelik jou projekte sien,” sê Tim. “Maar as entrepreneur is daar nie regtig tyd vir blaaskanse nie, want dan gaan jy geen geld verdien nie. Ons is Dinsdag die 20ste Maart by die KKNK vir die bekendstelling van Plan B gehad en het ook reeds ʼn screening van Heart of the Hunter gehad. ʼn Mens moet daai oomblikke geniet, want daarna begin al die harde werk van voor af.”
Hy en die span by Scene23 werk reeds aan opwindende nuwe projekte: “Ons het boeke van ander skrywers waarvoor ons tekste skryf en reekse of flieks ontwikkel. Nou sal ons begin kyk waar die befondsing vandaan gaan kom en hoe die legkaartstukkies vorentoe in mekaar sal pas.”
Plan B saai Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) asook DStv Stream uit. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Heart of the Hunter word op 29 Maart 2024 op Netflix vrygestel.
Nog lekker onderhoude
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →