Toe Henry (Stiaan Bruwer), Diepe Waters se eie Luciano Pavarotti, die eerste keer sy mond aan ’n snytjie van Lettie (Stephanie Baartman) se gewilde melktert sit, was hy ’n goner. Hoe sê hulle?… “The way to a man’s heart is through his stomach!” En Lettie moes dit beslis geweet het toe sy vir Henry van haar melktert gevoer het. Hul gedeelde liefde vir sang en groot omgeeharte het hulle ook net nader aan mekaar gebring.
Maar dié twee het amper nie by mekaar uitgekom nie. Tog – tussen al die Italiaanse etes, ’n boksgeveg tussen Henry en Lettie se long lost tienerliefde en gesteelde soene was daar net een manier hoe hierdie vriendskap kon eindig… Voor die kansel.
En nou het die Swart Marlyne-gemeenskap bymekaar gekom om Lettie en Henry se liefde in styl te vier. Dié feesvieringe was nes die paartjie se verhouding; ’n whimsical en unieke dag vol liefde en lekker kos.
terloops het met Stephanie Baartman en Stiaan Bruwer oor hul karakters, hul eie idee van liefde en die lekkerte van ’n sepietroue gesels.
Toe julle aan die reeks begin skiet het, het julle ooit gedink Henry en Lettie sou trou, of selfs ’n paartjie word?
Stephanie: “Glad nie! Wat ek wel geweet het, is dat ek en Stiaan baie goeie vriende sou wees. En dit was toe ook dadelik die geval. So, ek is baie bly dis hy!”
Stiaan: “Ek was regtig nie seker nie. Ek is wel bly dat Stephanie my vrou is in die storie. Sy maak dit maklik om verlief te speel!”
Wat was tot dusver jou lekkerste toneel of date tussen Henry en Lettie?
Stephanie: “Die etes wat ons gehad het waar Tshepo (Johnny Potsanyane) die kelner was, was baie oulik. Maar omdat ek en Stiaan so baie lag en hy skreeusnaaks is, was die komiese tonele vir my die lekkerste. Veral toe Kurt, die speurder, so agter my aan was en Henry hom tot ‘n boksgeveg uitgedaag het. Meer onlangs, die foto’s wat ons moes neem ná die verlowing! Julle kan nou net dink toe Stiaan met daai pruik daar uitkom.”
Stiaan: “Die melktert-tonele bly my beste! Want ek het regtig daai terte geëet. En dan natuurlik die toneel waar sy my met haar handsak slaan omdat ek met Kurt wil boks.”
Wat is jou idee van ’n romantiese date night?
Stephanie: “Mag ek ’n hele naweek kies? Ek hou van alles! Gee vir my die blomme, die kos, die chocolates, die musiek, die dans, die jacuzzi, die spa-behandeling… alles! Ek is mos maar bietjie oordadig van geaardheid.”
Stiaan: “ ’n Lekker rock show! Of êrens gaan sit en ’n bord kos kry. Ek wil kan gesels met die persoon.”
Wat sou jy sê, is jou karakter se love language?
Stephanie: “Ek dink Lettie sal acts of service verkies, want sy skarrel mos maar heeltyd rond. En dit is beslis haar liefdestaal! Dink net aan al daai melkterte.”
Stiaan: “Henry het beslis words of affirmation nodig, hy het mos maar ’n baie brose selfbeeld.”
Wat is jou eie liefdestaal?
Stephanie: “Ek hou van physical touch, om dit te gee en te kry. Maar ek gaan jou nie keer as jy voel jy wil die wasgoed doen, die huis skoonmaak en ’n week se etes vooruit maak nie.”
Stiaan: “Hey, hey, hey, dis persoonlik! Watch it, buster!”
Hoekom is hierdie karakter so lekker vir jou om te vertolk en wat maak hierdie karakter so spesiaal?
Stephanie: “Omdat Lettie basies ’n goeie mens is. Al is en lyk ek glad nie soos sy nie – ek besit byvoorbeeld nie ’n voorskoot nie – kan ek myself tog met haar vereenselwig. Ek weet net nie of ek so lank sou kon uithou met ’n ma soos Valencia (Vinette Ebrahim) nie.”
Stiaan: “Ou Henry se hemde en broeke pas nie bymekaar nie, hy hang daar by die swembad rond in sy plakkies en sy emmertjie met swembad-chloor, eet melktert, en soen vir Lettie, which is nice! Maar hy is sag en hy sit ander mense voor homself. Hy is lojaal en baklei vir die mense wat hy lief het. Hy is ’n goeie man vir sy vrou en ’n goeie pa vir Tshepo.”
Natuurlik is daar baie meer prep en moving parts op stel wanneer ’n troue geskiet word, maar hoe is dit anders as enige ander dag op stel vir akteurs?
Stephanie: “O nee, dit was baie anders! Veral in die lig van die feit dat ek daai trourok voor die Desember-vakansie aangepas het, en die troue direk na die vakansie geskiet was!
“Die grootste verskil is egter dat al die spelers op stel is tydens so ’n tipe geleentheid, wat lekker is. Kykers verstaan dalk nie, maar as ek nie in ’n spesifieke tonele is saam met sekere spelers nie, sien ek hulle ook nooit nie. Ek was byvoorbeeld meer as ’n jaar by Diepe Waters, voordat ek ’n toneel geskiet het in Wim en Rose se huis.”
Stiaan: “Nee, jislaaik, ek moes heeldag in ’n pak en ’n das rondloop! En dit was warm! ’n Mens stres mos maar vreeslik, maar wanneer jy op stel kom en sien hoe mooi dit lyk, dan begin die gravitas van die situasie real word. Jou karakter gaan nou trou. En wie weet hoeveel mense gaan dit sien! Jy beter ’n goeie job doen, buddy.”
Aan watter ikoniese TV- of filmpaartjie herinner Henry en Lettie vir julle?
Stephanie: “Ek dink Homer en Marge Simpson. Met Johnny, wat Tshepho vertolk, as Bart Simpson.”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.