Menu terloops
In Onderhoude [19 Mar 2024]

Bonné de Bod oor ‘Bewonder en bewaar’ S2: ‘Ontsnap saam na ikoniese wildernisse’


Sy het gewonder hoe hulle die eerste seisoen gaan oortref, maar Bonné de Bod sê sy glo die tweede seisoen van die natuurprogram ‘Bewonder en bewaar’ is net so spesiaal. En ná talle versoeke word dit dié keer met Engelse onderskrifte uitgesaai.

Bonné de Bod oor ‘Bewonder en bewaar’ S2: ‘Ontsnap saam na ikoniese wildernisse’
Kyk lokprent

Die nuwe seisoen van Bewonder en bewaar met Bonné de Bod begin op 24 Maart om 20:00 op kykNET. Buiten dat dit die keer vir ’n groter gehoor toeganklik gemaak word met die toevoeging van Engelse onderskrifte, is daar ook ander eerstes, vertel Bonné. 

“ ’n Amper naakte wetenskaplike wat soos Bobby van Jaarsveld lyk in die Namib-woestyn, die dophou van wolwe in die Yellowstone Nasionale Park, en om baie naby aan ’n grizzlybeer te kom,” lys Bonné.

“Ook plaaslik om saam met Sanparke se hoofvlieënier op ’n moeilike wildvang-ekspedisie te gaan terwyl hy Oh, what a beautiful morning sing.”

Bonné het meer aan terloops vertel: 

Oor die nuwe seisoen van Bewonder & Bewaar

“Hierdie seisoen is alles wat verlede seisoen was – en meer! Ek onthou hoe ek ná die eerste seisoen vir Susan (Scott, regisseur) gevra het, ‘Hoe op aarde gaan ons dit oortref?!’ En ek wil nie vergelykings maak nie, want al die mense wat ons ontmoet, die landskappe wat ons ervaar, en die stories wat ons bevoorreg is om te vertel, dít alles is besonders en uniek op hul eie manier. Maar ek moet sê, hierdie nuwe seisoen is ongelooflik spesiaal!” 

Bewonder en bewaar, bonne de bod
Prof. Andrea Fuller saam met Bonné de Bod… en natuurlik die meerkatte. Foto: Susan Scott

Oor waarheen hulle in dié seisoen reis

“Ons reis weereens na absoluut ongerepte wildernisse. Van die sandduine in die Namib-woestyn, na ons geliefde Krugerwildtuin tot die epiese landskappe van Yellowstone en die Grand Teton Nasionale Park in Amerika. Oral spandeer ek tyd saam met wonderlike individue… Navorsers, veeartse en wetenskaplikes wat baanbrekerswerk doen vir ons wildlewe en wilde plekke.

“En ons het van die kleinste tot die grootste tot die mees ikoniese roofdiere; blaffende geitjies; meerkatte; kameelperde; buffels; grizzly-bere; wolwe; en die lys gaan aan.”

Oor haar hoogtepunte dié seisoen

“Sjoe, daar is so baie! Maar ek moet beslis sê om wolwe te sien, die wilde wolwe in Yellowstone. Om op ’n koppie te staan wat uitkyk oor hierdie bekende vallei genaamd die Blacktail Plateau en ’n wolftrop met hul welpies te sien… Ek kan aan niks beter dink as dit nie!

Bewonder en bewaar, bonne de bod
Om dié wolwe met haar eie oë te sien, was vir Bonné een van die hoogtepunte van haar loopbaan – en lewe. Foto: Dan Stahler

“Ek kan onomwonde sê dat dít een van my kosbaarste herinneringe is uit alles wat ek al tydens verfilming beleef het. Dit staan regtig vir my uit as ’n hoogtepunt in my lewe. En wat dit nog meer spesiaal gemaak het, was om na die hoofwolfbioloog van die Yellowstone Wolf Project, Kira Cassidy te kyk, en sy vat ’n tree terug van die teleskoop, en ek haar oë sien wat helder blink. Dis ’n gesig wat ’n storie van opgewondenheid vertel. Sy sê vir my, ‘Bonné, wat jy hier sien, hierdie wolwe het geen idee dat ek en jy hulle dophou nie. Hulle speel, hulle gaan voort met hul lewens, heeltemal onbewus. Dít is ware wolfgedrag’.”  

Oor die besonderse blaffende geitjie… en avonture in die donker

“Nog ’n besonderse oomblik vir my was om ’n unieke klein diertjie van nader te bekyk. Een wat ek al baie keer van gehoor het, maar nog nooit gesien het nie… Die blaffende geitjie! Toe ons ons episodes beplan het, het ek gedink as ek so gefassineerd is met hierdie piepklein reptiel, is ek seker die kykers sal ook wees. En die voorste kenner van die spesie is dr. Francois Becker. Ons het by ’n afgeleë navorsingstasie in die middel van die Namib-woestyn ontmoet. Wat dit moeilik maak om hierdie spesie te bestudeer, is dat die diertjie baie sku is. Hulle kom uit net soos die son water begin trek.

“Diegene wat al in die woestyn was, weet dat wanneer jy deur die landskap ry, jy altyd deur iets omring word, ’n voertuig of ’n tent… Maar om die woestyn in die middel van die nag te voet aan te durf… Dit was nogal ’n belewenis. Dit was pikdonker so vêr as wat die oog kon sien. Toe ek opkyk, was daar net hierdie kombers van sterre, dit is eintlik amper soos swart op wit, dít is hoeveel sterre daar was. Dit is hierdie hele plafon van spikkels lig, dit is skouspelagtig, jy sien regtig die melkweg in al sy glorie. 

Ek sê altyd, hierdie is nie jou tipiese natuur-reeks nie, dit gee ons ’n opbouende en dieper insig in die menslike gees en ons vind ook uit watter lewenslesse hulle uit hul tyd in die natuur geleer het.

Bonné de Bod

“Ons het ’n hele ent op die duine gestap en al wat ek kon hoor was die geblaf of getjirp van die blaffende geitjies. Ek draai toe om na dr. Becker en sê, ‘Ek kan hulle hard en duidelik hoor, maar ek kan hulle nie sien nie.’ Dit was in daardie oomblik toe ek na Francois kyk dat ek besef hy het geen vangtoerusting by hom nie. Nie ’n net nie, nie ’n hok nie. Hoe op aarde gaan hy hulle vang?

“Die volgende ding wat hy vir my sê, is, ‘Bonné, ek moet al my klere uittrek’. Hy het na sy klere gewys en gesê, ‘Dit alles maak ’n geraas. Maar ter wille van jou en die kykers sal ek my onderklere aanhou!’

“Ek was stomgeslaan en ek het by myself gedink, ‘Dankie tog dis donker dat hy nie kan sien hoe ek bloos nie!’ En toe dat ek bly is dat sy onderklere aangebly het, anders sou ek ’n naak-gradering vir hierdie episode moes kry! 

Bewonder en bewaar, Bonne de bod
Dié navorser se klere moes waai om dié geitjie te kan vang. Foto: Susan Scott

“Ek het vir hom gesê dat ek in al my jare nog nooit ’n navorser teëgekom het wat hierdie metode gebruik nie. Hy het ’n oomblik gedink en gesê: ‘Ek ook nie!’

“Hy het my toe mooi laat verstaan dat ek net daar moet staan. En wragtig, daar gaan hy met net sy onderklere en flits, niks anders nie! Hy het die outjie bekruip en toe saggies maar vinnig in die sand geduik en die diertjie gegryp. Dit was ongelooflik om sy toewyding te sien. 

“En toe om hierdie diertjie vir die eerste keer te sien, sjoe hulle is pragtig! Hulle is baie kleiner as wat ek gedink het. En dan die wonder van die natuur, hul kamoeflering; hul kleur smelt perfek met hul omgewing saam. Hulle het hierdie klein veeragtige tone wat hoogs komplekse huisies (tonnels) ondergronds grawe. Dr. Becker het toe al sy wetenskaplike data ingesamel en hom weer vrygelaat dáár waar hy hoort.”

Oor die mense wat kykers ontmoet

“So, ja, hierdie seisoen – net soos die vorige een – gaan oor die diere, en natuurlik was ek in bewondering en my asem was weggeslaan om die wolwe van Yellowstone te sien, maar dit gaan ook oor die mense wat hierdie werk doen. Vir hulle is dit nie ’n werk nie, dit is ’n passie, dit is ’n roeping. En hoe gelukkig is ons dat ons tyd saam met hulle kan spandeer en die waardevolle werk wat hulle doen in aksie kan sien. En nog meer belangrik, hoe opgewonde en vol hoop hulle is vir hierdie lewende wesens op ons planeet. Ek sê altyd, hierdie is nie jou tipiese natuur-reeks nie, dit gee ons ’n opbouende en dieper insig in die menslike gees en ons vind ook uit watter lewenslesse hulle uit hul tyd in die natuur geleer het.”

Kira Cassidy, die hoofwolfbioloog van die Yellowstone Wolf Project, saam met Bonné de Bod. Foto: Susan Scott

Oor uitdagings 

“Vir die grootste deel (van verfilming) het ek die tyd van my lewe! Ek is absoluut mal daaroor om in die natuur te wees en dit is wonderlik om saam met hierdie merkwaardige mense tyd deur te bring. Vir my is hulle bewaringshelde. Maar dit is soms moeilik. Baie van hierdie mense, so wonderlik soos hulle is, is introverte en skaam. Daar is hierdie vreemde teenstrydigheid. Hierdie navorsers, veeartse en wetenskaplikes hou van hul data en dit word gepubliseer, maar hulle hou ook daarvan om in die natuur te wees.

“Maar dis juis die ding, hulle is op hul eie in die natuur. Hulle is op hul eie in hul laboratorium, hulle is alleen wanneer hulle hul publikasies skryf. So soms is dit moeilik om inligting uit hulle te trek en om hulle gemaklik voor die kamera te kry. Amper elke keer as ek iemand ’n lui gee en vir hulle sê dat ek dink hulle ongelooflike werk doen, en dat ons baie graag ’n episode saam met hulle wil doen, is hul reaksie, ‘O, genade, ’n storie oor my!? Nee, maar dis nie net ek nie, daar is ’n hele span en ander navorsers ook’. Dan weet ek ons het die regte persoon! Hulle is nederig, hulle is toegewyd, maar dit beteken ook dat hulle kamerasku kan wees.

“Maar sodra ek vir hulle verduidelik dat ons op sy of haar navorsingsonderwerp gaan fokus, jong, dan praat hulle. Soms kan hulle nie ophou praat nie en ek kry skaars ’n woord in! So, ja, dit is soms ’n uitdaging om daardie spesiale oomblikke te kry, maar dít is my werk. Ek moet hulle laat voel dat dit net ek en hulle is, amper asof daar geen kamera is nie.”

Oor ’n gesonde leefstyl ‘in die veld’

“(Ons verfilm in) afgeleë plekke en die werksomstandighede kan baie moeilik wees. Toe ek destyds ’n aanbieder op 50|50 was en in die veld verfilm het, het ek gewoonlik energiestafies en lekkers geëet en Coke gedrink. Ek kan nie glo hoe ongesond ek was nie. Maar ek was in my 20’s, so ek veronderstel dit is te verstane. Ek sal omval as ek dit nou doen! Met dié dat ek ouer is, probeer ek om ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Ek eet soveel anti-inflammatoriese kosse as wat ek kan, wat nie net jou liggaam van binne genees nie, maar ook groot hoeveelhede energie gee. Ek is ’n groot voorstaander van whole foods, so na aan hoe God dit geskep het. Dus vermy ek dooie koolhidrate, kosse wat vir lang tye op die rak kan sit.

“Maar dit is baie maklik om só te eet as ek by die huis is. Dis bietjie moeiliker as jy by ’n navorsingstasie in die middel van nêrens is. So wanneer ons reis, veral wanneer ons oorsee verfilm, pak ek voorraad. Sodra ons land gaan ons na die naaste winkel vir neute, ’n sak aartappels, ’n sak appels en ’n sak wortels, omdat dit lank hou. 

…Ek hoop dat wanneer kykers na die reeks kyk, dit hulle ’n idee sal gee van die geweldige passie en toewyding wat daaraan verbonde is om hierdie wilde ruimtes te bewaar.

Bonné de Bod

“Dan is daar ook die fisieke uitdagings wat gepaard gaan met verfilming saam met navorsers, veeartse en wetenskaplikes. Hulle is superfiks! Hulle spandeer die meeste van hul tyd in die veld en stap ver afstande om hul onderwerpe te monitor. So of dit nou is om ’n kamerastrik te gaan haal, of na ’n wolf-lêplek te gaan, of monsters van 700 buffels te neem – ek moet by hulle bybly! En ’n mens sou dink om vir ’n uur gimnasium toe te gaan voldoende sou wees, maar ongelukkig nie om met hierdie mense by te hou nie. Daarom probeer ek elke dag 90 min stap en gemiddeld tussen 25 tot 40 kilometer per week, wat regtig met my fiksheid help.”

Oor hoe kyker wildlewe kan ondersteun

Dit is eintlik baie maklik om wildlewe te ondersteun deur iets so eenvoudig soos om ’n nasionale park of wildreservaat as jou vakansiebestemming te kies. Ons is so geseënd om ongelooflike wildernisgebiede in Suid-Afrika en in ons buurlande te hê. Van woestyne tot berge tot die bosveld en die see. Ons kan letterlik ’n pragtige vakansiewegbreek in enige van daardie plekke kies en wegkom vir ’n bietjie kos vir die siel. En ek hoop dat wanneer kykers na die reeks kyk, dit hulle ’n idee sal gee van die geweldige passie en toewyding wat daaraan verbonde is om hierdie wilde ruimtes te bewaar.”

BONNE DE BOD, BEWONDER EN BEWAAR
Bonné kon só beer van naderby aanskou. Foto: CJ Adams

Oor wat agter die skerms gebeur 

“Ons ‘ateljee’ is altyd afgeleë wildernisse, so die elemente is gereed om verwoesting te saai! Tydens een só ’n oomblik was ons letterlik vir twee dae in ’n navorsingstasie gestrand tydens ’n sandstorm in die Namib-woestyn. Nodeloos om te sê, daar was nie aan ’n kamera geraak nie! Dan moes ons ook al drie keer een van ons stories in die Kaap aanskuif omdat die weer net nie saamgespeel het nie. Om in onstuimige waters te duik met die suidooster wat waai, is nie ’n goeie idee nie! Die weer is dus altyd ’n faktor agter die skerms.”

Oor die snaakse oomblikke op stel 

“Een wat ek met graagte onthou, is toe ons in Wyoming verfilm het. Wanneer jy in die land van die bere is, en meer spesifiek die Greater Yellowstone-gebied in Amerika, sal jy kennisgewings sien wat jou aanraai om beersproei aan te skaf. En daar is ’n goeie rede hiervoor. In Amerikaanse nasionale parke word jy toegelaat om uit jou voertuig te klim, selfs al is daar massiewe grizzlybere. En nie net dit nie, jy word ook toegelaat om in die parke te stap. Dít sonder om deur ’n veldwagter begelei te word. Daar is ongeveer 44 grizzlybeer-aanvalle wêreldwyd elke jaar. Ons praat dus van gevaarlike diere en hulle is nie bang vir mense nie. Hulle sal reguit op jou afpyl as jy in hul pad is, veral as hulle kleintjies het.

Bewonder en bewaar, bonne de bod
Bang vir bere? Bonné het baie oor grizzlybere by die beerbioloog Justin Schwabedissen geleer. Foto: Susan Scott

“So met dit in gedagte, het ek die beerbioloog in die Grand Teton Nasionale Park ontmoet, ’n ongelooflike mooi wildernis. Hy het my ’n staptog in die ruigtes van die beerwêreld belowe, waaroor ek natuurlik baie opgewonde was. Maar eers moes ek ’n demonstrasie kry van hoe om beersproei te gebruik. Hy haal toe sy beersproei uit sy heupsak, wys my hoe om die veiligheidsknippie te verwyder en sê ‘jou hart gaan sekerlik uit jou borskas wil spring, adrenalien gaan deur jou are pomp, maar, moenie hardloop nie!’

“En ek dink by myself, ‘O genade, dit is nou die veg of vlug-storie en my reaksie is beslis om te vlug!’ Hy gaan toe voort en sê, ‘So as daar nou ‘n grizzly voor ons staan, loop ons stadig agteruit en ons praat saggies.’ Hy kyk toe na my en sê, ‘Die praat wat jy moet doen is… Hi bear! It’s ok, bear! I’m backing away bear!’ Wat? So op daai oomblik wat ’n grizzly voor my staan, moet ek saggies met die dier kommunikeer? Gelukkig het ons onsself nie in so ’n skrikwekkende situasie bevind nie. Ek was wel bevoorreg om ’n grizzly in hierdie tipiese Amerikaanse oop vlakte te sien eet. Dit was so spesiaal!”

Oor haar wens vir kykers

“Ek kan nie wag vir die kykers om terug te sit en saam met my na ikoniese wildernisse te ontsnap en hierdie passievolle mense te ontmoet nie; mense wat harte roer. Hulle inspireer en gee hoop in ’n tyd wanneer dit die nodigste is.” 


Weeklikse episodes van Bewonder en bewaar met Bonné de Bod vanaf Sondag, 24 Maart 2024, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies