Menu terloops
In Onderhoude [20 Jul 2023]

Bobby van Jaarsveld oor ‘Spoorloos: Die Eiland’: ’n Droomrol waarvoor hy lank moes wag


Hy is ’n bekende gesig in die vermaakbedryf, maar aanhangers sal ’n heel ander kant van Bobby van Jaarsveld in ‘Spoorloos: Die eiland’ (nou op Showmax) as die karakter Stefan Claasen sien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

Bobby van Jaarsveld oor ‘Spoorloos: Die Eiland’: ’n Droomrol waarvoor hy lank moes wag
Kyk lokprent

Bobby van Jaarsveld was al voorheen in flieks soos As jy sing en Liefling, maar wag al jare vir ’n ernstige rol om homself as akteur te bewys.

In die vierde seisoen van kykNET se gewilde anthology-dramareeks, Spoorloos, vertolk Bobby in een van die hoofrolle as ene Stefan, ’n argitek. Nes Bobby, is Stefan ’n toegewyde pa, wat enigiets vir sy seun sal doen. Sy lewe word in chaos gedompel as ’n toevallige ontmoeting met ’n lang verlore liefde nie net sy gevoelens vir haar opnuut laat opvlam nie, maar hom in ook in ’n web van bedrog betrek as sy skielik vermis raak.

Bobby het ook in Junie vanjaar een van die Silwerskermfees se eerste TV-benoemings as beste akteur vir sy vertolking in dié reeks ontvang.

Soos die vorige seisoene, is Spoorloos: Die eiland ’n losstaande reeks met ’n nuwe storielyn en sy eie karakters; ’n storiereis van raaisels.

Ons het met Bobby gesels oor sy droomrol, side hustles en die groot verantwoordelikheid om van jou kinders goeie grootmense te maak.

Bobby van Jaarsveld en Izel Bezuidenhout in Spoorloos: Die Eiland
Ou geliefdes wat mekaar weer vind, twee mense wat vermis word en ’n eiland vol geheime. Bobby van Jaarsveld en Izel Bezuidenhout in Spoorloos: Die Eiland. Foto: kykNET/Verskaf

Hoe sal jy jou karakter beskryf, en hoe verskil hy van Bobby?

“Stefan is ’n baie goeie mens. Hy vat te maklik kanse, maar hy is baie lief vir sy familie en sal enigiets vir sy kind doen. Ek dink nie die karakter verskil te veel van my nie, behalwe dat hy al deur baie trauma in sy lewe is.”

Hoe wou jy vir Stefan uitbeeld?

“Ek weet nie presies wat ek in gedagte gehad het nie. Ek wou wel definitief hê mense moet genade vir hom hê en ek dink dit is wat gaan gebeur. Hy is maar ’n kansvatter, maar hy het ’n goeie hart. Ek hoop mense sien Stefan vir wie hy regtig is. Ek hoop mense sien dat daar nog goedheid in dié mens is en dat ’n pa regtig vir sy seun wil baklei.”

Nes Stefan, is familie is vir jou ook baie belangrik. Ek dink dit gaan aan kykers se hartsnare trek as hulle die band tussen Stefan en Lenny (Stefan se seun in die reeks) sien. Hoe het pa-wees jou verander?

“Pa-wees verander jou gedagtes, gedrag en sommer alles. Dit is ’n 360-grade omkeer wat jy maak. Voor jy ’n kind kry, is jy so half selfsugtig en eers wanneer die kind hier is, besef jy eintlik hoe selfsugtig jy regtig was. Alles het oor jou gegaan en skielik gaan niks meer oor jou nie. Jou lewe draai rondom hierdie nuwe lewe in jou huis. Mens is maar altyd skrikkerig vir hoe hulle gaan uitdraai. Dit is tog ons verantwoordelikheid om goeie volwassenes daar buite in die regte lewe in te stuur. Om seker te maak dat hulle goeie pa’s en ma’s vir hul kinders gaan wees en goeie mans en vroue vir hul beter helftes gaan wees. Daai verantwoordelikheid is nogal groot en iets waaroor ek baie dink.”

Ons almal weet sang is jou passie, maar wou jy ’n meer dramatiese rol vertolk? 

“Ek was nog altyd baie lief vir akteurswerk, en dit was ’n groot droom om ’n ernstige rol te kry. Ek is al oor die jare in musicals en komedies gesien, maar ek wil graag hê mense moet my ernstig opneem. Ek het regtig lank vir so ’n tipe rol gewag.”

Voel jy soms dat jy ’n bietjie harder moet werk om jouself as akteur te bewys, omdat mense jou eerste as ’n suksesvolle sanger ken?

“Ek dink definitief dat ek ’n bietjie harder moet werk, omdat mense ’n sekere idee van jou het. Ek is ’n suksesvolle sanger, maar daar is ’n stigma dat sangers probeer act en akteurs probeer sing. Ek glo dat as jy reeds in ’n veld bekend is, dan is die oë meer op jou gerig. Die judgement is ’n bietjie erger. So ’n mens moet maar bietjie harder werk. Maar die mense wat jou volg en jou ondersteun, ondersteun jou deur dik en dun. Ons Afrikaanse ondersteuners is baie lojaal en ek dink hulle wil net die beste vir mense hê.”

Ná die pandemie en alles wat die afgelope twee jaar in die wêreld gebeur het, dink jy ooit daaraan om ’n gewone nege-tot-vyf-beroep te kry of lewe jy jou passie uit?

” ’n Gewone nege-tot-vyf job is glad nie vir my nie. Ek sal dit nooit kan doen nie. Ek is definitief nie ’n kantoorman wat net voor ’n rekenaar sit nie. Ek sal eerder op ’n verhoog of voor ’n kamera wil werk. Maar ek het ’n paar side hustles wat my besig hou. Die pandemie het beslis vir ons almal geleer dat dit belangrik is om jou eiers in ’n klomp mandjies, eerder as net een te hê.”

Jy is gewoond daaraan om op ’n verhoog voor honderde mense op te tree, maar wat was jou ervaring voor die kameras?

“Voor ’n kamera is moeiliker vir my. ’n Verhoog is makliker, omdat jy ’n lys van liedjies het wat jy al jare sing. Jy ken jou gehoor en jy ken jou musiek, so dit is redelik maklik om op ’n verhoog te wees. Kamerawerk is moeiliker vir my, want jy moet woorde leer en enigiets kan verkeerd gaan, dan moet jy aangaan met jou toneel en maak asof dit normaal is. Ek geniet albei baie en ek sal vir altyd wil optree of voor die kamera toneelspeel.” 

Hoewel jou karakter nie baie tyd in die water deurbring nie, speel hierdie seisoen wel op ’n eiland af en as ’n mens na jou sosiale media kyk, lyk dit asof jy self baie lief is vir ’n eiland. Hoekom is dit vir jou lekker om op ’n eiland vakansie te hou?  

“Ek is mal oor die see en die strand, dit is hoekom ek van Gauteng getrek en nou in Ballito woon. Ek moet die see sien en ons sal nooit vakansie hou waar daar nie ’n see is nie. Ons love eilande en water. Ek is ’n groot diepseeduiker. My kinders hou ook van snorkel, so ons is baie lief vir die water.”

Jy het al so baie gedoen, maar wat is iets wat jy nog graag voor 40 wil doen? 

“Ek wil nog in ’n groot film speel. Dit sal baie cool wees.”


Die vierde seisoen is vanaf 20 Julie 2023 op Showmax beskikbaar om te stroom. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies