Menu terloops
In Gons [19 Feb 2024]

‘In die sop’: Bertus en Misi terug as restaurantredders


Met die derde seisoen van kykNET se werklikheidsreeks ‘In die sop: Restaurant-evolusie’ word daar van die Kaap tot die Karoo en Weskus – en ’n eerste keer ook in Gauteng – nuwe lewe in verskeie restaurante geblaas.

‘In die sop’: Bertus en Misi terug as restaurantredders

Die possak het behoorlik gekreun met meer as 400 inskrywings van restauranteienaars dwarsoor die land. Dit het die bekroonde glanssjef Bertus Basson, dekorkenner Misi Overturf en hul span deskundiges behoorlik laat kopkrap oor watter deelnemers hulle vir die derde seisoen van In die sop moes kies. 

Die nuwe seisoen, wat op 6 Maart 2024 begin uitsaai, lewer ook ’n nuwigheid in die vorm van ’n liefdadigheidsprojek om meer huislike ruimtes in ’n kinderhuis te skep.

Soos met die vorige seisoene is hul grootste uitdaging die stryd teen tyd, want hulle het net 72 uur om ’n restaurant reg te ruk en ’n nuwe gedaante te gee. En dit verg veel meer as net ’n besem en skoppie en ’n leksel verf.

“Daar is geen heilige koeie nie, en ons woeker met die restaurante se kombuis, uitleg, meubels en spyskaarte,” sê Bertus. 

Misi Overturf, In die sop
Misi Overturf. Foto: Verskaf

Hongerte vir positiewe stories

“Almal hou van ’n goedvoel-storie waar iemand ’n tweede kans kry om vars te begin, en in ons land is mense uitgehonger vir positiewe stories. Maar dis belangrik dat daar egtheid in daardie stories skuil. En vanjaar se In die sop-eetplekke is tot boordens toe vol met mooi stories oor Suid-Afrikaners se deursettingsvermoë,” vertel Bertus.

Só skop die derde reeks in die Kaapse woonbuurt Kuilsrivier af, waar al die inwoners weet van die beskeie 1960’s-woonhuis agter ’n vrolike, pers geverfde vibracrete-muur waar jy vir Suzie en Willy Mathys gaan aantref. Vir die energieke egpaar in hul 70’s, wat Suzie’s Coffee Shop besit, is dit soos ’n droom wat waar geword het om met In die sop hul storie met Suid-Afrika te deel. 

Bertus Basson
Daar’s geen heilige koeie in In die sop nie, meen Bertus Basson. Foto: Verskaf

’n Werklikheidsreeks wat ’n ware verskil maak

Volgens Bertus is organisasie, stelsels en goeie selfdissipline die grootste uitdagings waarmee restauranteienaars hulp nodig het. As hulle hierdie drie aspekte kan baasraak, is die regte fondasie gelê vir groei en goeie bestuur.

Hy het self ook al ’n hele paar waardevolle lesse geleer tydens die vorige twee seisoene van die reeks, maar wat staan vir hom uit?

“Dit maak werklik ’n verskil as jy omgee vir dit wat jy doen. Elke mens het ’n kans om hulself te verbeter in hierdie lewe.”

Dit is juis die omgee-aspek wat die In die sop-span ’n nuwe koers laat inslaan het. In een van die episodes wend hulle hul unieke stel vaardighede aan om hand by te sit om die Durbanville Kinderhuis se bestaande kombuise in funksionele, meer huislike ruimtes te omskep. 

“ ’n Kreatiewe kosomgewing, wat die voorbereiding en die eet daarvan insluit, kan ook bydra tot die jong inwoners se ontwikkeling, lewenskwaliteit en gevoel van selfwaarde,” meen Bertus. 


In die sop: Restaurant-evolusie word Woensdagaande vanaf 6 Maart 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies