As Bertus Basson die sjef-prins is wat op die wit perd in gegalop kom om restaurante in In die sop van ondergang te red, is Misi Overturf sekerlik die goeie fee van dekor en styl wat vir die eetplekke mooi rokke en glasskoene optower.
Sy het ’n uitsonderlike oog vir detail en die sonderlinge vermoë om in ʼn japtrap meubels, verf en fraai-goed saam te voeg wat mense sprakeloos laat. Week ná week het dié dekor-kenner en stilis dit reggekry om die stories van elke restaurant in die reeks op ʼn vars, stylvolle en lieflike manier met breekgoed, lap en hout te vertaal.
Nes Aspoestertjie se goeie fee, gee sy boonop om vir die mense en die stories agter die dekor en weet sy hoe om daardie stories tasbaar te maak met tafeldoeke, eetgerei en muurpapier.
Die eerste seisoen van In die sop, waar Bertus, Misi en hul span binne net drie dae vir restaurante ʼn oormaaksessie gee van die spyskaart tot die voorkoms, is tans op Showmax te sien.
“Ons het régtig net drie dae om alles te doen,” vertel Misi. “Buiten vir ʼn recce van ʼn uur of wat voor verfilming as ek my foto’s kan neem, die restaurant vinnig sien en gou die eienaars ontmoet, gebeur alles presies soos kykers dit in elke episode sien. Eintlik is daar gewoonlik minder as drie dae om alles gedoen te kry.”
Rustigheid en tjoklits
Misi, wat lank vir die tydskrif Tuis/Home gewerk het en skrywer van drie dekor-boeke, sê dit het baie gehelp dat sy spertye verstaan. Haar ervaring in die drukmedia het haar geleer hoe om op die nippertjie ʼn storie bymekaar te trek. Veral as daar ʼn krisis is en iets deur die mat geval het.
Dié dat sy altyd so koel en kalm bly te midde van die regruk-projekte wat kykers op In die sop sien.
“Ek en Bertus werk goed saam, maar ons werk eintlik onafhanklik. Hy het twee sjefs vir wie hy net ʼn halwe woord hoef te sê, dan verstaan hulle hom. Hy praat vinnig en baie en goed…
“Ek bly maar net rustig en kommunikeer met my span. Dit gaan ook oor beplanning en die feit dat ek weet dinge verander die heeltyd. Ek is nie ʼn ‘dit kan nie gebeur nie’-mens nie. Dit is die uitsondering dat iets regtig nie moontlik is nie… Ek glo nie ʼn mens se energie hoef intens oor te spoel nie. Dit help nie jy rev heeltyd in die rooi nie.
“Daar is genoeg druk op stel en in die aande is ʼn mens doodmoeg. As ʼn mens kalm en duidelik kommunikeer, ontvang mense dit so. Ons probeer ook maar almal se energie ophou met Coke en tjoklits.”
Fyn formule
Om haar en haar span se lewe te vergemaklik, probeer Misi altyd volgens ʼn formule werk. Sy bly egter steeds getrou aan elke restaurant se unieke storie.
Dit begin met ʼn mood board en beplanning oor wat sy met ʼn restaurant wil vermag.
“Die dekor moet sin maak vir televisie en moet mooi wees ook. Ek begin deur ʼn fokuspunt in te bring en die maklikste manier om dit te doen, is met muurpapier.
“Die meeste van die muurpapier wat ons gebruik, ontwerp ek self saam met my span en dit kan vinnig en maklik geïnstalleer word. Dis nie die goedkoopste nie, maar dis baie effektief in ʼn restaurant.
“Verf is ook ʼn lekker manier om kleur, drama of atmosfeer in te bring. Ek word gelei deur die gebou en die storie van die restaurant en ook deur wat prakties moontlik is. Beligting is ook baie belangrik.
“Daar is nie tyd om nuwe gordyne te maak nie en dikwels kan ek ook nie vreeslik baie aan die meubels doen nie. Ons het nie die luukse van ʼn reuse-begroting nie. Die prys van ʼn blik verf het tussen die eerste en tweede seisoen skreiend opgegaan, maar ons doen wat ons kan.”
Sy vertel hulle het al ʼn keer of wat teëlwerk aangepak, maar dat dit morsig en tydsaam is.
“Ek werk normaalweg saam met ʼn nutsman, maar vir die program het ʼn span stelbouers saam met my gewerk. Hulle gee 200%, maar vir iets soos teëls het mens spesifieke vaardighede nodig.”
Waar nodig, gee sy oor aan die kuns-regisseur Sim Rossouw om logo’s te finaliseer en die nodige dekor-items te gaan uitsnuffel.
“Sim en die span breinstorm idees en voer projekte deur. Die masjien het regtig vaartbelyn geraak teen die tweede seisoen.”
Misi het ook daarop aangedring dat haar span ’n elektrisiën moes insluit. Kykers sal weet daar is van die restaurante wat nogal “skokkende” bedrading gehad het.
Goed hoef nie duur te wees om mooi te wees nie en om in ʼn mooi ruimte te woon of werk, is nie oppervlakkig nie.
Misi Overturf
Sy ‘bly agter’
As Misi klaar is met ʼn restaurant-projek, wil sy dit altyd so perfek moontlik agterlaat. Daarom het sy ook al geleer sy kan nie noodwendig ʼn hele spasie binne daardie drie dae regruk nie. In sommige gevalle, moes sy en haar span dus daarmee tevrede wees om net op spesifieke areas te fokus.
“Kyk, the buck stops with me. Ek het ʼn span en almal werk flippen hard, maar wanneer ons daar waai bly Bertus nie agter nie. Die dekor bly agter.”
Dit het meer as een keer gebeur wat die restaurant-eienaar verwonderd was daaroor dat Misi ʼn kleur gebruik het wat ʼn gunsteling was, of dekor-elemente ingebring het wat spreek tot die eienaar se persoonlike styl.
“Dis seker maar intuïsie,” sê sy laggend.
Die dekor en nuwe spyskaart wat Bertus vir die restaurant uitwerk, pas dikwels ook soos ʼn legkaart bymekaar, al het die een nie eintlik iets met die ander se proses te make tydens verfilming nie.
“Ons werk lekker saam en vat hande met packaging of die vloei van die kombuis.”
Dis vir hulle albei belangrik om die verantwoordelikheid om verder te gaan met “dié groot geskenk” in die restaurant-eienaars se hande oor te laat.
“Jy oorhandig letterlik die baton. Hulle gáán verder met wat jy begin het, omdat hulle besef watter ongelooflike ding hulle met In die sop gekry het. As jy die vaardighede, aankope en dekor in randwaarde sou omskakel, is dit iets ongelooflik en kykNET betaal vir als.
“Dan is daar die ongelooflike bemarkingswaarde ook nog. Wie sou voorheen van ʼn restaurant in Witsand geweet het wat so off the beaten track is? Nou vlieg mense oor naweke daarheen met privaat-helikopters…”
By baie van die eetplekke wat sy help regruk het, vat die eienaars die inspirasie, kleurpalet en dekor wat Misi in plek gesit het verder. Sy is steeds met heelwat van hulle in kontak, omdat hulle steeds op haar kreatiewe knoppie druk.
Sy hoop daar sal ʼn derde seisoen van In die sop wees. Sy erken wel dis dalk tyd dat die reeks sy vlerke sprei uit die Wes-Kaap. Dit bemoeilik egter die logistiek, omdat die provinsie haar en Bertus se ankerplek is. Boonop is die res van die span ook Kapenaars. Maar wie weet…
Kantore tot spa’s
Intussen bedryf Misi haar eie onderneming en is sy besig met verskeie kreatiewe dekor- en ontwerpprojekte. Dit sluit van ʼn spa vir Media24, tot die virtuele interieur-ontwerp van ʼn behuisingsontwikkeling in Stellenbosch in.
“Ek doen so af en toe shoots vir die tydskrifte en ek werk aan heelwat kantoorspasies,” sê sy. “Covid het mense laat begin dink oor kantoorspasies en hoe hulle daar werk en dis vir my baie lekker. Mense sien die waarde van ʼn uplifting omgewing raak.”
Sy is baie selektief as sy huisprojekte aanpak, omdat sy dan dikwels die mediator moet speel “tussen twee mense wat nie dieselfde idees het nie en die een hou die beursie vas”.
Leef mooi
Haar kreatiewe mentor was haar ma, Ria Overturf.
“Sy was altyd so opgewonde om die behind the scenes footage te sien as ek aan ʼn restaurant gewerk het vir In die sop. Sy het altyd gevra waar ek al my idees kry,” onthou Misi.
Toe haar ma vroeër vanjaar skielik siek geword het en in ʼn versorgingseenheid opgeneem moes word, het Misi nie op haar laat wag om die troostelose kamertjie wat aan haar ma toegeken is in ʼn mooi, rustige rusplek te omskep nie.
Sy het summier die kamer omtower in ʼn liefdevolle rusplek, met muurpapier met ʼn blomskildery uit die Rijksmuseum die een muur vol.
Haar ma is in Augustus oorlede.
Misi hoop sy sal bewusmaking kan skep oor hoe noodsaaklik dit is dat mense ook in hul laaste dae in ʼn mooi omgewing moet woon. “Ons moet begin om na hierdie plekke om te sien. Goed hoef nie duur te wees om mooi te wees nie. Om in ʼn mooi ruimte te woon of werk, is nie oppervlakkig nie. Ek dink sosiale media het mense meer bewus gemaak van die impak van hulle omgewings en dis goed so.
Daar is ook deesdae ʼn groter beskikbaarheid van huisware en meubels. Ek het grootgeword in ’n tyd waar os nie soveel ‘goed’ gehad het nie. Dan kyk ons flieks as kind en ek sê vir my ma ek soek sό dekoritem of meubelstuk en dan maak ons dit. Huisware winkels was beperk.
“ ʼn Mooi ruimte is ʼn uitbreiding van jouself – dit laat jou gemaklik en tuis voel.”
Vir al die sintuie
Haar eie leefruimte is nostalgies en kleurvol.
“My huis in die Paarl is oor die 200 jaar oud– ek is nog altyd lief vir ou huise. Dis baie eklekties – daar is baie heirlooms en hand me downs. Ek is baie lief vir boeke en teksture en kleur.
“Toe ons ingetrek het, het ek gedink ek gaan dit baie eenvoudig hou, maar dit het toe nie so uitgepan nie… As ek nou hier om my kyk, het elke ding ’n storie. Ek hou van stories, want dit laat jou connected voel aan jou lewe.
Ek is ook mal oor blomme en reuke en brand graag wierook – my omgewing is baie sensories. Nie perfek nie, maar huis.”
Lees meer oor Misi se werk en bestel haar boeke by misioverturf.com.