Menu terloops
In Wat om te kyk [26 Jun 2023]

’n Dekade van ‘Kokkedoor’ word met nuwe voorskoot gevier


‘Kokkedoor’ se inhoudsvervaardiger, Errieda du Toit, vertel meer oor die sukses van die reeks en wat om van die nuutste aflewering, ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’, te verwag.

’n Dekade van ‘Kokkedoor’ word met nuwe voorskoot gevier

In 2013 het kykNET-kykers vir die eerste keer met Kokkedoor kennis gemaak en dit was van die begin af duidelik dat dit ’n aptytwekkende kos-werklikheidsreeks sou wees.

Die eerste seisoen se wenners, Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert, het bekende name geraak, terwyl talle van die ander deelnemers in die daaropvolgende reekse ook soos huisvriende vir kykers geword het.

Sedertdien is die tafel vir nóg reekse gedek met onder meer Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.

En vir 2023 trek die reeks ’n splinternuwe braaivoorskoot aan met Kokkedoor Vuur & Vlam wat op Donderdag 27 Julie om 20:00 begin. Dié keer gaan deelnemers alles oor vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei terwyl hulle ook die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braaivaardighede moet beïndruk. 

Een van Suid-Afrika se voorste kosghoeroes, Errieda du Toit, is van die eerste episode by die reeks as inhoudsvervaardiger betrokke. Oor die jare het Errieda, self ’n gerekende kosskrywer, agter die skerms saam met die vervaardigers, Homebrew Films, gewoeker om lipaflekker-kosvermaak van internasionale gehalte – in Afrikaans – vir kykers te bied.

Errieda vertel hier meer oor die sukses van die reeks.

Errieda du Toit Kokkedoor inhoudsvervaardiger
Die koskenner Errieda du Toit is al van dag een by Kokkedoor as inhoudsvervaardiger betrokke. Foto: Verskaf

Die eerste Kokkedoor-reeks het kykers dadelik gaande gehad. Wat is die wenresep van die reeks?

“Die program beeld die spesiale verhouding wat ons met kos het op ’n baie besondere manier uit. Kykers leer ken die deelnemers op ’n persoonlike en intieme manier en loop saam met hulle die ontdekkingsreis deur hul disse. 

“Langs die pad moet gunstelinge gegroet word en kykers begin dan om die oorblywende spanne te ondersteun. Aan die einde van die dag gaan dit hoofsaaklik oor die kameraadskap wat rondom kos ontwikkel.  

“Die reeks is diep gewortel in herinneringe en ons kos-erfenis, maar dit fokus nie net op die verlede nie. Dit wys dat tradisie en onthoukos hande kan vat met vernuwende kinkelkos – die een styl is nie in kompetisie met die ander nie. Onthoukokke (kokke sonder formele opleiding) se entoesiasme en huiskombuis-ervaring speel net so ’n belangrike rol as Kinkelkokke met hul kwalifikasies, professionele ervaring en moderne tegnieke. 

As jy een persoonlike hoogtepunt of uitskiet-oomblik uit die vorige reekse moet kies, wat sal dit wees en hoekom? 

“So heerlik en bevredigend soos wat die produksiekant was – die unieke Kokkedoor-stoor, die platteland, die spens met sy kosrykdom, die energie en die oomblik wat die wenspan aangewys word, was daar self nog ’n groter lekkerte… En dit was die oudisies reg oor die land. 

“Die oomblik as jy iemand nuut ontmoet en dadelik nostalgiekos as jou aanknopingspunt het, bly mens altyd by. Die oudisiegeregte is altyd deurspek met mense se wonderlike herinneringe van kos, en ek kon daarin deel. Dit het my altyd so trots op ons Suid-Afrikaanse koskultuur laat voel en dat ek nêrens anders in die wêreld wou wees nie. 

“En natuurlik, die oomblik toe ek vir Tannie Poppie Coetzer met haar oudisie ontmoet het, het ek geweet: die hele land gaan verlief raak op hierdie tannie . . . Die land se ouma.” 

Wat dink jy het die Kokkedoor-reekse al tot die Suid-Afrikaanse koskultuur bygedra? 

“Dit het ’n baie groot trots in ons eie koserfenis aangewakker. Woorde soos ‘onthoukos’ en ‘kinkelkos’ het volksbesit geword. ’n Mens moet onthou dat die koslandskap tien jaar gelede baie anders gelyk het, want inspirasie, koshelde en kos-trends het alles van oorsee afgekom. 

“Kos-televisie veral het swaar gesteun op buitelandse inhoud. MasterChef en Jamie Oliver was op almal se lippe. En hier kom Kokkedoor met 20 nuwe kosgesigte, ons praat ons eie kostaal, maak ons eie poedings, laat herleef padkos en wildspastei, kook bredies en toor met basaarkos!

“Vandag is mense soos Mynhardt en Tiaan, wat in die eerste reeks verskyn het, steeds op almal se lippe en boerekos het sexy geword.” 

Hoe dink jy het die Kokkedoor-reekse die deelnemers se lewens verander?

“Elkeen van hulle het deur ’n baie intense ervaring gegaan wat jy nie op enige ander manier kon beleef nie. Alles was daarop ingestel om die deelnemers suksesvol te maak. 

“Hulle kon die kameraadskap van ander kos-geesgenote ervaar, nuwe dinge probeer, avontuurlustig wees, hulself uitdaag en natuurlik ook beleef wat ’n groot TV-produksie behels. Dit is alles faktore wat mense se horisonne verbreed. Hulle het baie van hulself leer ken, want om jouself só bloot te stel aan baie spanningsvolle omstandighede laat jou besef hoe sterk jy eintlik is, en dat ’n mens tot soveel meer in staat is wanneer jy uit jou groef losbreek. 

“Mense wat inskryf vir so ’n kompetisie staan dikwels voor ’n kruispad. Hulle wil iets doen vir hulself, of hulle wil ‘n nuwe loopbaan aanpak – en dan bring hierdie ervaring vir hulle selfkennis wat hulle nooit kon voorsien nie. 

“Nie almal se lewe verander in die sin dat hulle kos-suksesstories word soos diegene wat hul eie restaurant oopmaak, televisiereekse doen of kookboeke publiseer nie, maar hulle kry weer die selfvertroue om ander dinge in hul lewe aan te pak, verhoudinge te hersien, lewensbesluite te neem of om van vooraf verlief te raak op kosmaak en dit met ander te deel.” 

Waarna kan kykers in Kokkedoor Vuur & Vlam uitsien? 

“Kykers gaan die nuwe baadjie van Kokkedoor baie geniet. Daar is baie wat vir hulle bekend en geliefd gaan wees, soos die Kokkedoor-spens, die platteland, die spangees tussen die deelnemers, die pret en die pyn van wen en verloor. 

“Maar die gebruik van die oop vuur, knetterende vlamme, warm kole en rook bring ’n onvoorspelbaarheid en baie drama. Jy kan nie die vuur beheer met die druk van ’n knoppie nie en dit raak wárm in die kombuise, warmer as ooit vantevore. Die feit dat dit in Struisbaai – reg by die see – afspeel, bring ook ’n nuwe dimensie na die skerm. Die natuur en sy elemente ontwikkel amper ’n karakter van sy eie. 

“Die nuwe beoordelaars bring ook baie opwinding en persoonlikheid na die reeks. Bertus met sy finesse en fyn aanvoeling vir nostalgie – streng en regverdig. En dan is daar Kobus wat uit Frankryk by ons aangesluit het met sy vlymskerp kommentaar en geen-nonsens-houding wat kos van alle pretensie stroop. 

“Daar is natuurlik ook die 20 nuwe deelnemers, elkeen met hul eie persoonlikheid, gewoontetjies, sêgoed, braaivaardighede, issues, dramas en drome! Kortom – Kokkedoor Vuur & Vlam gaan ’n vuurstryd wees soos min en die kyker totaal verras met al die nuwe maniere om ons geliefde vuur-erfenis te geniet.”


Kokkedoor Vuur & Vlam begin op Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies