Menu terloops
In Features [20 Des 2023]

Dié reekse is 2023 se plaaslike bestes


Van Showmax se indrukwekkende ‘Spinners’ tot te veel lekker grappies op Bennie Fourie se stokkie in die komediereeks ‘Taktiek’ – dié plaaslike reekse tel onder ons topkeuses wat jy in 2023 kon (en steeds kan) stroom.

Dié reekse is 2023 se plaaslike bestes

Dié plaaslike TV-reekse tel onder terloops se topkeuses wat jy in 2023 kon (en steeds kan) stroom. 

1

Spinners

Spinners, TV-reekse

Stroom dié reeks op Showmax.

Rozanne Els skryf:

“Daar is deurentyd baie op die spel vir al die karakters in Spinners. Dié stakes – wat meer as minder die verskil tussen oorlewing en dood beteken – is iets wat ons telkens aan herinner word en wat as rotsvaste fondasie vir die reeks dien. Alles wat hy kan verloor (en wat hy kan wen), is in Ethan se oë as hy agter die stuurwiel sy plek inneem, in die greep van sy hande wat styf – en los – genoeg is om daai kar te laat tol, tol, tol en die wiele te maak rook.”

Lees die volledige resensie hier.

2

Shaka Ilembe

Shaka iLembe, plaaslike televisie

Stroom die reeks op Showmax. Dit is oorspronklik op Mzansi Magic uitgesaai.

Rozanne Els skryf:

“Mzansi Magic se Shaka Ilembe is ’n skouspelagtige produksie wat só beïndruk het, ’n tweede seisoen is reeds in die pyplyn. Dit wil gedoen wees as ’n mens in gedagte hou dat dié historiese drama die grootste produksie is wat Mzansi Magic al aangepak het. Die randwaarde van die begroting ontwyk my, maar die kykwaarde is so epies soos die reeks se wrede oorlogstonele wat dui op die bloederige realiteite van die verlede. Dít terwyl die besonderse kinematografie ’n blik skep wat meesleur soos dit die storie vorentoe beur. Jy kan jouself maar net verkyk.”

3

Taktiek

Taktiek, televisiereekse

Die reeks is op DStv Stream en via Catch Up beskikbaar om te stroom.

Riëtte van der Wat skryf:

“Dis ’n goeie teken as ’n mens binne die eerste paar minute van ’n nuwe komediereeks nie kan ophou giggel nie. En as die giggel ’n lag word, sonder dat jy dit kan verhelp, nog beter. Veral as jou verwagtinge louwarm was en dit dan heeltemal binne slegs twee episodes oortref word.”

Lees die volledige resensie hier.

4

Trompoppie

Redakteurskeuse Trompoppie, televisie, Tv-reekse

Kyk Trompoppie op Showmax. Nuwe episodes word weekliks op Donderdae vrygestel totdat die reeks op 8 Februarie ten einde loop. 

Rozanne Els skryf:

” ’n Loopbaanbeste vertolking deur Marion Holm is net een van die fasette wat van Etienne Fourie se nuwe Afrikaanse reeks op Showmax, Trompoppie, ’n besonderse en veelvlakkige kykervaring maak.

“Marion Holm lewer as Jill die beste spel van haar loopbaan (tot dusver, kom ons hoop en bid vir nog en nog!). Sy speel die karakter as beide ’n nuutgevonde skepping en as ’n kombinasie van Cruella de Vil en Miranda Priestly. Saam is dit… majestic. Holm maak van Jill ’n kragtoer van contradictions – een wat net so ysingswekkend kil as deernisvol kan wees (of minstens, so kan voorkom). Sy is beide subtiel en heeltemal over the top, en ek weet nie hoe nie, maar sy vind ’n geloofwaardige, gewigtige balans. Sy kon so maklik die een of die ander grens oorskry het – ’n grinnik te veel of te min, ’n groter of kleiner swaai in haar stap. Maar Holm speel dit al dente. Net. Fokken. Reg.  

“Die premis van Trompoppie is ’n tematiese seduction vir dié van ons wat naarstigtelik na betekenis en begrip van en in die wêreld soek. Veral soos beide mensdom en menslikheid verdof. Kuns, hier dan die middlebrow-milieu van televisie, bestaan as ’n zeitgeist-speelgrond waar ons probeer sin maak van… wel, alles.”

Lees die volledige resensie hier.

5

Devil’s Peak

Devil's Peak M-Net Deon Meyer, televisie, TV-reekse

Die reeks is nog op DStv Stream via Catch Up beskikbaar.

Rozanne Els skryf:

“Jozua Malherbe se omskepping van Deon Meyer se boek, Devil’s Peak, speel af in die smerige, skurwe kant van Kaapstad, waar ’n rou-geteisterde pa ’n bloedspoor laat wat speurder Bennie Griessel moet volg.

“Malherbe se omskepping van die skrywer Deon Meyer se boek – Devil’s Peak is die Engelse vertaling van Infanta wat dit voorafgegaan het – is iets waarop ’n mens gierig wens as ’n boek na ’n ander formaat verwerk word. Malherbe se forte is immers storie – die vertel daarvan, die inkleur daarvan, die bestaan en begrip daarvan as iets lewend; iets wat allermooi én allerverskrikliks terselfdertyd is. Dis veral in sy regie van Griekwastad waar ’n mens sy kuns kan sien sing. Maar só ook dan hier in sy vertelling van Meyer se verhaal en die pynlik menslike karakters waarmee ons kan vereenselwig. Daar is deurgaans ’n ondertoon van anticipation, aangevuur deur ratse redigering, skote van ’n toegeslikte, smerige Kaapstad, en die bloedbedrupte oorblyfsels van dolle geweld.”

Lees die volledige resensie hier.  

Eervolle vermelding aan…

Kokkedoor Vuur & Vlam, kykNET/DStv Stream

Hartklop, kykNET/DStv Stream

Stella Murders, Showmax

Hartklop, kykNET/DStv Stream

Rosemary’s Hitlist, Showmax

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies