In Stella Murders, Showmax se nuutste misdaad-dokumentêr, ondersoek die regisseur David Enright die uitkringeffek van een jong man se oënskynlik wraaklustige dade op twee stelle ouerpare in besonder en op ʼn gemeenskap in geheel. Die ontnugtering dat sό iets kon gebeur in ʼn beskermde gemeenskappie soos Stella – en dit boonop in ʼn koshuis waar ouers hul kinders aan die sorg van ander mense toevertrou – is byna ondenkbaar.
Niemand sal seker ooit regtig weet wat presies die aand van 26 Mei 2018 in die skoolkoshuis op Stella, ʼn klein dorpie in die Noordwes, gebeur het toe twee tienermeisies wreed daar vermoor is nie. Daar is egter geen twyfel daaraan dat die dood van die boesemvriendinne Marna Engelbrecht (16) en Sharnelle ‘Lallie’ Hough (17) vir hul families – en spesifiek vir hul ouers – soos ʼn nagmerrie geword het waaruit hulle nooit sal kan wakker word nie.
Xander Bylsma is skuldig bevind aan die opspraakwekkende moorde en dien lewenslange tronkstraf uit – die hof het aangevoer hy het Marna eers verwurg met die gebreekte band van ʼn laphandsak en daarna vir Sharnelle met ʼn tou van die trapreëlings van die Hoërskool Stella se skoolkoshuis opgehang het.
Wat ʼn mens bybly lank ná jy Stella Murders gekyk het, is die ondeurgrondelike pyn van ouers wat kinders op so ʼn brutale manier aan die dood moes afstaan. En ongelukkig is dié ouerpare nie die enigstes wat kinders in Suid-Afrika sό verloor nie.
Geen sensasie hier nie
Stella Murders kon maklik ʼn sensasionele uur en ʼn half se kykstof gewees het, maar die vervaardigers IdeaCandy tesame met Enright, wat ʼn Safta-toekenning gewen het vir die dokumentêr Devilsdorp, bly ooglopend weg van spekulasie en goedkoop skindernuus. Selfs ontstellende onthullings wat in die hofsaak gemaak is, word nie aangeraak nie. Dit is nie ʼn tekortkoming van die dokumentêr nie – ’n mens kan dit net respekteer.
Met kameraskote wat huiwer oor verlate strate en swaaie, word Stella geskets as ʼn godsverlate plekkie. Charl Fraser se kinematografie en Edward George King se musiek skep ʼn ysingwekkende, hartseer atmosfeer. In diep persoonlike onderhoude met die meisies se ouers en met Marna se ouer suster Riané, ontvou ’n verhaal van diepe verlies en van ʼn wond wat nog lank nie genees is nie.
Enright en sy span het duidelik ʼn diep vertrouensverhouding met die meisies se geliefdes gevorm. Dít is ooglopend uit die openhartige, rou vertellings van die gebeure en die dae, weke en jare daarna. Veral vir hul pa’s, Stefaans Engelbrecht en Ronnie Hough, is aanvaarding (minstens vir nou), glad nie ʼn opsie nie. Dit was dapper van hulle om so eerlik en gestroop op kamera oor hul seer te praat. Dieselfde geld vir Rianet Engelbrecht, ʼn bitter sterk vrou en Sharnelle se ma, Sonja, wat die Saterdag van haar dogter se dood ʼn besoek van haar op Koster verwag het.
Bylsma se ouers Monte en Mercia wou nie by die dokumentêr betrokke wees nie. Tog word dit duidelik uit ander onderhoude, waaronder met die ondersoekbeampte kapt. Markus Ferreira, dat Monte en Mercia net soveel soos die meisies se ouers verloor het weens die moorde. Hulle is eweneens slagoffers van hul seun se dade.
Maak jou eie gevolgtrekkings
Die bekende kliniese sielkundige Elmarie Claassens ontleed die impak van trauma, gesinsverhoudings, toksiese verhoudings en die binne-kultuur van klein dorpies (Stella voel soos ʼn ander planeet).
Die gevolg is dat Stella Murders veel eerder ʼn blik bied op die gevaartekens vir toksiese verhoudings en die rol van geslagsgeweld in Suid-Afrika, as om spesifieke individue as aandadiges te wil uitwys.
Met ʼn genuanseerde storielyn, wat ʼn spanningslyn handhaaf, al weet ons wat die uiteinde was, skets Enright en sy span die problematiek van mense-verhoudings en die faktore wat dalk ʼn rol kon speel in die dood van die twee meisies.
In ʼn onderhoud met terloops het Enright ook gesinspeel op die moontlike rol van trauma wat deur generasies oorgedra word en die rol wat dit in die gebeure sou kon speel. Dit word egter aan kykers oorgelaat om hul eie gevolgtrekkings te maak.
Etiese storie-vertelling
Die onderhoude met die privaatspeurder Chris Saunders is veral insiggewend. Hy het die rolprentspan toegang gegee tot bandopnames van gesprekke met Bylsma. Dit laat ʼn mens selfs nog meer wonder oor Bylsma se geestesgesondheid en ek moet bieg, ek het gehoop die dokumentêr delf meer in sy psige.
Wat het hom so ʼn gruwelike ding laat doen? Is hy ʼn narsis? ʼn Psigopaat? ’n Tienerseun wat in ʼn oomblik van woede ’n wrede, onbesonne ding aangevang het? Of ’n jong man wat die moorde koelbloedig beplan en uitgevoer het?
Sulke antwoorde kry ʼn mens nie. Dit was eers teleurstellend, maar in my gesprek met Enright vir terloops het hy verduidelik dit sou onverantwoordelik wees om te bespiegel oor Bylsma se geestestoestand, aangesien Claassens nie op grond van waarnemings uit die media ʼn analise oor hom sou kon doen nie. Die sielkundige verslag wat tydens sy verhoor aan die hof voorgelê is, was glo ook baie oorsigtelik.
Enright se binne-kompas en verbondenheid aan etiese joernalistiek verdien ʼn pluimpie. Ook sy manier om mense op kamera te laat oopmaak.
Hoop in die pyn
Wat ʼn mens bybly lank ná jy Stella Murders gekyk het, is die ondeurgrondelike pyn van ouers wat kinders op so ʼn brutale manier aan die dood moes afstaan. En ongelukkig is dié ouerpare nie die enigstes wat kinders in Suid-Afrika sό verloor nie. Tog is daar ook hoop en bevryding, hoe moeilik ook al, soos ʼn mens in die dokumentêr se laaste, deernisvolle segment, sien.
Moenie die televisie afskakel voor die eindtitels begin rol nie – Enright het ʼn ongelooflike mooi liedjie geskryf ter ere aan Marna en Sharnelle.
“Haal net asem” word gesing deur Megan Danner van Rooksein en Edward George King het die musikale verwerking gedoen. Dit is ʼn huldeblyk aan alle lewens wat te vroeg kortgeknip word.