Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses vir 4 tot 10 Desember 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Convict Conman S1
Woensdae vanaf 6 Desember 2023 op Showmax.
Ná die sukses van Devilsdorp, Rosemary’s Hitlist, Steinheist, stel Showmax hierdie week IdeaCandy se nuutste ware misdaad-dokkiereeks, Convict Conman, bekend.
In 2012 kry Carte Blanche-joernalis Sasha Wein ’n tip-off om Dawie de Villiers, ’n fotograaf van Kempton Park en die stigter van Modeling South Africa, te ondersoek. De Villiers, wat in die eerste episode as “’n gesofistikeerde roofdier” en “die Kempton Park Hugh Hefner” beskryf word, word van bedrog beskuldig, asook dat hy seksueel onvanpas met aspirantmodelle, sommige onder die ouderdom van 16, was.
Nege jaar later, in 2021, met De Villiers wat lewenslange tronkstraf opgelê is, kry ondersoekende joernalis Jana Marx (Devilsdorp) dan ’n tip-off om na Michael O’Connor te kyk. Hy bestuur ’n fotografiepublikasie en wil ook sake- en modetydskrifte begin. Dit is tydens die COVID-pandemie, so sy personeel het hom nog nooit ontmoet of selfs sy gesig gesien nie. O’Connor beweer de Villiers is ’n “goeie vriend”, maar wat het hulle nog in gemeen?
Dié tweedelige reeks is die dokumentêre regisseursdebuut van die bekroonde redigeerder Nikki Comninos wat die afgelope twee jaar vir haar werk op Steinheist, Devilsdorp en Murder in Paris geloof is.
My Life With the Walter Boys S1
Vanaf 7 Desember op Netflix.
My Life with the Walter Boys is ’n hartroerende coming of age-verhaal wat jy slegs moet kyk as jy baie tissues byderhand het.
Die storie draai om ’n 15-jarige tienermeisie, Jackie Howard, wat haar gesin in ’n tragiese ongeluk verloor. Só gebeur dit dan dat sy haar groot stadslewe in New York moet agterlaat om by haar ma se beste vriendin op die platteland in Colorado te gaan woon. En dis omtrent ’n aanpassing – Katherine en haar man, George, het ook tien kinders! Twee van die broers laat Jackie se hart vinniger klop: Daar’s die boekagtige, betroubare Alex, en die geheimsinnige Cole… Terwyl sy ’n houvas op haar nuwe, chaotiese lewe en haar deurmekaar hart probeer kry, is Jackie egter steeds vasbeslote om gefokus te bly op haar droom om by Princeton-universiteit in te kom.
Hierdie is ’n baie tipiese Netflix-einde-van-die-jaar-smartsaga, voorspelbaar en dikwels heel simpel –maar soms is dit juis wat ons nodig het.
The Winter King S1
Weeklikse episodes vanaf Maandag, 4 Desember 2023.
The Winter King speel af midde die wreedheid van die vyfde eeu in ’n land wat deur oorlog oorheers word en volg Arthur Pendragon (Iain De Caestecker, Agents of S.H.I.E.L.D.) se opkoms van uitgeworpene na legendariese kryger, leier, en – heelwat later – legende.
Dié reeks is ’n epiese hervertelling van die verhale van Arthur (ja, dáái een) en gegrond op The Warlord Chronicles-trilogie boeke deur die skrywer Bernard Cornwell. Die reeks het ’n punt van 85% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met die kritici-konsensus wat dit as sulks beskryf: “The Winter King is aksiebelaaid en omvattend, en vergoed vir sy gebrek aan getrouheid aan Bernard Cornwell se boeke met suiwer vermaaklikheidswaarde.”
Die reuse-rolverdeling sluit ook ’n plaaslike ster in – die voormalige Kaapse model Jordan Alexandra as Guinevere.
Dan’s daar ook die bekroonde akteurs Valene Kane (Gangs of London) as Morgan, Olumide Olorunfemi (Venom: Let There Be Carnage) as Lunette, Tatjana Nardone (Devils, Medici) as Ladwys, Ken Nwosu (Christopher Robin, The Witches, Killing Eve, The Letter for the King) as Sagramor, en Nathaniel Martello-White (Collateral, Deceit, I Hate Suzie) as Merlin.
John Lennon: Murder Without a Trial
Vanaf 7 Desember 2023 op Apple TV+ beskikbaar om te stroom.
Hierdie fassinerende dokkiereeks ondersoek een van die vreemdste “whydunnits” in popkultuur – die moord van die alombekende Beatle, John Lennon. Sien, die ondersoekers kon nooit ’n duidelike motief vind nie, en boonop het die moordenaar, Mark Chapman, nie ná die daad gevlug nie. Inteendeel, hoor jy van die reeks se verteller, die aksieheld-akteur Kiefer Sutherland (veral bekend vir sy rol in die reeks 24), Chapman het glo rondgestaan en gewag om in hegtenis geneem te word…
Die dokkie sluit onder meer onderhoude in met sleutelfigure uit Lennon se lewe én dood, soos vriende, dokters en ondersoekers, wat hul herinneringe van die nag van sy moord in Desember 1980 deel.
Trompoppie S1
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 7 Desember 2023 op Showmax.
Lees meer oor Trompoppie in ons Redakteurskeuse vir Desember.
Shaka Ilembe
Binge vanaf Maandag, 4 December 2023, op Showmax.
Dié reeks is deel van Redakteurskeuse vir Desember 2023 – lees meer hier.
Ook nuut op TV hierdie week:
Vanaf 4 Desember 2023:
Dew Drop Diaries: S2, Netflix
Adulting S2, Showmax
Wura S2, Showmax
G.I. Joe: Retaliation, Showmax
G.I. Joe: The Rise of Cobra, Showmax
My Ma Kook Beter As Joune S1, Showmax
Overlord, Showmax
Righting Wrongs, Showmax
The Postman Fights Back, Showmax
In The Line of Duty II, Showmax
Shining Vale S2, Showmax
Fast X, Showmax
Vanaf 5 Desember 2023:
Sports Wives S1, Showmax
The Mommy Club S1 Reunion, Showmax
Stavros Halkias: Fat Rascal, Netflix
Vanaf 6 Desember 2023:
Blood Coast, Netflix
Christmas as Usual, Netflix
Vanaf 7 Desember 2023:
Coach Prime S2, Prime Video
The Amazing Maurice, Showmax
House Party, Showmax
100 Million BC, Showmax
Madagascar, Showmax
Penguins of Madagascar, Showmax
Tiger Cage, Showmax
Analog Squad, Netflix
I Hate Christmas: S2, Netflix
High Tides, Netflix
NAGA, Netflix
The Archies, Netflix
World War II: From the Frontlines, Netflix
Hilda: S3, Netflix
Vanaf 8 Desember 2023:
Your Christmas or Mine 2, Prime Video
Dating Santa, Prime Video
Merry Little Batman, Prime Video
Dino Pops S1, Showmax
Blood Vessel, Netflix
Leave the World Behind, Netflix