Menu terloops
In Lysie-lysie [3 Feb 2023]

8 van die beste plaaslike ware misdaadreekse


Is jy behep met ware misdaadreekse? Selfde hier – veral as dit by plaaslike gruverhale kom. Hier is my top-keuses.

Deur Watkykjy
8 van die beste plaaslike ware misdaadreekse

Welkom by WMA (Ware Misdaadreekse Anoniem), ’n wêreldwye gemeenskap van mans en vroue wat mekaar help om hul morbiede fassinasie met ware misdaadreekse te deel en te bespreek. Hierdie is ’n geslote vergadering. Jy is welkom om te bly as jy ’n begeerte het om uit te vind wat ons hierdie week gaan kyk. Jy is ook welkom om die vergadering enige tyd te verlaat, maar maar daar is koffie in die urn agter in die lokaal en beskuitjies en heerlike driehoek komkommer-en-blaarslaaibroodjies op die tafel.

Goeiedag, my naam is Watkykjy, en ek het ’n morbiede beheptheid met ware misdaadreekse, veral plaaslike misdaadreekse. Vandag gaan ek agt van my persoonlike gunstelinge bespreek.  

Ware misdaadreekse
1

Agter Tralies

Die titel behoort vanselfsprekend te wees. Oortreders vertel ons van die misdade wat hulle in die tjoekie laat beland het, die tyd wat hulle agter tralies deurgebring het en hoe hulle hul lewens ná hul vrylating aan die buitekant herbou het… Of probeer herbou. Ai, dit moet sleg wees om ’n familielid of vriend in die tronk te hê…

2

Vermis

Ek wil nou nie sommiges van julle onstel deur jou aan jou ouderdom en verganklikheid te herinner nie, maar onthou jy dalkies M-Net se oopkyktyd in die 90s toe daar nog aanbieders regstreeks op TV tussen uitsendings was? Lui Doreen Morris dalk ’n klokkie? Ek het so nou en dan gewonder wat ooit van haar geword het totdat ek op Vermis afgekom het. Dis ’n reeks waarin sy nie juis ouer as 30 jaar gelede lyk nie en onopgeloste misdaadsake van Suid-Afrika se vermiste persone ondersoek. Daar word besoek afgelê by die vermistes se gesinslede waar hierdie families probeer om die raaisel op te los terwyl hulle ook na vertroosting smag. Wat presies het in die laaste oomblikke gebeur voor hul geliefdes verdwyn het? 

Doreen Morris is die aanbieder van die ware misdaadreeks, Vermis.
Doreen Morris is die aanbieder van die ware misdaadreeks, Vermis. Foto: Verskaf
3

Die Staat Teen

Ek moet bieg, ek is nogal ’n sucker vir ’n plaaslike reeks wat soos ’n Huisgenoot-storie aanmekaargesit is. Dié tipe reekse kan jy in die agtergond soos ’n podcast speel en net so af en toe jou blik na die TV verskuif vir ’n bietjie konteks. Dis lekker luister-TV. In Die Staat Teen, maak staatsaanklaers uiteindelik hul vertroulike leggers oop en vertel van die mees uitdagende of onvergeetlike hofsake van hul regsloopbane in Suid-Afrika.  

4

Huisgenoot: Ware Lewensdramas

So gepraat van die duiwel – hier is sommer twee reekse vanuit die tydskrif se argiewe: Die oorpsronklike Huisgenoot: Ware Lewensdramas en die spin-off, Huisgenoot Ware Lewensdramas – Vlees en Bloed. Aan die meer grusame kant van die spektrum sal jy seker die moordsake rondom byvoorbeeld Inge Lotz, Leigh Mathews, en Reeva Steenkamp onthou. En ongelukkig is daar elke dekade een of ander bose inkarnasie van ’n Gert Van Rooyen en Joey Haarhoff of ’n Advokaat Barbie wat die nuus haal en ons siele ruk. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat Huisgenoot hul wenresep sou gebruik om ’n TV-reeks of drie te vervaardig. 

Die Vlees en Bloed-reeks is ’n ware misdaadreeks wat so ’n bietjie aan die rowwer kant is. Dit fokus op die mees opspraakwekkende sake van gesinsmoorde in Suid-Afrika. Dis ’n kykie na donker gesinsgeheime en traumatiese kinderjare wat gelei het tot tragedies wat die land én die wêreld geskok het. 

5

Outopsie

Jy het ietwat van ’n maag nodig vir Outopsie as jy een van daais met ’n ooraktiewe verbeelding is. Senior forensiese patoloog, dr. Hestelle van Staden, onthul wat werklik agter die teaterdeur gebeur tydens outopsies van skiet- tot steekwonde en verwurgings. Sy bespreek boeiende gevalle waarin forensiese patologie sentraal tot sake gestaan het. Ek gaan beslis nie hierdie reeks kyk terwyl ek my 2-minute noodles eet nie. 

Outopsie
Outopsie is nie vir sensitiewe kykers bedoel nie. Foto: Verskaf
6

Steinheist

Sit gerus drie ure opsy hiervoor en kyk dit in een sitting. Die skielike bedanking van Markus Jooste en die rampspoedige ineenstorting van Steinhoff laat baie reg oor Suid-Afrika en die wêreld vir Jooste se bloed soek. ’n Mens kan nie glo hoe een man die hele wêreld vir meer as 20 jaar lank kon bedrieg nie.  

7

Privaatspeurders

Ben Booysen van Devilsdorp-faam en drie ander privaatspeurders deel die boeiendste en opspraakwekkendste stories van hul loopbane. Daar sal natuurlik ook dan ’n episode gewy word aan die Krugersdorp-moorde wat ons bring by… 

8

Devilsdorp

Vir baie lank het daar ’n reuse Showmax Devilsdorpbillboard net buitekant die grense van Krugersdorp gepryk. Dit het my laat wonder hoe lank dit die owerhede sou neem om Krugersdorp se naam amptelik na Devilsdorp te verander. Of ten minste ’n oulike naambord op te rig reg lang die Showmax-ene (is dit nog daar?). Met sulke lekker rooi horings en ’n windgat pylstert. Dit is wat almal die dorp in ieder geval begin noem het. Die reeks is een van my gunsteling plaaslike dokkiereekse ooit. Dit het rekord kykersgetalle gelok toe dit in 2021 vrygestel is. Die reeks is soos Carte Blanche op steroids en dit onthul ontstellende feite rondom die wrede sogenaamde “afspraakmoorde” wat in Krugersdorp gepleeg is en uiteindelik met Cecilia Steyn en haar kultus, Electus per Deus, verbind is.

Devilsdorp op Showmax.
Devilsdorp is ’n angswekkende reeks oor die kultusgroep Electus Per Deus. Foto: Verskaf

* Terloops, die dame wat haar handjies so genoeë vryf in die meme hierbo, is Anna Kendrick. Die skermgreep kom uit die film, A Simple Favor. Jy kan haar ook sien in Love Life, en die skreeusnaakse Pitch Perfectfranchise: Pitch Perfect, Pitch Perfect 2 en Pitch Perfect 3.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Mei 2025

Rachelle woeker met haar slinkse planne om Shani te verneder en die matriekafskeid kom al nader. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

‘Diepe Waters’: Dís die storielyne om in Mei dop te hou

Mei bring nie net nuwe wendings nie, maar ook selfontdekking, groei en opwindende moontlikhede in 'Diepe Waters'.

Meer

Redakteurskeuse vir Mei 2025: ‘Bridget Jones 4’, ‘Die brug S2’, ‘Die nuusmakers’ en meer

Wat om te kyk: 'Die nuusmakers', ’n nuwe Afrikaanse drama wat persoonlike en professionele drama in die nuuskantoor in oënskou bring; die gewilde avontuur-realiteitsreeks 'Die brug' se tweede uittog; Tina Fey in 'The Four Seasons', ’n reeks wat raakvat soos min; en Bridget Jones se vierde fliekavontuur – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Mei 2025

Aline se landerye vat vlam terwyl sy nog sukkel om die plaas se skuld te delg. En dan word sy boonop amper vergiftig! Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Mei. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies