Menu terloops
In Wat om te kyk [16 Des 2024]

Dié reekse is 2024 se plaaslike bestes


In ’n jaar vol onvergeetlike TV-oomblikke, het plaaslike reekse die kollig gesteel met boeiende storielyne, aangrypende vertolkings en onvergeetlike drama en klankbane. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Dié reekse is 2024 se plaaslike bestes

Van spanningbelaaide rillers tot uitstekende komedie en hartroerende verhale wat kykers aan hul eie ervarings herinner het – hier is ’n blik op sewe plaaslike reekse wat vanjaar onmisbare dele van ons Afrikaanse TV-landskap geword het.

1

Koek (Showmax)

Die geliefde Binnelanders-akteur Cindy Swanepoel het die performance van haar lewe in dié skreeusnaakse Afrikaanse misdaadkomediereeks gegee. Cindy se karakter, Christelle, is ’n huisvrou wat vermoed dat haar man haar met ene Candy Floss, ’n stripper, verneuk. Maar as sy dan haar lyf speurder hou, word sy by bendebaas Moekie (vertolk deur die briljante aktrise Sandra Prinsloo) se misdaadbedrywighede ingespan. Dit is waar sy vir Pitbull (vertolk deur Clayton Evertson) en Ryno (Jacques Bessenger) ontmoet. Sandra, Clayton en Jacques is al drie te sien in rolle wat heeltemal anders as hul vorige werk is. Dit is tog so lekker om te sien! Die teks is slim geskryf, met elke detail van die stel en kostuums wat ’n visuele fees vir die oë is. Die catchy klankbaan deur Loki Rothman met liedjies soos “Bellville voel soos Vegas” sal mense nog vir lank oor hierdie reeks laat praat. 

Lees ook ons onderhoude met Cindy, Sandra en Clayton.

2

Wyfie (Showmax)

Wyfie
Celeste Loots as Amanda, Kristen Raath as Kyla en Mienke Ehlers as Mia in Wyfie. Foto: Verskaf

Koek was nie die enigste Showmax-trefferreeks nie. Die bekroonde Wyfie sluit eersdaags sy tweede – en finale – seisoen op dié stroomplatform af. Die kleurvolle taal, uiters relatable storielyne en die effens messed-up, maar treffende sisterhood tussen die vroue in hierdie reeks het dit ’n gunsteling onder kykers gemaak. Ja, daar is baie internasionale reekse wat om meisies en hul universiteitservarings draai soos Scream Queens, The Sex Lives of College Girls of selfs Grownish, maar voor Wyfie was daar nie juis iets op TV wat ’n Suid-Afrikaanse vrou se universiteitsreis uitbeeld nie. Veral nie as ’n mens relatable en realistiese vertolkings oor onderwerpe soos geloof, seksualiteit, identiteit of aanvaarding soek nie.

Wyfie het verandering meegebring en vir kykers ’n dinamiese ensemble gegee wat karakters en storielyne bied waarmee ’n mens kan vereenselwig. Maak nie saak waar jy jouself tans bevind nie, ons almal wou al een of ander tyd deel van ’n ride or die girl gang soos die Otters gewees het. Celeste Loots (Amanda), Beáta Bena Green (Shay), Kristen Raath (Kyla), Mienke Ehlers (Mia), Chelsea Thomas (Jocelyn), Marguerite van Eeden (Wilmien), Zandélle Meyer (Jessie) en Cintaine Schutte (Maggie) is net ’n paar van die uitblinkers in hierdie ongelooflike talentvolle ensemble vroue wat kykers meegevoer het.   

3

Een keer om die son (kykNET)

Met Ivan en Donnalee Roberts aan die stuur van sake, weet ’n mens sommer die projek gaan ’n tranetrekker wees. En was dit nie! Lanklaas was daar ’n gesinsdrama wat so vinnig aan kykers se hartsnare getrek het.

een keer om die son
Jana Kruger as Lani van Wyk in Een keer om die son. Foto: Verskaf

Die reeks het sommer afgeskop met ’n skokkende en traumatiese begin en van daar af het karakters soos Lani (vertolk deur Jana Kruger), Amé (Donnalee Roberts), Ruan (Jacques Bessenger), Elma (Joanie Combrink), Sebastian (Albert Maritz), Sophia (Klara van Zyl) en Markus (Liam Bosman) kykers op ’n tuimeltreinrit van emosies geneem. Daar was vreugde en trane, gevegte en geheime, verwyting en vergifnis, maar elke tema was vir kykers ’n realistiese blik op ervarings waarmee enige familie kan identifiseer. Elke terugflits was soos ’n les wat jou dieper laat dink het. In vandag se lewe, waar mense nie altyd oor onderwerpe soos gesinsdinamika, angs, depressie of selfs selfdood wil praat nie, het Een keer om die son en die Van Wyk-gesin se oorwinnings en struikelblokke die deur oopgemaak vir mense om hierdie onderwerpe te bespreek. 

Lees ons onderhoud met Donnalee.

4

Juffrou X (kykNET)

Wat vir my veral van vanjaar se oes plaaslike reekse uitstaan, is die egtheid wat elkeen kleef. Kykers het hierdie jaar aanklank gevind by reekse wat jou nie na ’n ander wêreld laat ontsnap het nie, maar eerder ’n klankbord gebied het om vandag se samelewing te verstaan.

Juffrou X het ’n groot dosis realiteit aan kykers opgedis. Ons het al talle stories oor ongelykheid en die rowwe lewe van mense in arme gebiede uitgebeeld, maar nog nooit uit dié oogpunt wat skepper-skrywer Tertius Kapp bied nie.

Inge is beslis nie jou gewone wiskunde-onderwyser nie. En as sy my onnie was, sou ek seker baie beter in hierdie vak gedoen het. Maar Trix Vivier lewer onvergeetlike toneelspel in hierdie rol. Agter haar no mercy harde buitekant, is daar ’n sagte en kwesbare hart wat net die beste vir haar leerders en geliefdes wil hê. Deur ander te help, help sy ook haarself.

Hierdie edgy dramareeks sluit ook ander bekende name soos Bianca Flanders, Charlton George, Andre Jacobs, Clayton Evertson en Gershwin Mias in. 

Lees ons resensie, asook ons onderhoud met die reeksskepper, Tertius Kapp.

5

Blood & Water S4 (Netflix)

Seisoen 4 van hierdie uiters gewilde plaaslike reeks het weer ’n groot dosis drama gelewer. Drama volg mos maar altyd die leerders aan Parkhurst College, of hoe? Hierdie seisoen kon Puleng (vertolk deur Ama Qamata) en Fikile (vertolk deur Khosi Ngema) mekaar net nie vind nie. Die reeks het gewys dat jou verlede nooit regtig in die verlede bly nie. En ook dat familie aan die einde van die dag die belangrikste van als is. Die leefstyl van die über-rykes van Parkhurst College het weer vir tonne vermaak gesorg. En ja, daar was soos gewoonlik weer ’n raaisel was om op te los. Blood & Water kan met enige internasionale reeks op hierdie stroomplatform meeding. Dit het immers al die lekkerste bestanddele: intrige, raaisels, drama én aksie.

6

White Lies (M-Net)

Natalie Dormer van Games of Thrones-faam is hier in die skoene van karakter Edie Hansen, ’n ondersoekende joernalis. Tesame met die veteraanakteur Brendon Daniels as speurder Forty Bell, het hulle kykers op hul tone in hierdie aangrypende whodunnit gehou. Ook Clayton Evertson en nuwe gesigte soos Morgan Santo, het saam met Edie en Forty kykers vir agt opwindende episodes laat wonder oor wie verantwoordelik vir ’n moord in ’n luukse Bishopscourt-huis was. Van bure, tot die vriendelike sekuriteitswag, die kinders en selfs die lojale werkers – almal het later skuldig gelyk… Maar die einde was beslis ’n verrassende kinkel! 

White Lies is ook vanaf 23 Desember 2024 op Showmax beskikbaar om te stroom.

7

Nêrens, Noord-Kaap Deel II (kykNET)

Ons sê al lankal dat dié reeks ’n kroonjuweel is wat ons plaaslike TV-landskap betref. Toe die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap in 2021 op kykNET debuteer het, was kykers van die begin af geroer deur die lief en leed van die Adendorffs en die mense in hul lewe.

Die skrywer en regisseur is die veelbekroonde Nico Scheepers. Die reeks is gegrond op sy toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap, wat in 2017 by die Vrystaatfees in Bloemfontein debuteer het met Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse in die rolverdeling. Toe Nico aanvanklik deur kykNET genader is om dit in ’n dramareeks te verwerk, het hy daarop aangedring dat die rolle van die broers deur Geon, Albert en De Klerk gespeel moet word.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II is die laaste seisoen van hierdie uitsonderlike reeks en die finale episode is onlangs uitgesaai. Die pragreeks kan egter steeds op Catch Up gekyk word. Die volledige eerste deel van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is ook tans beskikbaar op Showmax.

Nerens Noord-Kaap, Frank Opperman, Pa Lourens
Frank Opperman in Nêrens, Noord-Kaap. Foto: Verskaf

Rozanne Els het destyds só oor Deel I geskryf: “Skrywer-regisseur Nico Scheepers se aanslag is ’n digterlike een. Melodies, selfs. Daar’s geen haas om die storie van die Adendorff-broers te vertel nie. Hulle was nog klein toe hul ma dood is – ’n trauma waarvan ook nie hul pa al genees het nie. ’n Mens gaan aan, ja, maar dit beteken nie jy lewe nie. En dis ook hoe ’n mens pa Lourens ontmoet – half-dood, ’n amperse zombie wat voed op die verdraagsame geduld – en selfs tot ’n mate die bejammering – van sy naastes. Frank Opperman gee hier ’n onverbeterlike performance. Dit is ’n moeilike en wipplank-verhouding wat hy met die kyker moet bou. Verafsku jy hom, of is jy hom genadig? Dat só ’n tweedrag gelyktydig in die agtergrond afspeel (bewustelik vir kykers, al dan nie), is te danke aan ’n weergalose interpretasie van ’n fynbesnaarde teks.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies