Menu terloops
In Onderhoude [24 Sep 2024]

De Klerk Oelofse sê ‘Nêrens, Noord-Kaap’ het hom opnuut herinner ‘hoe lief ek is vir wat ek doen’


In die tweede deel van skrywer-regisseur Nico Scheepers se ‘Nêrens, Noord-Kaap’, kom De Klerk Oelofse se wêreldverkenner-karakter, Andries, vir ’n wyle tot stilstand. Hy vertel meer oor hoe hy weer Andries se skoene aangetrek het, en die impak van dié besondere storie op sy lewe.

Stroom nou

De Klerk Oelofse sê ‘Nêrens, Noord-Kaap’ het hom opnuut herinner ‘hoe lief ek is vir wat ek doen’

De Klerk Oelofse en Andries Adendorff kom al ’n lang pad – van 2017 met die toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap, die eerste reeks van Nêrens, Noord-Kaap en nou Nêrens, Noord-Kaap Deel II

Hoe het jy weer in Andries se skoene geklim? En hoe het jy die tyd wat intussen verloop het, gebruik om dit te doen? 

“Ons het tussen die skiet van Deel I en Deel II die toneelstuk weer ’n hele klomp keer opgevoer. So, dit het nooit regtig gevoel of ek weer na Andries moet gaan soek nie. Ons het ook kort ná Deel I geweet daar kom ’n Deel II. Ek het hom dus nie te diep gaan wegbêre nie.

“Andries se skoene in die program is letterlik De Klerk se skoene – skoene wat ’n vriend vir my jare terug gegee het. In tipiese Andriesstyl het ek (as De Klerk), die skoene langs ’n drom in Europa gelos toe ons klaar geskiet is, net om dié hoofstuk af te sluit.”

De Klerk Oelofse, Nerens Noord Kaap
Ilse Klink as Maggie teenoor De Klerk Oelofse as Andries. Foto: Verskaf

Dis reeds teen die tweede episode duidelik dat Andries ’n ander koers in Deel II gaan inslaan. Sonder om iets weg te gee: Hoe lyk sy pad vorentoe? 

“Ek dink Andries sit tot ’n groot mate sy reis van Deel I voort. In Deel I het mense hom nogal veroordeel as die klein snert wat heeltyd weghardloop. Maar, soos Maggie (Ilse Klink) so mooi in Deel II in ’n stadium sê, ‘Hardloop beteken nie altyd weg van iets af nie – ’n mens kan ook na iets toe hardloop.’

“ Andries soek ’n plek waar hy kan inpas. Hy het die wêreld al platgetrap in sy soeke, en ek wonder of hy op die ou end gaan besef dis nie die grond waarop jy staan wat jou laat pas nie, maar eerder wié saam met jou daarop staan.”

Is jy en jou medespelers, Geon Nel en Albert Pretorius, in die stadium al soos broers? 

“Vir my, is hulle. Onthou, ons drie en Nico (Scheepers, reeksskrywer en -regisseur) deel al hierdie storie van 2017 af. Ons vier het al saam oor die land gereis met die teaterstuk. As ’n mens so lank in mekaar se lewens is en tyd saam spandeer, sien mense jou op jou beste en op jou slegste, en jy is gemaklik genoeg om dít sonder skaamte voor hulle te kan wees. En is dit nie maar eintlik wat familie is nie?”

Hoe dink jy het Nêrens, Noord-Kaap jou lewe beïnvloed? 

“Sjoe, ja. Soos ek genoem het – die projek is al lank in my lewe. Ons het die toneelstuk al 60 keer opgevoer, wat min klink, maar dis baie vir ’n stuk wat nooit vir weke lank in ’n groot teater gespeel het nie. Ek het baie geleer. Al was dit net om op die verhoog te lê en luister hoe Albert en Geon klein verstellings aan frases en klemme maak om die stuk selfs ná ses, sewe jaar vars te hou en nuwe betekenis te gee. Dis ’n uitdaging en ’n ander tipe dissipline.

Ek dink wat Nico so briljant regkry met die reeks is nie noodwendig wat die karakters vir mekaar in hierdie situasies sê nie, maar juis dit wat nie gesê geword nie.

De Klerk Oelofse

“My laaste dag van Deel II het ons in Nederland geskiet. Toe ek daar klaarmaak, toe weet ek ek is nou klaar met dié projek, en dit was die perfekte einde. Omdat ons so ’n klein span aan daai kant was, met almal wat alles doen, het dit ’n bietjie gevoel soos ’n klomp pêlle wat ’n kans vat en iets probeer, maar iets waarin ons almal glo. Dit was vir my net soos toe ek, Albert, Geon en Nico sewe jaar gelede in Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad se klubhuis by hulle sportvelde gesit en timmer het aan die teaterproduksie. Dié voltooide sirkel het my opnuut herinner hoe lief ek is vir wat ek doen.”

Het jy en die akteur wat klein Andries vertolk (Johannes Jordaan) ooit saamgewerk om die karakter te vorm? Dis verstommend hoe die karakters selfs net in ’n kyk of ’n maniërisme dieselfde is.

“Dis eintlik baie snaaks, want toe ons destyds Deel I gemaak het, het ek en Johannes, klein Andries, mekaar net een keer ontmoet toe ons voor die reeks promosiefoto’s geneem het. Hierdie keer was ons darem vir ’n rukkie saam in Nieuwoudtville, waar hy my een middag laat les opsê het in ’n “Andries versus Andries”-sokkerwedstryd. Maar nee, ons het nooit saam aan die karakter gewerk of eintlik eers oor Andries gesels nie. Ek dink as jy met ’n begaafde regisseur soos Nico werk, kan jy vertrou dat hy sal sorg dat die karakters ’n eenheid vorm.”

Hoekom dink jy praat hierdie reeks so hard met kykers? 

“Ek dink mense identifiseer met die karakters. Met die toneelstuk het mense altyd ná die tyd vir ons goed gesê soos, ‘Ek is die Frans in my gesin’ of, ‘Eek het ’n oom soos Ronnie’. Ek dink vir Afrikaners is familie belangrik, en kykers begryp die situasies waarin die karakters hulself bevind – juis omdat dit so bekend en eg is. Ek dink wat Nico so briljant regkry met die reeks is nie noodwendig wat die karakters vir mekaar in hierdie situasies sê nie, maar juis dit wat nie gesê geword nie.”

Waarmee anders is jy besig? 

“Ek werk op die oomblik aan ’n nuwe seisoen van Kyk wie praat. Hierdie week begin ek ook met my gunsteling-deel van die program: om nuwe klitse vir my klas uit te toets.”

As jy terugkyk op jou loopbaan, waaroor is jy dankbaar?

“Ek het soveel om voor dankbaar te wees. Ek dink my loopbaan is van so ’n aard dat elke medium waarin ek werk – teater, televisie, radio en film – my toelaat om die proses van iets skep met ’n klomp mense te deel. Ek het deur die jare met ’n magdom talentvolle skeppers en kunstenaars gewerk. Met elke produksie word daai mense familie vir daardie tydperk. Dis alles eintlik een groot spansport, want elkeen het ’n hand aan die eindproduk. Ek is dankbaar vir almal wat al saam met my geskep het.”


Nêrens, Noord-Kaap Deel II saai op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die volledige eerste reeks van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is tans beskikbaar op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies