Menu terloops
In Gons [19 Sep 2024]

‘7de Laan’ se Vian Singleton maak hom tuis as nuwe ‘Diepe Waters’-kalant


Ons het vir Vian Singleton as Thomas op ‘7de Laan’ leer ken, en volgens dié akteur is sy ‘Diepe Waters’-karakter iemand wat ’n blywende indruk gaan laat. 

Stroom 'Diepe Waters'

‘7de Laan’ se Vian Singleton maak hom tuis as nuwe ‘Diepe Waters’-kalant

Opwindende nuwe verwikkelinge wag op kykNET se Diepe Waters-aanhangers, met Vian Singleton wat sy verskyning as Shane Kriek vanaf 23 September maak. Shane, ’n aantreklike, maar baie skaam 20-jarige, bring ’n vars dinamika na die storielyn, veral met sy verbintenis aan Charity.

Shane Kriek is nie net ’n gewone swemmer nie; hy besoek die swemklub gereeld om fiks te bly en vir ontspanning te swem. Alhoewel hy aanvanklik teruggetrokke voorkom, skyn sy sjarme en warmte deur sodra hy gemaklik om iemand voel. Hierdie komplekse karakter het ’n interessante verlede waaroor kykers binnekort meer sal uitvind.

Vian oor sy rol as Shane Kriek

Vian, bekend vir sy rol as Thomas in 7de Laan, is opgewonde oor die rol van Shane in Diepe Waters

“Shane is ’n vriendelike, maar skaam persoon wat baie omgee vir ander. Hy is dapper genoeg om soms daardie sprong van geloof te maak, en ek bewonder dit,” sê Singleton. Die akteur besin oor Shane se impak in die storielyn, veral as iemand wat Charity help om oor haar toekoms na te dink. “Atlete het kort loopbane, en Shane help haar om verder te kyk as haar huidige identiteit, en om nuwe moontlikhede vir haar lewe raak te sien.”

Vian Singleton, Diepe Waters
“Shane is ’n vriendelike, maar skaam persoon wat baie omgee vir ander,” vertel Vian Singleton oor sy Diepe Waters-karakter. Foto: Skermgreep

Singleton se akteursloopbaan het vroeg begin toe hy op tienjarige ouderdom in sy eerste advertensie vir Sunfoil saam met die Protea-krieketspelers verskyn het. Hy het later rolle vertolk in produksies soos My Father’s War en ook getoer met Fiela se Kind as die jong Benjamin Komoetie. 

Meer onlangs was Singleton deel van die rolprent Valentynssokkie. Sy tyd as Thomas in 7de Laan, wat oor ses jaar gestrek het, het gesien hoe hy verskillende tienerstorielyne verken – van boelies tot eerste liefdes.

Benewens sy liefde vir toneelspel, is Singleton ook ’n sportman. Hy het op skool rugby gespeel en aan atletiek deelgeneem, en het sy hoërskoolloopbaan afgesluit as Interkontinentale Afrika-kampioen in skopboks. Hy oefen tans gemengde gevegskuns (MMA) by CIT-gimnasium in Pretoria. Hy swot ook B.Com Finansiële Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.

Die lekkerte van Diepe Waters

Vian is opgewonde om deel van die Diepe Waters-span te wees, en sê: “Aangesien ek voorheen met van die rolverdeling en span gewerk het, het dit van dag een af gemaklik gevoel. Die stel is altyd lekker, maar bly steeds baie professioneel.” 

Hy geniet die ligte oomblikke op stel, soos die vroegoggend grappies met die crew, en die tafeltenniswedstryde tussen tonele.

En wat wag op sy nuwe karakter, Shane?

“Shane gaan beslis eendag nog sy vlerke sprei,” sê Vian. Maar, dié is beslis ’n karakter wat ’n blywende indruk gaan laat, meen hy. 


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies