Menu terloops
In Gons [19 Sep 2024]

‘7de Laan’ se Vian Singleton maak hom tuis as nuwe ‘Diepe Waters’-kalant


Ons het vir Vian Singleton as Thomas op ‘7de Laan’ leer ken, en volgens dié akteur is sy ‘Diepe Waters’-karakter iemand wat ’n blywende indruk gaan laat. 

Stroom 'Diepe Waters'

‘7de Laan’ se Vian Singleton maak hom tuis as nuwe ‘Diepe Waters’-kalant

Opwindende nuwe verwikkelinge wag op kykNET se Diepe Waters-aanhangers, met Vian Singleton wat sy verskyning as Shane Kriek vanaf 23 September maak. Shane, ’n aantreklike, maar baie skaam 20-jarige, bring ’n vars dinamika na die storielyn, veral met sy verbintenis aan Charity.

Shane Kriek is nie net ’n gewone swemmer nie; hy besoek die swemklub gereeld om fiks te bly en vir ontspanning te swem. Alhoewel hy aanvanklik teruggetrokke voorkom, skyn sy sjarme en warmte deur sodra hy gemaklik om iemand voel. Hierdie komplekse karakter het ’n interessante verlede waaroor kykers binnekort meer sal uitvind.

Vian oor sy rol as Shane Kriek

Vian, bekend vir sy rol as Thomas in 7de Laan, is opgewonde oor die rol van Shane in Diepe Waters

“Shane is ’n vriendelike, maar skaam persoon wat baie omgee vir ander. Hy is dapper genoeg om soms daardie sprong van geloof te maak, en ek bewonder dit,” sê Singleton. Die akteur besin oor Shane se impak in die storielyn, veral as iemand wat Charity help om oor haar toekoms na te dink. “Atlete het kort loopbane, en Shane help haar om verder te kyk as haar huidige identiteit, en om nuwe moontlikhede vir haar lewe raak te sien.”

Vian Singleton, Diepe Waters
“Shane is ’n vriendelike, maar skaam persoon wat baie omgee vir ander,” vertel Vian Singleton oor sy Diepe Waters-karakter. Foto: Skermgreep

Singleton se akteursloopbaan het vroeg begin toe hy op tienjarige ouderdom in sy eerste advertensie vir Sunfoil saam met die Protea-krieketspelers verskyn het. Hy het later rolle vertolk in produksies soos My Father’s War en ook getoer met Fiela se Kind as die jong Benjamin Komoetie. 

Meer onlangs was Singleton deel van die rolprent Valentynssokkie. Sy tyd as Thomas in 7de Laan, wat oor ses jaar gestrek het, het gesien hoe hy verskillende tienerstorielyne verken – van boelies tot eerste liefdes.

Benewens sy liefde vir toneelspel, is Singleton ook ’n sportman. Hy het op skool rugby gespeel en aan atletiek deelgeneem, en het sy hoërskoolloopbaan afgesluit as Interkontinentale Afrika-kampioen in skopboks. Hy oefen tans gemengde gevegskuns (MMA) by CIT-gimnasium in Pretoria. Hy swot ook B.Com Finansiële Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.

Die lekkerte van Diepe Waters

Vian is opgewonde om deel van die Diepe Waters-span te wees, en sê: “Aangesien ek voorheen met van die rolverdeling en span gewerk het, het dit van dag een af gemaklik gevoel. Die stel is altyd lekker, maar bly steeds baie professioneel.” 

Hy geniet die ligte oomblikke op stel, soos die vroegoggend grappies met die crew, en die tafeltenniswedstryde tussen tonele.

En wat wag op sy nuwe karakter, Shane?

“Shane gaan beslis eendag nog sy vlerke sprei,” sê Vian. Maar, dié is beslis ’n karakter wat ’n blywende indruk gaan laat, meen hy. 


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies