Menu terloops
In Gons [20 Sep 2024]

‘My naam is Farah’: Nuwe oorgeklankte Turkse telenovela op pad na kykNET&kie


’n Splinternuwe oorgeklankte Turkse telenovela, ‘My naam is Farah’, begin op 14 Oktober op kykNET&kie en daar gaan weer oorgenoeg drama én romanse wees. 

‘My naam is Farah’: Nuwe oorgeklankte Turkse telenovela op pad na kykNET&kie

My naam is Farah vervang die gewilde telenovela, Moederhart, wat binnekort ten einde loop.

Waaroor gaan ‘My naam is Farah’?

Farah Ersaid is ’n 28-jarige Iranese dokter wat onwettig as ’n skoonmaker in Istanbul werk. Sy is ma van ’n sesjarige seun, Kerimsah, wat aan ’n outo-immuunsiekte ly en geen weerstand teen siektes het nie. Die mediese hulp wat hy nodig het, is peperduur, en Farah kan ondanks haar kwalifikasie nie as dokter in Turkye werk nie. Sy werk dan as ’n skoonmaker om genoeg geld vir sy mediese sorg te verdien. 

Farah se wêreld word verder omgedolwe as sy die ooggetuie van ’n moord deur die plaaslike mafia is. Die mafiabaas kry vir Tahir Lekesiz om haar te vermoor, maar sal hy die opdrag kan deurvoer? Waar lê sy lojaliteit: by die mafiabaas wat sy lewe gered het toe hy ’n kind was, of by die mooie dokter en haar seun? 

My naam is Farah se oorspronklike Turkse titel is Adim Farah. Dit is ’n verwerking van die Argentynse reeks La Chica que Limpia, en het ook ’n Amerikaanse weergawe, The Cleaning Lady, wat op Showmax te sien is. 

Wie’s die hoofspelers?

Demet Özdemir is Farah Ersaid. Mandi Baard is vir Farah se stem in Afrikaans verantwoordelik. 

Demet is op 26 Februarie 1992 in Izmit gebore, maar het ná haar ouers se egskeiding saam met haar ma en twee ouer sibbe Istanbul toe getrek. Demet was ’n professionele danser voordat sy ’n aktrise geword het. 

Engin Akyürek is Tahir Lekesiz. Die stem van Tahir word deur Reynard Slabbert gedoen.

Engin, wat op 12 Oktober 1981 gebore is, is ’n Turkse akteur en draaiboekskrywer. Hoewel hy geen formele drama-opleiding het nie, is dit sy eerste liefde. Hy het taalgeskiedenis en geografie aan die Universiteit van Ankara studeer voordat hy aan Turkey’s Stars, ’n TV-talentsoekprogram, deelgeneem het. Kort daarna het hy sy eerste rol losgeslaan.

My naam is Farah
Demet Özdemir is Farah Ersaid en Engin Akyürek is Tahir Lekesiz. Foto: Verskaf

Firat Tanis speel die rol van Mehmet Kosaner en sy stem in Afrikaans word deur Charl van Heyningen gedoen. 

Firat is ’n Turkse akteur en musikant en het al in meer as 30 rolprente verskyn. Hy is op 5 Mei 1975 gebore. 

Ander karakters in die telenovela – en hul Afrikaanse stemme – is Perihan (Karin Retief), Kaan (Markus Heywood), Kerim (Juwan van der Westhuizen), Gonul (Carmen Pretorius), Ilyas (Pierre-Thomas Retief), Orhan (Mortimer Williams) en Bade (Mari Molefe). 


My naam is Farah begin 14 Oktober om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 11 stories in Julie misloop

’n Nuwe ‘Matlock’, Magda Louw op haar stukke, aksie-satisfaksie in ‘The Old Guard 2’, en die slotseisoen van die meesleurende reeks ‘The Sandman’ tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Julie 2025

Dolf staan by ’n kruispad, terwyl Bongi se liefdesbootjie sink... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Suidooster: Kaapse winter bring vlaag van vurige drama in Julie

Die een koue front ná die ander bring in Julie ’n vlaag van vuurwarm drama na ‘Suidooster’ se Ruiterbosch. Daar is rugstekery, misverstande, onsekerheid én gebroke harte. 

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Julie 2025

Agatha wriemel haarself telkens uit die moeilikheid en Petro stort ineen nadat sy iets uiters onverwags sien... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Julie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies