Menu terloops
In Onderhoude [10 Des 2024]

‘Nêrens, Noord-Kaap’ ’n ‘groot geskenk’ vir Frank Opperman


Frank Opperman se vertolking as Pa Lourens in ‘Nêrens, Noord-Kaap’ is onverbeterlik, en ja, hy huil self lekker as hy dié pragreeks kyk.

Stroom nou

‘Nêrens, Noord-Kaap’ ’n ‘groot geskenk’ vir Frank Opperman

“Die lewe is onvoorspelbaar, en jy is maar net bevoorreg wanneer daar dinge na jou kant toe kom. Nêrens, Noord-Kaap was so ’n ding. Dit was my beurt om so ’n groot geskenk te kry. Ek het al ’n paar lekker dinge gedoen, maar Nêrens staan uit,” sê die akteur Frank Opperman. 

Dié gesoute akteur vertel meer oor sy sonderlinge ervaring as deel van skepper, skrywer en regisseur Nico Scheepers se aangrypende dramareeks, Nêrens, Noord-Kaap

Het jy Lourens anders in Deel II as in Deel I getakel?

“Nee, dit was asof daar tussen die opnames van Deel I en Deel II geen tyd verbygegaan het nie. Dít was die lekkerte van hierdie reeks. Dit was asof almal van ons so ín ons karakters ingegly het en of ons meer gemaklik in hul lywe was.” 

Wat is dit aan Pa Lourens wat mense so meevoer?

“Ek dink ons ken almal daardie omies. Daardie bedonnerde ou oom wat jy nie weet hoekom hy so suur is nie. Mense vind aanklank by iets wat hulle ken – Pa Lourens is daai oom. Deesdae, wanneer mense my voorkeer, vra hulle nie meer waar Ouboet se rooi sweetpak is nie, hulle vra waar is my kierie. 

“Wat baie met die karakter gehelp het, is dat ons vir sewe weke in Nieuwoudtville was – met net ’n kort vakansie tussen Kersfees en Nuwejaar – en dat ek as’t ware die hele tyd die karakter kon wees. Ek het, byvoorbeeld, vir sewe weke lank kruppel geloop soos Lourens. Die tyd op Nieuwoudtville was wonderlik. Ek het dit verskriklik geniet, want ’n mens kry nie elke dag die geleentheid om vir so lank op een plek te skiet nie. 

Nerens Noord-Kaap, Frank Opperman, Pa Lourens
Frank Opperman het ‘n pragvertolking as Pa Lourens gegee. Foto: Verskaf

Julle is Nederland toe vir van die tonele. Vertel ons meer van die ondervinding om in die buiteland te skiet. 

“Dit was verskriklik lekker. Die Hollanders gee nie om waar jy skiet nie. Solank die span nie ’n oorlas van hulself maak nie, kan jy doen wat jy wil. Dis nie soos in die Kaap waar jy ’n permit vir elke toneel wat jy wil skiet, nodig het nie. Die mense in Amsterdam het respek vir wat jy doen. Wanneer hulle verbyloop, sal hulle net hul gang gaan en stil wees. 

“Om die produksie van Nêrens só af te sluit, het dit nog meer spesiaal gemaak. Die lug daar is anders. Dit lyk anders. Wanneer jy na die tonele in Amsterdam kyk en dan sien jy weer die dorre aarde van die Noord-Kaap in ander tonele – dis baie spesiaal. En daardie finale skoot van pa Lourens op die bankie in Nederland…”

Jy het Nêrens, Noord-Kaap die toneelstuk by ’n fees gaan kyk. Het jy toe ooit gedink dit sou word wat dit vandag is?

“Ek het een Saterdagoggend Nêrens gaan kyk en my pap gelag en pap gehuil. Ek het ook Amper, Vrystaat (met Milan Murray, Antoinette Louw en Cintaine Schutte en ook met Nico Scheepers as regisseur en skrywer) gesien wat oor drie susters gaan.

“Ek het ná ek Nêrens gesien het, vir Nico raakgeloop en gesê as hy ooit ’n toneelstuk skryf oor die ouers van hierdie lot, moet hy asseblief aan my dink. Ek is so bly ek het dit gedoen, want ’n jaar of wat later is ek gevra om ’n oudisie te doen vir Pa Lourens. Dit wys jou net: Mens moenie stilbly nie. En hou maar dop, Nico gaan nog eendag ’n Oscar wen. Ek is bereid om geld daarop te wed.”

Daar was ’n kant van Lourens wat hard en ongenaakbaar was. Maar dan tog ook ’n sagte kant, veral later, wanneer hy vir Frans sê hy is nie onsigbaar nie. Het dit vir jou afsluiting met die karakter gebring? 

“Ons het dit só beplan. As jy doodgaan, moet kykers vir hulself kan sê die ou was nie so ’n groot k*k nie. Ja, hy is ’n harde ou, maar die meeste harde ouens het klein hartjies. Baie Afrikaner-mans is só.” 

Jy is so lucky soos die woorde wat vir jou gegee word om te speel. Nico het die karakter Lourens vir my gegee, en as hy gelukkig is met my spel, dan is ek ook

Frank Opperman

Wat sal jy altyd onthou van Nêrens, Noord-Kaap

“Ek dink almal se fokus. Dit was mal! Dis asof almal gesê het, ‘Hier gaan ons nou,’ en toe die beste moontlike werk gelewer het. Hierdie het gegaan oor die eindproduk – nie oor enigiemand se ego nie. Almal van ons het mekaar die beste toegewens. Nie een akteur was daar vir hulleself nie. Nieuwoudtville het ook ’n groot rol gespeel. Die omgewing, die mense. Om nie in verkeer te sit op pad werk toe nie en net totaal en al op die produksie te fokus.” 

Is daar tonele in Deel II wat vir jou uitstaan? 

“Die toneel tussen my en De Klerk (wat Andries vertolk) waar hy vir Lourens kalmeer ná ek nie kon onthou nie. My lyf het so geruk, en hy druk my dan vas. Daardie toneel. Ek het sommer vir myself gehuil toe ek dit gekyk het. 

“Ek kyk die reeks op Catch Up, maar episode 12 het ek die aand gekyk toe dit uitgesaai is. Ek was nuuskierig om te sien hoe Nico die episode waar Lourens doodgaan, aanmekaar gesit het. Nico is ’n meester wanneer dit by emosie kom. Albert (Pretorius) en Daneel )van der Walt) laat my ook huil. Ronnie en Suzette is wonderlike karakters. En die toneel waar Frans (Geon Nel) met Ronnie in episode 12 praat. Ek huil lekker.”

Wat is Pa Lourens se wens vir sy drie seuns? 

“Enige ouer wens net geluk vir hulle kinders toe. Vir Frans wens ek dat hy nie soos Pa Lourens moet wees nie. Frans en Pa Lourens is die meeste soos mekaar, en dit is gewoonlik die een wat die meeste soos jy is, waarmee jy die meeste baklei. Vir Ronnie wens ek dat hy ophou suip. Albert het daardie rol so goed gespeel. Ronnie se probleme is real, en Albert het dit real gespeel. Andries is die klein seuntjie, die laaste enetjie wat dalk net meer vryheid as die ander twee gehad het, en hopelik sal daardie vryheid bly.” 

Kykers sê aanhoudend jy verdien ’n Oscar vir jou spel. Is toekennings belangrik? 

“Dis lekker, maar dis bietjie van ’n cheap thrill. Ek het by vanjaar se Aardklop ’n toekenning gekry vir my spel in Stinkhout, maar Wilhelm van der Walt, wat my seun speel, verdien dit net soveel. Daar is duisende goeie akteurs, maar ek wil sien hoe lyk Dustin Hoffman in 7de Laan. Jy is so lucky soos die woorde wat vir jou gegee word om te speel. Nico het die karakter Lourens vir my gegee, en as hy gelukkig is met my spel, dan is ek ook.” 


Nêrens, Noord-Kaap Deel II se laaste episode word op Dinsdag, 10 Desember 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ná uitsending sal al Deel II se episodes egter op Catch Up beskikbaar wees om te stroom. Die volledige eerste reeks van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is tans beskikbaar op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 11 stories in Julie misloop

’n Nuwe ‘Matlock’, Magda Louw op haar stukke, aksie-satisfaksie in ‘The Old Guard 2’, en die slotseisoen van die meesleurende reeks ‘The Sandman’ tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Julie 2025

Dolf staan by ’n kruispad, terwyl Bongi se liefdesbootjie sink... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Suidooster: Kaapse winter bring vlaag van vurige drama in Julie

Die een koue front ná die ander bring in Julie ’n vlaag van vuurwarm drama na ‘Suidooster’ se Ruiterbosch. Daar is rugstekery, misverstande, onsekerheid én gebroke harte. 

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Julie 2025

Agatha wriemel haarself telkens uit die moeilikheid en Petro stort ineen nadat sy iets uiters onverwags sien... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Julie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies