In Nêrens, Noord-Kaap Deel II is die las wat Lorrie dra baie swaarder as in Deel I. Shana Mans vertel vir terloops oor hoe sy vir die verfilming voorberei het, haar agting vir haar medespelers en haar drome om ’n aksiefliek te maak.
Ons het Lorrie in Deel I leer ken, maar in Deel II gaan sy deur soveel meer. Hoe het jy daarvoor voorberei?
“Toe ek vir die eerste keer Deel II gelees het, het ek vir ’n dag ge-panic en dit toe begin verwerk. Dis wonderlik as ’n skrywer soos Nico voel hy kan vir jou as ’n akteur uitdaag, maar dan wil ’n mens seker maak jy is so eerlik as moontlik. Ek glo dat navorsing ’n groot deel van voorbereiding is, en dít het my gelei wanneer ons oomblike van improvisasie op stel gehad het. Die res was maar net my eie drome, vrese en hart.”
Met Deel I het jy vertel jy het nie eens geweet hoe om ’n skaap te vang nie. Het daardie deel van Lorrie se lewe vir jou makliker gekom?
“Ja, ek het toe vinnig geleer! Lorrie se veeartstonele was my gunsteling-dae op stel. ’n Mens spandeer so baie tyd in ’n karakter se gedagtes en in hul woorde, so wanneer ek ’n kans kry om regtig die skaap te vang of te ondersoek, of selfs die bakkie te bestuur, word ek sommer opgewonde. Ek hou van fisiek betrokke raak en geniet die leerkurwe wat daarmee kom. Challenge accepted!”
Jy het verskeie baie sterk tonele teenoor Pa Lourens (Frank Opperman) en Frans (Geon Nel). Wat sal jy altyd van hierdie tonele bybly?

“Hulle gee nie eens vir ’n mens die kans om senuweeagtig te voel nie. Albei van hulle is oop en toeganklik. Geon is nou ’n vriend en elke toneel wat ons saam gedoen het, het gevoel soos spanwerk. Én ’n magic show; Geon is ’n uitstekende kulkunstenaar. Ons sou repeteer en dan haal hy ’n klippie agter my oor uit, of hy laat iets verdwyn.
“Ek is net dankbaar vir die geleentheid om tussen groot akteurs soos dié te speel. Dis ’n geleentheid om te leer en te verbeter. The company you keep, and all that.
“Ek het ook ’n hele paar tonele saam met Tannie Ans (Marion Holm) in Deel II gehad en daaroor was ek vreeslik opgewonde. Marion se toneelspel is soos een van die beste lucky packets wat jy kan oopmaak, en ek was gelukkig genoeg om dit ’n paar keer te kry. Sy verras jou elke keer en dit was wonderlik.”
Wat was vir jou ’n hoogtepunt van Deel II?
“Ek voel asof ek op ’n kamp saam met my vriende gegaan het. Ek was net vir twee weke op stel in die Noord-Kaap, so ek het amper elke dag ’n vol dag gehad. Ons het vinnig beweeg tussen tonele en dit was intens, maar die mense was lekker. Ek het elke oggend opgestaan en heeldag gaan doen waarvoor ek lief is saam met mense wat passievol is. Dís die droom. Die hele ervaring is ’n hoogtepunt.
Wat is jou raad aan Lorrie?
“Jy kan nie almal red nie.”
Jy woon die afgelope tyd in Engeland. Waarmee hou jy jouself besig? En is die skuif permanent?
“Ek jaag steeds my drome, maar dis makliker gesê as gedaan. Ek voel asof ek die laaste twee jaar op ’n steil leerkurwe was, en daar is nog soveel meer om uit te werk. Gelukkig is ek nie alleen nie. Ek het in die laaste paar maande begin met stunt training sodat ek nog ’n vaardigheid in my akteur-toolbox het en kan sê, ‘I do my own stunts’. Dit hou my baie besig tussendeur oudisies en shoots.
“Ons het vier keer in twee jaar getrek en dit voel nou eers of ons begin settle. Ons het hierdie somer ’n hond gekry en haar sommer Pampoen genoem. Ek praat beslis meer Afrikaans in die huis! Ek glo nie in enigiets half doen nie, so vir nou is die skuif permanent. As die lewe ander planne het vir my, dan sal ons dit vat soos dit kom.”
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
“My ouers, my sussies en my beste vriendin. Die sonskyn en die see.”
Watter rol hoop jy kom nog op jou pad?
“Ek wil die volgende Lara Croft speel. Hulle sê, ‘Dress for the job you want’. Ek oefen stunts sodat ek voorbereid is vir wanneer die geleentheid kom. Ek sal ook gryp na ’n rol soos Annie in die reeks Good Girls.”
Wat is jou droom vir 2025?
“Hierdie jaar is ek ekstra dankbaar vir gesondheid en geluk en ek hoop dit bly so vir 2025.
“Ek sal graag my eerste rol in ’n aksiefilm wil vertolk en ek wil volgende somer beter volleyball speel. Alles anders kan my maar verras.”
Nêrens, Noord-Kaap Deel II saai op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die volledige eerste reeks van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is tans beskikbaar op Showmax.