Mooiweer en warm, Die Seemeeu, Kanarie, en Vir Altyd is maar net van die projekte waarvan die akteur Geon Nel al deel was. Dis egter sy rol as Frans in Nêrens, Noord-Kaap – in sowel die verhoogstuk as die TV-verwerking – wat vir dié akteur as ’n loopbaanhoogtepunt, ’n “eenkeer-in-’n-leeftyd-ervaring”, sal bybly.
Geon het oor dié rol en reeks gesels.
Frans is al deur baie in Nêrens, Noord-Kaap, maar het tog staande gebly. Hoe het jy voorberei vir jou rol, maar veral vir die tuimeltreinrit wat hy in Deel II moet trotseer?
“Ja, hy is omtrent deur baie, maar só ook al die karakters wat deur ewe veel donkerte in hierdie reeks gaan. Maar waar daar donkerte is, is daar lig.
“Ons is bevoorreg met die voorbereiding van Deel II omdst ons nie net die verhoogproduksie gehad het nie, maar ook die vorige seisoen (van die TV-reeks, Deel I) om op voort te bou. Die hoofspelers het dus presies geweet wie die karakters is en ons was gereed vir die lang reis oor berge en deur dale. Nico het ons voorberei op wat kom, maar gelukkig ken ons die karakters en mekaar so goed dat ons mekaar se energie kon gebruik en van mekaar af speel. Wat ’n voorreg.”
Daar is verskeie tonele tussen jou en Frank Opperman (as pa Lourens) wat hul komplekse verhouding onder die loep bring. Die pap teen die kombuiskaste, die skeertonele, die tonele waar hy vir jou sê jy is nie onsigbaar nie… Het julle hierdie tonele repeteer of vooraf bespreek?

“Om die skerm met Frank te deel en hom nog beter te leer ken, is so ’n voorreg. Veral daardie intieme tonele; die klassieke pa-en-seun-struweling.
“Ons het voordat ons geskiet het vir mekaar boodskappe gestuur en gesê, ‘Kyk nou net weer wat doen pa Lourens aan Frans,’ so ons het geweet wat kom, maar ons het nie juis repeteer nie. Ons het wel voor die tyd met Nico gepraat en ons het die spasie waarin dit gebeur goed geken. Maar om daardie egtheid te behou, het ons dit nie vooraf geoefen nie. Ons sou die tonele vir die volgende dag net die aand voor die tyd saam deurlees en ’n paar idees rondgooi. Maar die emosies het in die oomblik gebeur.
“As jy vir Frank in die oë kyk en jy sien hoe goed hy die rol speel en veral die Alzheimers (uitbeeld), kan jy jouself so goed inleef dat jy kan glo hy ís jou pa wat nie weet waar hy is of watter seun voor hom staan nie. Dit was ongelooflik om daardie tonele saam met hom te doen.”
Ons sal lewenslank kan terugkyk en trots wees op hierdie produksie. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.
Geon Nel
Wat is die belangrikste les wat jy oor die jare by Frans geleer het?
“Moenie alles net vir jouself hou nie. Glo in jouself. Práát. Sê hoe jy voel. Sê vir jou mense jy is lief vir hulle. Dís so belangrik. Ek is self ’n man met ’n vrou en ’n dogtertjie en dis so belangrik om vir hulle te sê ek is lief vir hulle. Dis nie iets wat Frans noodwendig doen nie, maar dít het my geleer om dit te doen.”
En wat hoop jy leer kykers by hom?
“Jy kan sien wat gebeur as jy nie hulp kry nie en nie in jouself glo nie; as jy nie jou demone worstel en aan die ander kant kan uitkom nie. Al lyk dinge hoe moeilik nou, hou net uit. Daar is altyd lig aan die einde van die tonnel, maak nie saak hoe donker dit lyk nie.”

Min mense sal na jou, Albert (Pretorius, as Ronnie) en De Klerk (Oelofse, as Andries) kan kyk sonder om aan die Adendorff-broers te dink nie. Wat maak jou ‘broers’ en jul verhouding met mekaar so spesiaal?
“Daar sal altyd daardie band tussen ons drie en Nico wees. Ons het al soveel saam gereis – amper die hele land vol – en ons het baie goeie tye saam gehad. Die energie tussen ons is daar omdat ons mekaar so goed ken. Ek dink dit is wat op skerm oorkom. Ons leer nie nog om die karakter te wees nie, ons ís die karakters. Ons sal lewenslank kan terugkyk en trots wees op hierdie produksie. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.”
Het jy ’n hoogtepunt uit Deel II?
“Dis so moeilik om een oomblik uit te sonder, maar ek dink dit is die heel laaste toneel van die heel laaste episode. Ek het die draaiboek en daardie toneel in ’n koffiewinkel gesit en lees en begin huil. Mense het seker gedink ek het slegte nuus gekry, maar dit was net so ’n spesiale oomblik.
“En natuurlik die hele produksie – van die tegniese span tot elke liewe mens betrokke wat dit so spesiaal gemaak het.”
Wat is kykers se reaksie as hulle met jou oor die reeks praat?
“Daar is ’n hele paar mense wat sê ons boeties het issues. Ook hoekom ek so lelik met my pa is en hoekom hy so lelik met my is. Dit wys jou net hoe hulle hulself in die reeks inleef. Hulle sal sê hulle kan nie meer kyk nie, want hulle het nie meer genoeg tissues nie. Ook mense wat dit herken omdat hulle ’n pa het wat Alzheimers het of hul ma op ’n jong ouderdom verloor het.
“Maar oor die algemeen is dit net dankbaarheid vir die reeks. Natuurlik ook vrae of daar nog ’n seisoen kom en dan moet ek sê, ‘Nee, hierdie is beslis die laaste een’.”
As jy terugkyk na Nêrens, Noord-Kaap – van die begin met die toneelstuk tot nou – wat bly jou by?
“Dit is nou al agt jaar wat ons hierdie pad van Frans, Ronnie en Andries saam met Nico loop. Dit is een van daardie ervarings wat ’n mens dalk nooit weer in jou lewe gaan kry nie – om aan ’n toneelstuk te werk en die karakters ten volle te ontwikkel, al die feeste en dorpe te toer en dan te hoor dit word ’n reeks. Om vir Frank by een van die vertonings wat hy kom kyk het, raak te loop en te sê dit sal lekker wees as hy die pa kan wees en dan gebeur dit. Al die mense wat ek ontmoet en vriende wat ek gemaak het, spelers soos Shana Mans, Marion Holm, Daneel van der Walt, Ilse Klink en Dean Balie… Ek wil eintlik almal se naam noem. Die crew en elke liewe ander speler. Ek sal dit altyd koester.
“Om in die Noord-Kaap te kom en daardie vlaktes te ervaar en te weet dís waar hierdie karakters woon. Om dadelik so welkom te voel. Dit is regtig ’n eenkeer-in-’n-leeftyd-ervaring. Ek dink elkeen van ons sal dit altyd sien as een van ons loopbaanhoogtpunte.”
Nêrens, Noord-Kaap Deel II saai op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die volledige eerste reeks van dertien episodes van Nêrens, Noord-Kaap is tans beskikbaar op Showmax.