Vir oulaas in 2023 bring ons sepievoorskou vir julle die inside scoop oor die lekkerste, skokkende en belaglikste storielyne wat hierdie week in sepieland uitspeel. Hier is waarna jy dié week (11 tot 15 Desember) op Diepe Waters, Suidooster, Binnelanders en Arendsvlei kan uitsien.
Diepe Waters
Jacques (Werner Coetser) en Johan (Liam Bosman) probeer die middelgrond tussen oom en pa vind. Terwyl dit vir hulle nader aan mekaar bring, veroorsaak dit ongemak in ’n paar van Johan se ander verhoudings. Maar dit is nie die einde van die Swarts-familie se seer nie, want Johan gaan nie rus totdat hy sy biologiese ma gevind het nie.
Natuurlik is Sanet (Nadia Valvekens) gebroke. Ek sou ook gewees het as my kind skielik sy biologiese ma wou opspoor nadat ek vir 20 jaar die enigste ma was wat hy geken het. Ten minste gaan Sanet nie deur hierdie moeilike tyd alleen nie, want behalwe sy dogter en die Here, is daar net een ander persoon wat Dominee Ben se hart bly maak en ek dink ons almal weet wie dit is… Sanet! Almal in die gemeenskap en voor die kassie kan dit sien. Nou wag ons net vir hulle om dit te erken.
Valencia (Vinette Ebrahim) se verhouding is dalk een van die dae iets van die verlede, maar voordat dit kan gebeur moet haar geliefde kêrel eers ’n manier vind om haar te los. “Good luck!” is al wat ek vir hom gaan sê, want Valencia sal mos nooit toelaat dat iemand vir haar los nie. Daarvoor is sy te uitgeslape!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Nog oor Diepe Waters
Suidooster
Lee-Ann (Portia Joel) het groot berou oor wat sy aan Ty (Maurice Paige) gedoen het. Maar sorry is nie ’n pleister nie en soms is dit net te laat om ’n verhouding te red. Kan Ty dit in sy hart vind om sy motjie te vergewe? Of gaan hy vir haar op dieselfde manier terugkry?
Met Nazeem (Irvine van der Merwe) wat oortuig is dat Interpol op sy spoor is, kan Aiden (Theodore Jantjies) ’n bietjie rustiger slaap. Maar ongelukkig is dit tyd vir Gary (Craig Adriaanse) om die stukke van sy mislukte loopbaan op te tel en Ruiterbosch te groet.
Veroné (Zandélle Meyer) sukkel om tussen lust en liefde te besluit, maar watter man gaan haar hart wen? Siya (Gantane Kusch) moet vinnig inspring om Veroné se manne van mekaar weg te hou.
Rhafiek (Irshaad Ally) wil deel van Oos-Wes se sukses wees, maar Kaashifa (Jawaahier Petersen) is nie sy grootse aanhanger nie. Sy probeer dan werk en hy bly onder haar voete!
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up
Nog Suidooster-stories
Binnelanders
Tertius (Reynardt Hugo) en Tracy (Melinda Brink) lewe in hul feëverhaal, maar ’n onverwagse geskenk of vraag van Conrad (Hykie Berg) slaan Tracy se voete onder haar uit. Nou is die waarheid al waaroor sy kan dink. Gaan die druk te veel vir Tracy wees om die geheim te hou? Of is hierdie ’n geheim wat sy graf toe gaan neem?
Annelize (Cindy Swanepoel) het al oor die jare ’n paar bitter pille gekry om te sluk, maar lyk my dinge begin uiteindelik vir Annelize uitwerk. Ná ’n wankelrige begin, verras Jeremy (Craig Urbani) vir haar met die grootse geskenk.
Louis (Germandt Geldenhuys) se senuwees hang aan skerwe. Dokters het uiteindelik antwoorde vir Naomi (Je-ani Swiegelaar) se toestand en dit is nie goeie nuus nie… Marisa mag dalk tog in haar taak geslaag het.
Karen (Luandri Reynders) is erg bekommerd oor die man van haar drome, maar hierdie keer neem sy dinge te ver.
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
Meer oor Binnelanders
Arendsvlei
Bianca (Riana Alfreds) kan uit haar vel uitspring van geluk, nadat sy ’n baie belangrike vraag gevra word. En nee, dit is nie die een waaraan julle dink nie.
Beatrice (Jolene Martin) dryf op ’n wolk nadat Kyle (Dries Botha) vir haar die ja-woord gevra het. Dié man laat nie gras onder sy voete groei nie. Maar ek hoop hy weet dat Clint altyd Beatrice se eie Mr. Big sal wees.
Whalied (Bobby Stuurman) wou nie na Bompie (Jarrid Geduld) se waarskuwings geluister het nie en nou het iets vreeslik gebeur.
Janice (Crystal-Donna Roberts) mag dalk nooit weer Janice wees nie en Lionel (Jody Abrahams) is verlore.
Calvin (Duane Williams) en Leeroy (Roberto Kyle) neem ’n groot stap. Een wat baie gaan verbaas.
Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.