Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Mei 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
XO, Kitty S1
Vanaf 18 Mei 2023 op Netflix beskikbaar om te stroom.
As jy ’n aanhanger van Jenny Han se To All the Boys I’ve Loved Before is, dan gaan dié spin-off waarskynlik ook ligte, tog plesierige, kykvermaak vir jou wees.
Anders as in To All the Boys, draai XO, Kitty nie om die vurige vonk tussen Kitty se suster, Lara Jean (Lana Condor) en Peter Kavinsky (Noah Centineo) nie. Dis eerder geliewe Kitty se liefdeslewe – en hart – wat hier blootgelê word.
In ’n baie onrealistiese wending, kry Kitty dit reg om haar pa te oortuig om haar toe te laat om na haar langafstandkêrel in Korea te reis. Daar gekom, besef sy verhoudings is nie so eenvoudig soos wat sy gedink het nie.
Projek Dina S3
Weeklikse episodes vanaf 9 Mei 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Online). Dié seisoen het Engelse onderskrifte en sal ook op DStv CatchUp beskikbaar wees. Kyk ook die eerste twee seisoene op Showmax.
Projek Dina se gedugte taakspan werp in die derde seisoen van dié dramareeks weer als in die stryd om vermiste persone op te spoor.
Die eerste seisoen het oorhoofs om lasbriefbeampte Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) se soektog na haar tweelingsuster, Dina, gedraai. Die tweede seisoen het twee jaar later hervat met Ronel uiteindelik vir Dina opgespoor het.
In die derde seisoen is daar egter meer as net moeilike sake en persoonlike traumas om te hanteer… Daar kom ook ’n reuse-verandering in die taakspan. Terwyl Ronel, Lux (Chumani Pan) en Charlie (Kay Smith) weer op hul pos is, is Deon (Tim Theron) gevra om met ’n buitelandse saak te help. Ene Zander (vertolk deur Laudo Liebenberg) word as die nuwe hoof van die taakspan aangestel. Volgens Deon is Zander die beste speurder met wie hy al ooit gewerk het, maar daar is omtrent dadelik wrywing tussen hom en die span.
Hoewel Dina veilig teruggevind is, het sy baie trauma om te verwerk en sy stoot vir Ronel weg. Charlie en Lux is ná hul soen nou in ’n verhouding – maar dis nie sonder haakplekke nie.
Nog nuwe gesigte dié seisoen sluit in Deon Coetzee, Arno Greeff, Cintaine Schutte, Frank Rautenbach en Corine du Toit.
Die derde seisoen se tien episodes draai elk om een of twee sake wat om vermiste persone draai. Elke saak wat die span ondersoek, is op werklike plaaslike sake gegrond.
Dinge van ’n Kind S1
Vanaf 11 Mei 2023 op Showmax beskikbaar om te stoom.
Dit was eers ’n boeiende boek, toe ’n roerende toneelstuk, en daarna ’n TV-reeks wat wyd geloof is.
Marita van der Vyver se boek Die Dinge van ’n Kind het verlede jaar op kykNET as ’n TV-reeks gestalte geneem. Die reeks van tien episodes, wat vertel van Mart Vermaak se gedaantewisseling van kind tot vrou, is ná ’n lang wag vanaf vandeesmaand op Showmax beskikbaar om te stroom.
In die roman het lesers vir Mart as tiener, sowel as ’n volwasse vrou in haar dertigs as ’n expat in Londen, leer ken. In die TV-reeks ontmoet kykers egter ook ’n heelwat ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.
Terwyl die boek in twee tydvakke afspeel – teen die politiese agtergrond van die ontstuimige 1970’s en die vroeë 1990’s – is daar vir die TV-weergawe ’n deel bygewerk wat in die hede afspeel. Daar is dus drie aktrises wat die rol van Mart deur die jare speel. In die rol van jong Mart is Melissa Myburgh. Cintaine Schutte is Mart in die 1990’s en Susanne Beyers speel die hedendaagse Mart.
Riëtte van der Wat skryf só in haar resensie van die TV-verwerking: “Bykans dertig jaar later is die storie van Die dinge van ʼn kind steeds presies dit – ʼn eerlike blik op ʼn komplekse tydvak in Suid-Afrika wat ʼn lewenslange impak op mense gelaat het. Maar meer nog, ʼn rou vertelling van die ongemaklike mensword-ervarings van die tienerjare. Dit was seker net ʼn kwessie van tyd voor dit ook vir die skerm verwerk is.”
Die regisseurs van die reeks is Quentin Krog, Zandré Coetzer en Tinarie van Wyk-Loots. Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg was vir die draaiboek verantwoordelik.
Recipes for Love & Murder S1
Vanaf 25 Mei 2023 op Showmax beskikbaar om te stroom.
Recipes for Love and Murder is verlede jaar op DStv in weeklikse sarsies uitgesaai. Dis uiteindelik einde vandeesmaand op Showmax beskikbaar om te stroom.
Recipes for Love and Murder is gegrond op die gelyknamige boek deur Sally Andrew, met die Ierse aktrise Maria Doyle-Kennedy wat die storie se hoofkarakter, Tannie Maria, vertolk. Die boek is deur die Suid-Afrikaanse skrywer Karen Jeynes in ’n TV-draaiboek verwerk.
Tannie Maria is ’n Skotse vrou wat ʼn plaashuis in die Karoo geërf het en die dorpskoerant se kosskrywer- en biegtannie is. As een van Tannie Maria se korrespondente dood aangetref word, is sy vasbeslote om die skuldige vas te trek. Sy span kragte saam met ’n rookie-joernalis, Jessie September (Kylie Fisher), om dié moord op te los.
Doyle-Kennedy is bekend vir haar spel in onder meer Outlander en The Tudors. Fisher is ook in Fraksie en Troukoors te sien. Tony Kgoroge vertolk Khaya Meyer, die plaaslike speurder wat die amptelike moordondersoek lei. Die regie is deur die bekroonde Christiaan Olwagen (Kanarie, Poppie Nongena) tesame met David Isaacs (Swartwater, Joe Barber).
In ’n onderhoud met terloops het Doyle-Kennedy vertel dat sy nie die reeks se draaiboek kon neersit toe sy eers begin lees het nie.
“Die Recipes-draaiboek was soveel anders as enigiets anders wat ek in daardie stadium gelees het. Ek was moeg vir die oënskynlik nimmereindigende geweld en wreedheid… Recipes for Love and Murder was ’n vreugde om te lees. Dit wentel om quirky idees om raaisels op te los; heerlike kos en die teerheid van ontwikkelende verhoudings,” het sy aan Riëtte van der Wat vertel.
Die reeks het intussen ook ’n internasionale gehoor gelok met die New York Times wat skryf dat die reeks “dieselfde mengsel van menslike drama, pragtige landskap, plaaslike kleur en watertandlekker kos [as die boek] bied”.
Die reeks is in Suid-Afrika en Skotland verfilm. Dit is ’n gesamentlike produksie deur M-Net, AMC Networks se Acorn TV, Both World Pictures en Global Screen.
Triangle of Sadness
Vanaf 22 Mei 2023 op Showmax beskikbaar om te stroom.
Met die premiere van dié swart komedie by die Cannes-filmfees verlede jaar, is die eindtitels met ’n staande applous van agt minute lank gegroet. Dit het uiteindelik ook die fees se grootse prys, die Palme d’Or, gewen. Die fliek is, in ’n enkele woord, wack. Maar op die heel beste manier. Die vertelling is sowel ’n string van dubbelsinnighede en metafore, as ’n amperse stream of consciousness-blik op die letterlike gebeure wat voor jou afspeel. Dis vreemd. Dis absurd. Dis belaglik fantasties.
Die fliek se bolangse premis is doodeenvoudig. ’n Bekende modelpaartjie (hier neem ons eerder influencer celebrity as “tradisionele” roem waar) vertrek saam met ’n garde ryker-as-ryk-mense op ’n luukse seiljagvaart. Die kaptein is heeltemal kêns, maar van die gaste is nie ver agter nie.
Die Suid-Afrikaanse aktrise en model Charlbi Dean – wat kort voor die fliek se uitreiking oorlede is – lewer ’n fynbesnaarde vertolking. Hierdie sou sekerlik haar breakout-rol gewees het. Haar spel as Yaya het ’n amperse tasbare kwesbaarheid; ’n soort reinheid. Ook in die rolverdeling tel Harris Dickinson, asook Woody Harrelson as die sotlike kaptein.
Triangle of Sadness het al meer as 20 pryse gewen en het ook vanjaar by die Oscars meegeding in die kategorieë vir beste prent, beste regisseur en beste oorspronklike draaiboek.
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →