Cintaine Schutte is een van drie aktrises wat die karakter van Mart – elk op ’n ander tydstip in haar lewe – in die TV-verwerking van Marita van der Vyver se boek, Dinge van ʼn kind, vertolk.
Waarom dink jy is Dinge van ʼn kind ná soveel jaar steeds so relevant?
“Ek dink definitief dit het lankal reeds ʼn cult classic in Afrikaans geword; dit was ʼn voorgeskrewe boek in baie skole en baie mense het grootgeword daarmee.
Ek kan onthou hoe ek die eerste keer die boek gelees het ter voorbereiding van my eenvrou-toneelstuk, Die dinge van ʼn kind. Dit het gevoel of ék in daai koshuiskamer sit. Asof ék deur daai tiener-angs, hormone, vriendskap en onskuld gaan; daardie dinge is definitiewe bakens in jou lewe. Die verlies aan die onskuld van jou kindwees, sal altyd relevant bly, in die sewentigs én nou. Dis universele temas en Marita van der Vyver vang daai temas sό goed vas.
Dan is daar oor die tema van trauma en wat dit aan jou doen. Mense praat steeds nie oor die Grensoorlog nie. Daar was ook die politieke temperatuur van daai tyd en die Soweto-opstand in 1976… As jy dink aan Mart se ma wat vir haar man sê die regering lieg vir hulle; dat die regering besig is om hulle te bedrieg… Apartheid en al daai kwessies is nog steeds so relevant soos toe die boek gepubliseer is. Ek bedoel, dit was nét nou die dag. Dit was nie so lank terug nie.
Jy en Mart stap al ʼn lang pad – wat het jou destyds tot die karakter aangetrek en maak jy steeds nuwe ontdekkings oor haar wanneer jy haar vertolk?
“Elke keer as ek my eenvrou-stuk weer aanpak, of dit nou vir ʼn fees of enige speelvak is, tel ek weer die boek op. Ek sien die boek as my bybel en elke keer as ek die boek lees, soos elke keer wat mens enige boek weer optel en lees, ontdek ek iets van die emosionele landskap van die karakter.
Die beskrywing van hoe die Frangipani-bome geruik het, die temperatuur in Nelspruit; hoe haar pa praat met elke kind…
Natuurlik leer jy nuwe goeters, maar jy as persoon groei ook. Een rede waarom ek so lief geraak het vir Mart, is oor haar nuuskierigheid oor die lewe en haar soeke na waarheid. Ook dat sy eintlik deal met haar probleme, al voel dit soos tien tree terug en twee stappe vorentoe. Ek hou ook daarvan dat sy so belese is.
Marita het haar sό mooi geskryf, want ons sien die hele wêreld van Dinge van ʼn kind uit Mart se perspektief. En eintlik hou sy ʼn spieël vir jou as leser op om vir jouself daai vrae te vra. En nou ook gaan dit gebeur as kyker. Sy gee jou amper nie ʼn keuse nie – daai ongemaklikheid stoom so in jou.”
Jy is seker die aktrise met die mees intieme verhouding met dié storie en die verskeie formate die afgelope paar jaar. Dit was seker interessant om eerstehands te ervaar hoe die boek op verskillende maniere vir die verhoog en vir televisie aangepas is? In watter opsig het Francois Toerien, en Henriëtta Gryffenberg en Elaine Rupping se interpretasies van die verhaal dalk verskil of ooreengestem?
“Dit was ongelooflik interessant om vanaf die boek, na die toneelstuk en daarna na die televisie-reeks toe te gaan.
Kyk, in die televisiereeks sien mens Mart in haar dertigs baie min. Sy is meer ʼn voertuig tussen jonger na Mart in die hede. Met die toneelstuk het ons natuurlik net 80 minute gehad om haar storie te vertel en heelwat moes uitgelaat word. Ek is byvoorbeeld mal oor Mart se vriendin Suna en nog een van my gunsteling-karakters in die boek is Liefie. Maar ons kon hulle net nie in die verhoogstuk plaas nie. Daar is regtig gewik en geweeg oor wat om in te sluit.
Die tekste is rondgestuur tussen Francois Toerien, die regisseur Nicole Holm en Margit Meyer-Rödenbeck en Alexa Strachan wat die vervaardigers is. Dan terug na Marita toe… Maar wat hulle daar gedoen het, is om die temas vas te vang.
En natuurlik gaan jy sien Henriëtta en Elani se interpretasie van die verhaal stem nie heeltemal ooreen nie, want daar is nou ook ʼn hede-mark. In die boek het ons Mart sien terugkeer na Suid-Afrika met haar seun Pierre en nou sien ons in die hede hoe ouer Mart in haar sestigs se verhouding met haar seun is. Dit was ʼn interessante twist.
Mens raak baie besitlik oor die storie, dat jy dit nie kan verder vat nie. Maar Marita sê altyd dis soos jou kind wat jy moet vrylaat in die wêreld en dan moet jy kyk wat gebeur. Darem het Nagvlug Films die hele tyd kontak gehad met Marita en sy was heeltyd deel van die proses. Kill your darlings, but also have respect for your characters.”
Was dit moeilik om hierdie karakter, met wie jy sou ʼn noue band het, skielik met twee ander aktrises te ‘deel’? En hoe het jy, Melissa Myburgh en Susanne Beyers jul onderskeie vertolkings van Mart so soomloos laat saamsmelt – van haar spraakpatrone tot haar maniërismes?
“Nee, ek deel nie die rol nie. Dis nie mý rol nie. Met Nagvlug was die grootste uitdaging om die jong Mart te cast, want dis ʼn baie komplekse rol; dan die hede-Mart. Ek het vir hulle gesê ek sou bereid wees om as ekstra ʼn roomys op stel te kom lek, ek wou net deel wees van die proses. En toe het dit nou toevallig so uitgewerk dat Melissa, ek en Susanne dieselfde trekke het. Ons het so bietjie gesels oor die keuses wat ons kan maak, maar darem het die boek so goeie fondament gelê vir haar maniërismes, haar lewensuitkyk, dat jy dit net moes vertrou. Ons was gelukkig om drie regisseurs te hê wat ons daarmee kon help en ʼn vangnet kon wees.
Al my tonele is op die heel eerste dag van die shoot, in een dag, geskiet en ek het geen idee gehad wat Melissa en Susanne doen nie. Dan laat jy dit oor aan die produksiespan en regisseurs.”
Vertel asseblief van jou ervaring om met die onderskeie regisseurs aan die reeks te werk?
“Ek het net saam met Quentin Krog gewerk vir my een dag op stel. Natuurlik het ek bietjie met Tinarie (van Wyk-Loots) en Zandré (Coetzer) gepraat en hulle het baie in my confide en my brein gepick en gevra hoe Mart oor iets sou gedink het. Dit was lekker om deel te wees van daai proses.”
Weet jy vandag iets wat jy wens jy kon met jou tienerself deel?
“Ek sou na haar toe wou stap en vir haar wil sê moenie ʼn board short aantrek as jy gaan swem nie. Swem nét so. Jou lyf is mooi, jy is goed genoeg.
Jou man wag vir jou – vry bietjie meer in die bondel!
En swot harder op skool en die vriendinne wat jy nou op hoërskool het, gaan steeds oor twintig jaar van jou beste vriende wees so jy is veilig, hou aan invest in daai vriendskappe.”
Met watter projekte is jy tans besig?
“Ek is besig met bietjie teater, waaroor ek baie opgewonde is. Ek is baie lief vir teater. En ek doen bietjie produksiewerk aan die kant en dan Huisgenoot Blokraaibestes op Via (Cintaine is die aanbieder) en verder probeer ek net aan nuwe idees te dink en sien ek baie uit na Dinge van ʼn kind.”
Lees ook ons resensie hier.