Menu terloops
In Onderhoude [15 Jul 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ se Reandi oor die langpad, moederskap en Kupido-speel 


Reandi Grey, die nuwe aanbieder van die maatsoekreeks ‘Boer soek ’n vrou’ vertel meer oor haar ervaring as “kassie-Kupido” op die 17de seisoen van dié gewilde program.

‘Boer soek ’n vrou’ se Reandi oor die langpad, moederskap en Kupido-speel 

Die 17de seisoen van kykNET se maatsoekprogram vir boere spog vanjaar met ’n paar nuwe baadjies – en natuurlik tien nuwe boere. Die nuwe seisoen van Boer soek ’n vrou begin Donderdag, 7 Augustus 2025, uitsaai. 

Daar is nie net ’n nuwe regisseur, Ferdinand van Zyl, in die stoel nie, maar ook ’n splinternuwe aanbieder – die Diepe Waters-aktrise Reandi Grey gaan hierdie seisoen die langpad na liefde saam met die boere aanpak.

Reandi, die sewende aanbieder van die reeks, belowe talle nuwe elemente, nuwe idees en nuwe style wat in hierdie seisoen na vore gaan kom. Sy sê kykers moenie die reeks met vooropgestelde idees benader nie, want talle verwagtinge gaan bloot by die agterdeur uitwaai. Een van die eerste vrae wat natuurlik opduik, is of sy haar reis as die “kassie-Kupido” saam met die boere geniet het.

Absoluut, sê sy. “Dis so opwindend om deel te wees van ’n storie, om te sien hoe konneksies gemaak word – om partykeer selfs konneksies te sien voordat die boer en die pasmaats dit raaksien. Om te sien hoe die boere verander van die begin tot die einde, en wat hulle ervaar, was net onbeskryflik spesiaal.”

Boer soek 'n vrou, Reandi Grey
Reandi moes self duisende kilometers aflê om by elkeen van die boere ’n draai te kon maak. Foto: Verskaf

Die langpad na die liefde

So gepraat van die boere se reis na die liefde – Reandi moes self duisende kilometers aflê om by elkeen van hulle ’n draai te kon maak. Hoe het sy daardie uitdaging getakel?

“Ek was bitterlik geseënd met ’n grimeerkunstenaar wat tydens hierdie reis my beste vriendin geword het. Ons het mekaar glad nie geken voor Boer soek ’n vrou nie, maar ons het werklik goeie maats geraak tydens die verfilming van die reeks. En saam met Krynauw Burger, ons drywer, het ons drie werklik goed oor die weg gekom.  

Boere verstaan dat sukses nie oornag kom nie. Hulle leef elke dag met die wete dat wat jy saai, sal jy maai – nie net op die land nie, maar ook in die lewe. Hulle is mense wat nie net vir hulself werk nie, maar vir die gemeenskap, vir hul families en vir die toekoms van Suid-Afrika.

Reandi Grey

“Buiten die lekker saamkuier, het ons soms vasvra-speletjies op ons fone gespeel en ook vasvra-kompetisies onder mekaar gehou. Boonop is ons al drie baie lief vir musiek en kon ons lekker saamluister. En ja, ook geslaap, baie geslaap,” lag sy. 

Diegene wat self gereeld die langpad vat, weet hoe maklik dit is om voor die kitskosversoeking te swig. Maar nie Reandi nie. Sy is gek oor bloubessies en maak seker dat sy altyd ’n houertjie of twee byderhand het.

Deur ’n ring trek…

Nog iets wat nooit agterweë bly nie, is gepaste uitrustings. “Ek het 57 uitrustings gehad! Plus tien ekstra vir daai ingevalle,” vertel Reandi. 

“Dit was baie stresvol en terselfdertyd opwindend. Omdat ek al die uitrustings self ontwerp en gemaak het, het dit baie tyd in beslag geneem. En dan moes ek natuurlik ook nog verby Elmarie [Botha, die vervaardiger van Boer soek ’n vrou] kom.

“Daar was baie skaaf en skuur om die middelpunt tussen die Boer-handelsmerk en my klerereeks, GreyC, te vind. Maar ek en Elmarie het baie lekker gespeel. Ek het later geleer dat wanneer sy met ’n ferm, ‘Nee’ antwoord, ek tog wel nog spasie het om haar te probeer oortuig. Maar as die antwoord, ‘Net néé’ was, moes ek dit so aanvaar.” 

Blapse 

Met soveel lang afstande, druk op die produksie en natuurlik die soeke na liefde, kan dinge soms skeefloop. En nie net vir die boere nie. Ook Reandi het ’n groot blaps begaan.

“Ná elke briewebesoek by die boere het ons ’n prettige oorhandigingsfoto geneem met ’n USB-geheuestokkie wat kamma al hul potensiële pasmaats se briewe bevat. En toe het ek een van dié geheuestokkies by een van die boere gelos. 

“Vyf uur later (dis hoe lank die rit dorp toe geduur het), was die produksiespan op soek na die geheuestokkie. Ek het besef ek het dit by die boer gelos. Ons moes toe ’n koerier inspan om die outjie terug te kry. Die geheuestokkie het nie werklik die briewe bevat nie, maar wel inligting bevat wat die span dringend nodig gehad het.”

Boer soek 'n vrou, Reandi Grey
“Boere gee ons land hoop omdat hulle aanhou bou, al word dinge soms afgebreek. Hulle bly glo, al is daar rede om te twyfel,” meen Reandi. Foto: Verskaf

‘Boere is die hartklop van ons land’

Hoe was dit vir Reandi om deur die platteland en afgeleë dele van die land te reis, en hoe het sy die boere ervaar? 

“Dit was ’n onbeskryflike voorreg om met die boere van Suid-Afrika te kon werk. Boere is van iets anders aanmekaargesit. Hul karakter, eerlikheid en volharding is so bitterlik mooi.

“Wat hulle so besonders maak, is hul onwrikbare geloof in harde werk, hul diep liefde vir ons land en hul nederige, dankbare gees – selfs te midde van uitdagings wat ander sou laat moed opgee. Hulle is my gunsteling-mense. Boere verstaan dat sukses nie oornag kom nie. Hulle leef elke dag met die wete dat wat jy saai, sal jy maai – nie net op die land nie, maar ook in die lewe. Hulle is mense wat nie net vir hulself werk nie, maar vir die gemeenskap, vir hul families en vir die toekoms van Suid-Afrika.

“Wat my elke keer tref, is hul dankbaarheid. Selfs wanneer droogtes ’n realiteit is en die pad moeilik raak, bly hulle hoopvol. Hulle maak soveel staat op hulle ondersteuningsnetwerke: die Here en hul families.

“Boere gee ons land hoop omdat hulle aanhou bou, al word dinge soms afgebreek. Hulle bly glo, al is daar rede om te twyfel. En hulle gee nie net vir ons ’n vol bord kos nie – hulle wys ons wat dit beteken om met waardigheid en integriteit te leef.

“Sê wat jy wil, boere is die hartklop van ons land. Hulle is ons heroes!” 

Oor mamma-wees

Die Boer soek ’n vrou-reis was nie een sonder opofferings nie, veral nie vir Reandi wat twee klein dogtertjies het nie. Heidi is rondom vyf jaar oud en Lente kort anderkant twee. Dan is daar ook nog manlief, Dewald – en dié drietal moes vir sowat tien weke sonder haar oor die weg kom. 

“Dít was sonder twyfel die moeilikste deel van Boer soek ’n vrou vir my – om my man en kinders so min te sien. Ek het vinnig besef die fokus moet absoluut op kwaliteit en nie kwantiteit wees nie. So, die tye wat ek wel by hulle was, moes ek so intensioneel en teenwoordig as moontlik wees sodat dit kon opmaak vir die tye wat ek weg van die huis af was.

“My raad aan werkende mammas sal wees om nie skaam te wees om vir hulp te vra nie. It does take a villiage. Laat vaar jou skuldgevoelens. Jy doen genoeg. Jy is genoeg. Werkende mammas stel ’n kragtige voorbeeld van veerkragtigheid, drome en balans – selfs al voel dit nie altyd so nie. Jy doen goed, mamma!”


2025 se boere is:

1. Nicolaas (37), skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap

2. Rudi H (56), boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

3. Lourie (26), beesboer van Vryburg, Noordwes

4. Rudi (47), toerisme en wildboer van Beestekraal, Noordwes

5. Evert (38), makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

6. Willie (26), makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

7. Reinier (29), saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat

8. Ruan (30), skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, Vrystaat

9. Christof (38), turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat

10. Pieter (29), skaapboer van Richmond, Noord-Kaap


Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou begin op Donderdag, 7 Augustus om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk solank Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies