Nicolaas (37), ’n skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap is een van die tien boere wat liefde in die 17de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind. Hy wil graag ’n vroulike pasmaat vind.
Dié boer van digby Protem hou daarvan om mense gelukkig te maak. Koffie en beskuit is sy brandstof om die oggend mee aan die gang te kry. Sy oupa-hulle het op die plaas kom boer en toe volg sy pa. Dié het drie seuns, en nou’s dit ’n familieboerdery. Nicolaas droom daarvan om sy eie kinders hier te sien grootword.
Hy het ’n interessante benadering rondom sy humeur. “Voordat ek kwaad raak, dink ek eers aan ’n ding. Dink ek, jis, is dit nodig om kwaad te raak? Nee, dit het nou gebeur, hoekom raak jy kwaad? Dit help nie jy raak kwaad nie. As ek kwaad raak, raak ek vir myself kwaad en vergewe ek myself makliker as iemand anders,” lag hy.
Hy sê hy het al ’n paar goed gedoen in die lewe, en dis nou tyd om anker te gooi met iemand wat met hom kan deel. Hy dink Boer soek ’n vrou is ’n goeie plek om mense te ontmoet en wat moet gebeur, sal gebeur.
“Ek geniet die lewe. As ek ’n kans kry om ’n ding te doen, dan sê ek nie nee nie. As hulle my vra of ek wil gaan toer, sê ek ‘yes, wanneer, waar, hoe laat?’ Dan maak ek ’n plan rondom dit, want die lewe is kort.”
Só beskryf hy homself:
Hy hou daarvan om mense gelukkig te maak en is ook lojaal, hardwerkend, doelgerig, avontuurlustig.
Belangstellings:
Behalwe dat hy maklik op die ingewing van die oomblik iets saam met vriende of familie sal takel, is hy lief vir die buitelewe. Hy geniet dit om te boer, vis te vang, fiets te ry en te jag.
Wil jy vir ’n boer skryf?
Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 20 November ingedien word.
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.
Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom.
Wanneer is dit op die kassie?
Reandi Grey bied vir die eerste keer Boer soek ’n vrou aan, en dié maatsoekreeks sal vanaf Augustus 2025 op kykNET uitgesaai word.