Rudi H (56), is ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap. Hy is een van die tien boere wat liefde in die 17de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind. Hy soek graag ’n vroulike pasmaat.
Die afgelope 35 jaar is hy en sy broer saam in die bedryf, en gedurende die laaste drie jaar is hulle besig om ’n boerbokkudde op te bou. Dan is daar ’n paar beeste en drie donkies, en as die pryse beter is, gaan die delwery weer aan die gang gesit word.
Op die plaas word daar net vis gevang, nie wild gejag nie. Maar nou het die seisoen aangebreek om die visier wel in te stel. Ja, erken Rudi H, dis tyd om vrou te kry. Hy het nog nooit die paadjie na die kansel gestap nie. Hy sê hy’s nie meer jonk wanneer mens “vol nonsens is, en goed nie,” en hy sal regtig graag sy sielsgenoot wil kry.
Hy het wel ’n dogter wat ’n goeie verhouding met haar ma het, maar hy wil hê sy moet ook van sy kant af ervaar hoe goed ’n verhouding kan wees. Rudi H sê hy was 39 toe hy pa geword het. Sedert haar hoërskooljare aangebreek het, bly sy dogter by hom, en hy voel dit verryk sy lewe geweldig.
“Ek is lief vir jou” is nie vir hom goedkoop woorde nie. En dis woorde wat hy baie min in sy lewe al gebruik het. Wanneer hy dit vir iemand sê, sal dit wees omdat hy dit uit sy hart uit bedoel.
Hy sien uit daarna om met iemand te kan praat, in die aand of oggend of saam te kuier – om net weer saam met iemand iets te kan doen. Hy soek ’n sielsgenoot met wie hy ook vriende kan wees, iemand in sy ouderdomsgroep.
“Ek glo as julle onmiddellik kliek, dan is dit die regte persoon,” sê die boer wat beslis in die liefde glo.
Só beskryf hy homself:
Hy erken een van sy slegste eienskappe is om verwaarloosde honde bymekaar te maak. Andersins is hy impulsief, lojaal, emosioneel, ’n pa en iemand wat familie waardeer.
Belangstellings:
Werk is vir hom nou prioriteit en om pa vir sy dogter te wees. Hy hou ook van stap, road trips, visvang en lekker kuier. Familie is vir hom belangrik, en dan is daar natuurlik die diere wat baie diep in sy hart ingekruip het.
Wil jy vir ’n boer skryf?
Diegene wat vir een van die hubare boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 20 November ingedien word.
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur na een van dié twee adresse: Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Privaatsak X15, Somerset-Wes 7129 OF
Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130.
Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom.
Wanneer is dit op die kassie?
Reandi Grey bied vir die eerste keer Boer soek ’n vrou aan. Dié maatsoekreeks sal vanaf Augustus 2025 op kykNET uitgesaai word.