45 toekennings vir Multichoice, 34 vir Showmax, 19 vir Netflix – die room van Suid-Afrika se shows en flieks is onlangs by die 2023 Safta-toekennings vereer. Onder die groot wenners was kykNET se Hotel, Showmax se Tali’s Joburg Diary en die plaaslike Netflix-treffer, Silverton Siege.
Die 17de Safta-toekennings, wat die beste plaaslike produksies vereer, volg op die Silwerskermtoekennings wat in Augustus vanjaar vir die eerste keer ook TV-produksies ingesluit het. In vorige jare het die Silwerskermtoekennings slegs plaaslike flieks in oënskou geneem.
Terwyl Tali’s Joburg Diary en Hotel se vyfde seisoen die grootste oorhoofse Safta-wenners was, het die kykNET-sepie Binnelanders, die telenovela Legacy, en Scandal! gelykop gespeel met drie pryse elk.
Uit die lang lys van vanjaar se benoemings en wenners, het ek enkeles vir jou kyklys uitgesonder.
Hier is dus my redakteurskeuse vir Oktober 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Hotel S5
Hotel speel af by die fiktiewe (en super-substandaard) Fransen Hotel in die ewe fiktiewe dorpie van Fransenberg in Mpumalanga. Eens op ’n tyd was dié hotel die dorp se trots. Nou…not so much. Tog probeer die koddige groep (vreeslik onbekwame) personeel hul bes om die hotel se deure oop te hou.
Met die aanvang van die reeks se vyfde – en laaste – seisoen, heropen die Fransen Hotel weer sy deure nadat dit (wonder bo welke wonder) die impak van Covid-19 oorleef het. Ook maar net-net. Nie dat daar veel gaste is om terug te verwelkom nie…
Watkykjy het die reeks vroeër só op terloops beskryf:
“Daar was sedert Orkney Snork Nie in die laat-tagtigs weinig Afrikaanse komediereeks met karakters wat Suid-Afrikaners so laat skater én so diep in ons harte gekruip het – dis nou totdat Hotel sowat vyf jaar terug sy buiging op die kassie gemaak het.
“Alle goeie dinge moet egter mos op een of ander tydstip tot ’n einde kom, maar dit maak effens seer wanneer die beste dinge tot ’n einde kom – en hierdie gesogte Afrikaanse mockumentary-komediereeks is van daai tipe klas beste dinge wat die Suid-Afrikaanse TV-landkap betref.”
Safta-toekennings vir Hotel S5:
- Beste klank in ’n TV-komedie
- Beste kunsregie van ’n TV-komedie
- Beste kinematografie in ’n TV-komedie
- Beste akteur in ’n TV-komedie (James Borthwick as Ferdie)
Stroom al vyf seisoene nou op Showmax.
Sex in Afrikaans
Sex in Afrikaans het met sy debuut op 14 Februarie 2022 ’n nuwe rekord daargestel vir die Afrikaanse program met die meeste first-day views. Jip, dit het selfs Devilsdorp se kykertalle uitgestof.
As dit enigsens iets met seks te doen het, gaan jy dit in dié dokumentêre reeks sien.
In Sex in Afrikaans lei die kliniese sielkundige en seksuoloog Bradley Daniels openhartige gesprekke met vier Afrikaanse paartjies en twee enkellopendes. Dié klomp deel onder meer hul eie seksuele voorkeure en ervarings, terwyl hulle ook praat oor seks in die breë. Dié gesprekke word afgewissel met onderhoude wat gevoer is met sekswerkers, swingers, dominatrixes, ’n fopdosser, ’n dungeon master (jy sal maar self moet kyk), mense wat soos babas aantrek vir hul seksuele plesier en ander wat vollengte latex-pakke verkies – en nog vele ander.
Christiaan Boonzaaier het in sy resensie die dokumentêre reeks só beskryf: “Laat dit sommer uit die staanspoor gestel word: Buiten die Afrikaanse mans wat doeke dra om seksueel geprikkel te word, word daar nie op enige ander plek in die reeks doekies oor die onderwerp omgedraai nie. Hier word, eintlik vir die eerste keer, rondborstig oor seks gepraat en die naakte waarheid oor Afrikaanssprekendes se sekslewens ontbloot… Dit kan loshande Suid-Afrika se mees omstrede TV-inhoud gedoop word.”
Die TV-aanbieder en -vervaardiger Rian van Heerden is die reeks se skepper en verteller.
Safta-toekenning vir Sex in Afrikaans:
- Beste gestruktureerde of doku-werklikheidsreeks
Stroom dit nou op Showmax.
Donkerbos
Die Showmax-rillerdrama Donkerbos draai om ’n angswekkende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in ’n klein dorpie in Limpopo. Erica Wessels – wat ’n Silwerskermtoekenning vir haar Donkerbos-spel gewen het – vertolk die hoofrol. Sy speel Fanie van Wyk, ’n speurder wat drie jaar tevore onder ’n donker wolk uit Pretoria ná ’n rampspoedige ondersoek gevlug het. Nou moet sy dié haglike saak probeer ontsyfer. Ook in die rolverdeling is Wilhelm van der Walt, Jacques Bessenger, Leandie du Randt en Edwin van der Walt. Laasgenoemde het ook ’n Silwerskermtoekenning as beste akteur in ’n dramareeks vir Donkerbos gewen.
André-Pierre du Plessis het die regisseur, Nico Scheepers, se werk só in sy resensie ontleed: “Terwyl hopeloos te veel televisiereekse deesdae te veel dialoog insluit, het Scheepers die kuns vervolmaak om met ’n enkele klanklose skoot ’n karakter vir die kyker op te som. Natuurlik help dit dat Donkerbos ’n sterk rolverdeling insluit, maar die kinematografie in hierdie nuwe Showmax-reeks is iets besonders. Donkerbos is – buiten die Scheepers se toorwerk – dalk ook die kyk werd bloot om te herinner hoe mooi ons plaaslike landskap is.”
Safta-toekennings vir Donkerbos:
- Beste klank in ’n TV-drama (Jozua Loots)
- Beste regie van ’n TV-drama (Nico Scheepers)
Stroom dit nou op Showmax.
Tali’s Joburg Diary
Die Tali-franchise ken van pryse wen – dit het immers reeds voor vanjaar se toekennings reeds tien Saftas op sy kerfstok gehad. Tali’s Joburg Diary volg op die uiters gewilde Tali’s Wedding Diary en Tali’s Baby Diary waarin ons eers Tali (Julia Anastasopoulos) se troue-manewales en toe haar swangerskap-dramas kon meemaak. Terwyl die franchise die grootste komedie-wenner in 2019 en 2022 was, sit Tali’s Joburg Diary se vier toekennings vanjaar vir hulle op gelyke voet met Hotel, wat ook vier pryse ingepalm het.
As Tali het Julia (ook bekend as SuzelleDIY) reeds twee keer die Safta vir beste aktrise in ’n komedie gewen. Haar man en medeskepper van die reeks, Ari Kruger, het ook as beste regisseur vir beide die vorige seisoene gewen.
Tali’s Joburg Diary sien hoe Tali, manlief Darren (Anton Taylor) en kleuter Jayden noodgedwonge terug Joburg toe moet trek. Tali se (finansiële) appelkar is omgegooi, jy sien. Bankbalanse is in die rooi, en beurtkrag is nie al rede hoekom hul ligte af is nie. Die tog terug Joburg toe beteken ook dat Jayden by ’n kleuterskool ingeskryf moet word – ’n kompetisie-arena soos min. Maar Tali skrik nie vir enige “yummy mummy” nie…
Safta-toekennings vir Tali’s Joburg Diary:
- Beste kostuums in ’n TV-komedie (Erin Simon)
- Beste draaiboek van ’n TV-komedie (Julia Anastasopoulos, Ari Kruger, Gilli Apter en Daniel Zimble)
- Beste regie van ’n TV-komedie (Ari Kruger)
- Beste vroulike byspeler in ’n TV-komedie (Kate Normington as Michelle Shapiro, Tali se ma)
Stroom dit nou op Showmax.
Gaia
Die ekologiese gruwelprent vertel die verhaal van ’n boswagter (Monique Rockman) wat in die bos beseer, en dan deur twee off-the-grid survivalists (Carel Nel en Alex van Dyk) gered word. Sy kom egter gou agter dat iets vreemd met dié twee aan die gang is…
Dié fliek, wat in die Tsitsikamma Nasionale Park afspeel, is geskryf deur Tertius Kapp, met regie deur Jaco Bouwer – ’n fenomenale span.
Gaia het in 2022 by die Silwerskermfees sy plaaslike debuut gemaak terwyl sy internasionale première ’n jaar vantevore by die SXSW-fees in Austin, Texas, was.
Gaia het die prys vir beste kinematografie by SXSW, sowel as die toekennings vir beste rolprent, regisseur, redigering, klankontwerp en hare en grimering by die Silwerskermfees gewen.
Die riller het ’n punt van 85% op Rotten Tomatoes en het wyd lof ingebesoem – soveel so dat dit onder meer as deel van Forbes en Variety se lys van die beste gruwelflieks van die jaar ingesluit is.
Guy Lodge van Variety skryf in sy resensie só daaroor: “As ’n prestasie van noukeurig verbeelde, ekonomies gerealiseerde wêreldbou, voer Gaia egter tot die einde mee, en maak die meeste van die natuurlike hulpbronne tot sy beskikking soos dit sy eie dromerige, tasbare beelde bou.”
Safta-toekennings vir Gaia:
- Beste fliek
- Beste regie van ’n fliek (Jaco Bouwer)
- Beste oorspronklike musiek of klankbaan in ’n fliek
- Beste kinematografie (Jorrie van der Walt)
Stroom dit nou op Showmax.
Silverton Siege
Dié fiktiewe hervertelling van die werklike gyselaarsdrama wat in 1980 in Pretoria afgespeel het, het al wyd lof ingeboesem.
Common Sense Media se Brian Costello skryf só daaroor in sy resensie: “Dit (die fliek) opper ongemaklike vrae oor wat mense bereid is om vir vryheid, gelykheid en geregtigheid te doen, wat ’n reeds fast-paced aksiefliek net soveel beter maak.”
In Silverton Siege, wat op die ware verhaal van Wilfred Mandela, Humphrey Makhhubu, en Stephen Mafoko, gegrond is, loop ’n trio anti-apartheid-vryheidsvegters se sabotasie-sending lelik skeef. Hulle soek dan binne ’n bank skuiling, maar dié besluit loop op ’n gewelddadige gyselaarsdrama uit, met die groep wat Nelson Mandela se vrylating eis.
In die fliek is die drie mans na ’n trio van twee mans en een vrou verander. Só ook is fiktiewe name gebruik: Calvin (Thabo Rametsi), Aldo (Stefan Erasmus) en Terra (Noxolo Dlamini).
terloops het vroeër só oor die fliek geskryf: “Stereotipies van dié genre, word twee soorte polisiemanne tydens die apartheidsjare teen mekaar gekontrasteer. Arnold Vosloo is in die rol van ’n “goeie” wit polisieman wat die vryheidvegters se oortuigings respekteer met ’n “slegte” wit polisieman (Justin Strydom) wat sy besluite teenstaan.”
Safta-toekennings vir Silverton Siege:
- Beste grimering en haarstilering in ’n fliek (Nicola Roodt)
- Beste kostuumontwerp in ’n fliek (Ruy Filipe)
- Beste klankontwerp in ’n fliek (Barry Donnelly)
- Beste redigering in ’n fliek (Richard Starkey)
- Beste produksieontwerp in ’n fliek (Chantel Carter)
- Beste aktrise in ’n fliek (Noxolo Dlamini as Mbali Terra)
Stroom dit op Netflix.