Carel Nel vertel meer oor sy karakter, Eddie, in die nuwe Showmax Original-rillerreeks, Pulse.
Die reeks draai om ’n groep videospeletjie-ontwikkelaars wat besef dat oorlewing in die regte wêreld allesbehalwe ’n speletjie is as ’n elektromagnetiese polsbom die elektriese stroombane in hul kantoorgebou verskroei… Só ook diegene binne die gebou se gesonde verstand.
Hoe het die toneelgogga jou gebyt?
Ek het op skool begin toneelspeel. Ek was baie sleg met sport, en boonop toondoof, so ek kon nie in die koor sing nie. My Engels-onderwyser het voorgestel dat ek probeer om in ‘n toneelstuk te speel. Op die openingsaand het ek gedink, “O, wag ’n bietjie, ek is nie sleg hiermee nie.” So toe gaan studeer ek drama en teaterkuns.
Hoe sou jy Pulse beskryf?
’n Klomp videospeletjie-ontwikkelaars werk tot laat in die nag, maar dan is daar ’n elektromagnetiese polsbom wat hulle basies in hulle eie speletjie plaas. Amper soos die lewe wat kuns naboots. Hulle moet probeer uitwerk wat aan die gang is, en hul pad uit die gebou veg. Elke vlak (verdieping) het sy eie uitdagings, net soos in ‘n videospeletjie.
Hoe sou jy jou karakter beskryf?
Eddie is ’n sekuriteitswag in die gebou. Hy is ’n massiewe aanhanger van videospeletjies. Hy is soos ’n Blou Bulle-ondersteuner van speletjies. Hy is heeltemal versot op dié spesifieke speletjie en wil so na as moontlik aan dit wees. Hy het ’n ongesonde obsessie met die speletjie se ontwikkelaars en hy het toegang tot CCTV-kameras, so hy kan sien wat hulle doen. Hulle werk aan ’n nuwe weergawe van die oorspronklike speletjie, en hy is nie gelukkig daarmee nie. Hy wou hê hulle moet meer oorspronklik wees, dit verder vat en dit selfs beter maak. So hy is nogal teleurgesteld met dit waarmee hulle besig is.
Wat het jou na die projek toe gelok?
Ek het al voorheen saam met die regisseur (veelbekroonde Sallas de Jager van Dominee Tienie en Free State-faam) gewerk. Hy het my so twee jaar gelede gekontak, net aan die begin van die pandemie. Hy het gesê hy wil hê ek moet ’n oudisie doen vir die reeks, en hy het vir my van die tekste gestuur.
Ek het na die karakter gekyk, en dis ’n baie prettige, cool karakter. Hy’s ’n slegte ou, daar is baie kinkels en verrassings, en hy is net gek. Ek is mal daaroor om vreeslike vreemde en andersoortige karakters te speel. Jy kan baie pret hê daarmee. Ek is altyd op soek na karakters wat anders is, waar ek myself werklik kan herontdek.
Watter soort navorsing moes jy doen om ’n obsessiewe videospeletjie-aanhanger te word?
Vir my was die essensie van Eddie om hom te verstaan. Sy obsessie met videospeletjies is iets wat ek verstaan. Ek speel self, en is ’n aanhanger. Die obsessie met speletjies was nie iets waaroor ek navorsing moes doen nie. Jy kan ’n obsessie hê met enige ding. Hy het ander sielkundige probleme wat ek deeglik nagevors het. Hy trek sy hare uit sy kop uit, en daar is kwessies rondom sy ma. Ek het probeer om die essensie te vind van wie hy as mens is, en waarom hy optree soos hy optree.
Jy het genoem dat jy videospeletjies speel; watter speletjies speel jy?
My gunstelinge die afgelope paar jare was The Last of Us 1 en 2. Ek was mal oor daardie twee. Ek speel ook Warzone aanlyn met my vriende. Ons speel ook FIFA. Speletjies is wonderlik, veral gedurende die pandemie. Dis ’n manier om te sosialiseer en ’n vorm van vermaak.
Waarom dink jy het videospeletjies so ’n fokuspunt geraak in die storielyne van TV-reekse en rolprente?
Ek dink dit kom aan die einde van die dag neer op geld. Die videospeletjie-bedryf is groter as die film- en TV-bedryf gekombineerd, in terme van die hoeveelheid geld wat dit genereer.
Die storievertelling-aspek van videospeletjies het geweldig verbeter oor die afgelope nege jaar. Die skrywers van speletjies is ongelooflik. Ek ken skrywers wat speletjies speel as gevolg van die storielyne.
Wat was vir jou die moeilikste deel van die verfilming?
Om in die pandemie te werk was moeilik. Daar was konstante angs dat ’n mens Covid gaan kry. Ons was almal ingeënt, maar as jy Covid gekry het, sou jy vir tien dae moes isoleer en dit sou ’n groot kwessie wees. Dit was die ergste angs vir my, want ’n mens wil verseker dat jy die werk kan klaarmaak.
Wat was vir jou die hoogtepunt van die verfilming?
Ek is mal oor my werk. Ek is regtig gek daaroor om te werk. Een van my beste vriende, Albert (Pretorius, van Nêrens, Noord Kaap), het saam met my aan die reeks gewerk en dit was wonderlik. Ons is al vir twaalf jaar vriende en ons het nog nooit saam gewerk nie. Dit was ons eerste keer saam op stel en vir my was dit ’n persoonlike hoogtepunt.