Dié vyf plaaslike dokkie- en fiksiereekse tel onder terloops se topkeuses wat jy in 2022 kon (en steeds kan) stroom.
André-Pierre du Plessis skryf:
“Verborge geheime, lewelose, koplose kinders in die diepe, donker bos, karakters wat sonder woorde ’n onheilspellende wêreld blootlê – dís die boublokke van Nico Scheepers se uiters aangrypende rillerreeks, Donkerbos.”
Lees meer oor Donkerbos.
Kyk aanlyn op Showmax.
Onderhoude met die ‘Donkerbos’-spelers
André-Pierre du Plessis skryf:
“Dis hoogtyd dat iemand ’n ordentlike dokumentêre reeks oor Suid-Afrikaanse sakenuus vervaardig. Showmax se Steinheist is hopelik bloot die begin van ’n stewige nuwe plaaslike genre. Steinheist verduidelik oor drie episodes nie net hoe slinks Markus Jooste, Steinhoff se voormalige hoof, vermoedelik was nie. Dit probeer ook uitwys hoe ander hulself blindgestaar het vir etlike rooi vlae. Soos dié rondom kammatransaksies wat deur fluitjieblasers uitgewys is – en uiteindelik tot die maatskappy se ineenstorting gelei het.
“Dis duidelik dat die vervaardigers van Steinheist lank en hard nagedink het oor hoe hulle die Steinhoff-storie moet vertel sonder om jou te vlak te kyk, te veel te verveel of te min inligting weer te gee. Die sakejoernalis Fifi Peters pop elke nou en dan in om te verduidelik hoe Jooste byvoorbeeld finansiële reëls omseil het sonder dat kenners dit noodwendig kon raaksien. Sy bring ’n tipe gesofistikeerdheid en gravitas wat van Steinheist voorgeskrewe materiaal maak vir elke universiteitsklas oor sakejoernalistiek.”
Kyk die dokkiereeks aanlyn op Showmax.
Desert Rose
Riëtte van der Wat skryf:
“Desert Rose, wat geskep, geskryf en vervaardig is deur Rohan Dickson, wentel om die Greyling-kinders wat met ʼn ysere wil veg om oorlewing op ʼn plek waar selfs die landskap vyandig voel. Die Greylings lewe nie eintlik nie. Hulle oorleef net. Die slim gebruik van waskommetjies en staalbaddens van ouds; ʼn vuur wat in ʼn herd brand en die vervallenheid van die plaashuis wat veronderstel is om hulle erfenis te wees, sinspeel als hierop.
“Die regisseur Cindy Lee skep ʼn ragfyn spanningslyn wat reeds in die openingstonele begin tril met die afwagting van onheil. Dit is in die intense sweet wat op die lywe van die karakters uitslaan; in die benouende donkerte van ʼn woonwa en in ʼn bottel suur melk as die voorloper van slegte nuus.
“Odes aan die Amerikaanse Western is volop. Wees veral op die uitkyk vir karakters wat in silhoeët in die raam van oop deure vasgevang word, oorgehaalde vuurwapens oor die skouer.”
Lees die volle resensie asook ons onderhoud met die aktrise Amalia Uys, een van die reeks se hoofspelers.
Die reeks is vroeër vanjaar op M-Net uitgesaai – hopelik (en na verwagting) vind dit ook binnekort sy pad na Showmax.
Dinge van ’n Kind
Riëtte van der Wat skryf:
“Die opwindende TV-verwerking van Marita van der Vyver se roman bly getrou aan die bronmateriaal, maar gee ook nuut-verbeelde storielyne hedendaagse diepte aan ʼn verhaal wat na byna 30 jaar steeds relevant is. Met Dinge van ʼn kind het regisseur Quentin Krog en sy kollegas weereens vermag om sterk, relevante televisie in Afrikaans te skep.
“Die storie van Die dinge van ʼn kind is steeds ʼn eerlike blik op ʼn komplekse tydvak in Suid-Afrika wat ʼn lewenslange impak op mense gelaat het. Maar meer nog, ʼn rou vertelling van die ongemaklike mensword-ervarings van die tienerjare. Dit was seker net ʼn kwessie van tyd voor dit ook vir die skerm verwerk is. In haar nuwe skoolskoene, as televisiereeks vir kykNET, word daar nie ingeboet op Dinge van ʼn kind se eerlikheid nie. Dit is in 2022 net so relevant soos toe dit gepubliseer is. ’n Mens hou gewoonlik asem op as ʼn gewilde boek vir die skerm verwerk word (dit kan maklik verkeerd uitdraai). Maar in hierdie geval het Krog en sy mede-regisseurs, Tinarie van Wyk-Loots en Zandré Coetzer, getrou gebly aan die bronmateriaal, terwyl hulle ook vernuwend daarmee te werk gegaan het.
“Daar is etlike tonele in die eerste vier episodes wat lyk soos wat ek dit met die lees verbeel het. Die eerste skote in Mart se koshuiskamer wanneer haar ma haar daar aflaai, gee mens hoendervleis. Tog word die verhaal baie sinvol tot in ons hedendaagse konteks verplaas deur ʼn derde tydperk van Mart se lewe, haar sestigs, by die storie in te skryf, iets waarvan ʼn mens nie lees in die boek nie.”
Lees ook die volle resensie. Van der Wat het ook heerlike onderhoude met die spelers gehad wat in een storie hier saamgevat is.
Die reeks is vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai – hopelik (en na verwagting) vind dit ook binnekort sy pad na Showmax.
Onderhoude met die ‘Dinge van ʼn kind’-akteurs
Mienke Ehlers oor Dalena en ‘Dinge van ʼn kind’: ‘Ek kan nie genoeg dankie sê vir dié mooi storie nie’
‘Nuwe’ hoofstuk is integrale deel van ‘Dinge van ʼn kind’, sê aktrise Kim Syster
Cintaine Schutte oor haar lang pad met Mart in ‘Dinge van ʼn kind’
Susanne Beyers oor haar rol in ‘Dinge van ʼn kind’: ‘Ouerskap het alles beïnvloed’
Ludwig Binge oor die ‘nuwe’ hoofstuk in ‘Dinge van ʼn kind’
Christiaan Boonzaier skryf:
“Showmax se nuwe dokumentêre reeks, Sex in Afrikaans, kan loshande Suid-Afrika se mees omstrede TV-inhoud gedoop word. In ses breedvoerige en deeglik nagevorste episodes is Afrikaanssprekendes en seks onder die loep. Kykers kry ’n kykie na dít wat werklik in die diepnag agter dié geslote deure gebeur.
“Laat dit sommer uit die staanspoor gestel word: Buiten die Afrikaanse mans wat doeke dra om seksueel geprikkel te word, word daar nie op enige ander plek in die reeks doekies oor die onderwerp omgedraai nie. Hier word, eintlik vir die eerste keer, rondborstig oor seks gepraat en die naakte waarheid oor Afrikaanssprekendes se sekslewens ontbloot. Die reeks se ouderdomsbeperking is vir ’n goeie rede 18 weens geweld, naaktheid, seks en taal…
“Die eindproduk kan vir ooglopende redes as “kriewel-kykstof” geklassifiseer word – inhoud wat jou só laat lag, huil, bloos of ongemaklik maak dat jy soms van begin tot einde in jou stoel rond skuifel.”
Kyk die dokkiereeks aanlyn op Showmax.